Daar Staan GeskryweVoorbeeld

It Is Written

DAG 12 VAN 31

Verdryf die Vyand

deur Robert Morris

In Markus 4 vertel Jesus een van sy bekendste gelykenisse, die saaier. In vers 7 praat Jesus oor die saad, wat die Woord van God verteenwoordig. Hierdie sade is tussen dorings geplant, wat hulle verstik het en daarvan weerhou het om vrug te dra. Die dorings in hierdie gelykenis is simbolies. Kom ons kyk wat dit verteenwoordig.

In 2 Korintiërs 12:7 sê Paulus: "... is daar vir my 'n doring in die vlees gegee, 'n boodskapper van Satan om my met vuiste te slaan." Ons lees dat die doring in hierdie Skrifgedeelte 'n boodskapper van die Satan of 'n bose gees verteenwoordig. Wat interessant is, is dat Paulus — wat 'n Godvresende lewe geleef het, die grootste apostel was wat nog ooit geleef het en 'n derde van die Nuwe Testament geskryf het — deur 'n bose gees geteister is. Dit bewys dat dit nie saak maak wie jy is of waar jy op jou reis saam met God is nie, dorings sal altyd probeer om die Woord van God in jou lewe te verstik.

Wanneer Jesus die gelykenis in Markus 4:13-20 (NLV) vir sy dissipels herhaal, sê Hy dit 'n bietjie anders: "Daardie mense by wie tussen die dorings gesaai is, staan vir die mense wat die woord hoor, maar die bekommernisse van hierdie lewe en die lokstem van die rykdom en die hunkering na allerhande goed verstik gou die woord, en dit bly sonder vrug." Met ander woorde, die Satan stuur dorings op ons pad om die Woord van ons te steel.

Dis hoekom ons die dorings moet verwyder. Numeri 33:55 sê: "As julle nie al die inwoners van die land verdryf nie, sal dié van hulle wat oorbly, soos splinters in julle oë en soos dorings in julle sye wees. Hulle sal teen julle oorlog maak oor die land waarin julle woon." As jy 'n gelowige is en in die beloofde land wil woon, moet jy die vyand verdryf. Baie mense dink dat die beloofde land die hemel verteenwoordig, maar dit verteenwoordig eintlik 'n oorwinnende Christelike lewe en oorlog teen die vyand, sodat ons in die land van melk en heuning kan leef. As ons nie van die vyand ontslae raak nie, sal ons dorings in ons lewens hê wat ons teister.

Wat is hierdie dorings in jou lewe? Dalk bitterheid, onvergewensgesindheid, wellus, trots of woede? Al is jy 'n Christen kan hierdie dorings, en bose magte wat hulle verteenwoordig, in jou lewe opdaag. God het ons egter die enigste wapen, sy Woord, gegee om vir altyd van die dorings ontslae te raak en in vryheid te leef.

Gebed

Vader, dankie dat U die saad van die Woord in my hart plant. Openbaar aan my waar dorings u Woord verstik en keer dat dit vrug dra in my lewe. Help my om die vyand uit daardie terreine te verdryf. In die Naam van Jesus. Amen.

Geheuevers

"Deur die Woord van die Here is die hemele gemaak en deur die Gees van sy mond hulle hele leër" Psalm 33:6. (AFR53).

Aangaande hierdie leesplan

It Is Written

Hierdie 31-dag oordenking, wat saamgestel is uit die onderrig van pastore Robert Morris en Marcus Breechen van Gateway Church, fokus op die belangrikheid om die Woord van God in jou alledaagse lewe te hê. Elke dag onthul wat die Woord is — asem, brood, water, 'n swaard en 'n lamp — en hoe om dit in jou lewe toe te pas. Terwyl jy lees, sal jy geïnspireer word om nader aan God te kom en sy Woord daagliks in jou hart te bêre.

More

Ons wil graag dankie sê vir Gateway Church wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting, besoek gerus: https://gatewaypeople.com