Daar Staan GeskryweVoorbeeld

Sy Woord Het Krag
deur Robert Morris
Vandag gaan ons voort met die verhaal van Esegiël en die vallei van droë bene. In Esegiël 37 (NLV) het God se asem die bene wat daar rondgestrooi gelê het, bymekaar gebring. In vers 8 van dieselfde hoofstuk, het God se asem senings, of ligamente en spiere oor die bene gevorm. Hier sien ons dat die woord van God letterlik vir die liggaam krag gegee het en dit toegelaat het om saam te werk. Kom ons kyk na 'n paar ander verse wat die krag van God se asem, sy woord, demonstreer.
In Eksodus 15 (NLV), wat ook die lied van Moses genoem word, is die Israeliete besig om tot eer van God te sing, omdat Hy die Rietsee in twee gekloof het sodat hulle van die Egiptenare kon ontsnap. Verse 8 en 9 sê: "U het op die water geblaas en dit het opgedam! Die water het opgestapel soos ’n muur; waters in die middel van die see het soos ys gestol. Die vyand het gesê: 'Ek sal hulle agternasit; ek sal hulle inhaal en vernietig, ek sal hulle plunder; ek sal my op hulle wreek, ek sal my swaard uitpluk; ek sal hulle met geweld verwoes.'" Dis wat die vyand ook oor jou en my sê. Hy wil ons inhaal en vernietig.
Lees wat dit egter in vers 10 sê: "Toe U op die see geblaas het, het die see oor hulle gespoel. Hulle het soos lood gesink in die massas water." Dink 'n bietjie daaroor — God se asem is kragtiger as die vyand se hand en swaard en deur sy Woord het jy toegang daartoe!
God se asem hoef net een keer te blaas om die seë in jou lewe oop te kloof. As dit voel of die vyand jou jaag, of as jy 'n berg in jou lewe het wat verskuif moet word, het God se asem al die krag wat jy nodig het; dit kan lewe in enige situasie blaas. Kyk byvoorbeeld na Esegiël. In Esegiël 37:10 profeteer hy dat asem in die liggame moet kom. Toe hy dit doen het die liggame begin asemhaal. Hou in gedagte dat Esegiël nie sy eie woorde gebruik het nie; maar hy het die Woord van God gespreek. Ons kan dieselfde met ons lewens doen. Wanneer ons die Woord van God spreek, word die asem van God in ons omstandighede ingeblaas. Of dit nou jou huwelik, gesin, gesondheid of besigheid is, die Woord van God kan lewe daarin blaas. Ek wil jou aanmoedig om elke dag die Woord van God te eet, te drink en in te asem. Dit sal vir jou krag en lewe bring.
Gebed
Vader, dankie dat die vyand geen krag oor u Woord het nie. Daar is terreine in my lewe wat 'n wonderwerk nodig het. Dankie dat u Woord kragtiger is as enige moeilikheid in my lewe. Here, blaas u krag in my lewe in. In die Naam van Jesus. Amen.
Geheuevers
"Deur die Woord van die Here is die hemele gemaak en deur die Gees van sy mond hulle hele leër" Psalm 33:6 (AFR53).
Aangaande hierdie leesplan

Hierdie 31-dag oordenking, wat saamgestel is uit die onderrig van pastore Robert Morris en Marcus Breechen van Gateway Church, fokus op die belangrikheid om die Woord van God in jou alledaagse lewe te hê. Elke dag onthul wat die Woord is — asem, brood, water, 'n swaard en 'n lamp — en hoe om dit in jou lewe toe te pas. Terwyl jy lees, sal jy geïnspireer word om nader aan God te kom en sy Woord daagliks in jou hart te bêre.
More