Daar Staan GeskryweVoorbeeld

Laat Alles in Plek Val
deur Robert Morris
'n Paar dae gelede het ons vlugtig na die verhaal in Esegiël gekyk toe God hom na die vallei van droë bene gelei het. In Esegiël 37:7 (ABA) lees ons wat gebeur het toe Esegiël God se opdrag gehoorsaam het: "Ek het die boodskap vir die bene gebring soos die Here vir my gesê het. Terwyl ek dit gedoen het, het ek iets gehoor. Dit was 'n aardbewing. En toe kom al die bene na mekaar toe, elke been het gekom na die been wat by hom pas." Iets wat baie mense nie in hierdie verhaal raaksien nie, is dat dit 'n vallei van droë bene was … en nie 'n vallei van geraamtes nie. Die bene het los van mekaar gelê. Hulle is bymekaargesit toe God se asem gekom het nadat Esegiël die Woord van God geprofeteer het. Jy sien, God se asem is die woord van God. Dit wys vir ons dat die woord van God orde in enige situasie bring.
Psalm 33:6 (AFR53) sê: "Deur die Woord van die Here is die hemele gemaak en deur die Gees van sy mond hulle hele leër." Die woorde "woord" en "gees" of "asem" word hier om die beurt gebruik. Ons lees ook in Genesis 1:2-3 (NLV): "Maar die aarde was ’n vormlose, onbewoonbare massa, en die diep waters was toegevou in duisternis. Die Gees van God het oor die oppervlakte van die water gesweef. Toe beveel God: “Laat daar lig wees!” en dit was so." God het 'n bevel gegee en die aarde is uit niks gevorm. Hoeveel te meer dink jy kan God orde in jou lewe bring as Hy die heelal uit niks uit kon maak?
Ek weet nie of jy al ooit hieroor nagedink het nie, maar jy kan nie praat sonder asem nie. Toe God 'n bevel gegee het, het Hy sy asem gebruik en dit het die ding geskep wat sy woord gesê het. Die krag is in die asem; alle Skrif is deur God geïnspireer. Dit beteken dat die Bybel nie net 'n boek met woorde is nie; dis meer as woorde. Die Woord van God is sy asem en dit het krag.
Wanneer jy deur 'n moeilike tyd gaan en jy iets in die Skrif lees, is God se krag alreeds vrygestel om te doen wat sy woord sê, want Hy het dit uitgespreek. Sy woorde laat alles in plek val. Is daar vandag enige terrein in jou lewe wat orde nodig het? Die Woord van God het krag om alles in plek te laat val. Dit hou in der waarheid alles in stand (Hebreërs 1:3).
Gebed
Vader, dankie dat my lewe sonder U nie in orde is nie. Ek bid dat U enige terrein van my lewe wat deurmekaar en chaoties voorkom, tot orde sal roep. In die Naam van Jesus. Amen.
Geheuevers
"Deur die Woord van die Here is die hemele gemaak en deur die Gees van sy mond hulle hele leër" Psalm 33:6 (AFR53).
Aangaande hierdie leesplan

Hierdie 31-dag oordenking, wat saamgestel is uit die onderrig van pastore Robert Morris en Marcus Breechen van Gateway Church, fokus op die belangrikheid om die Woord van God in jou alledaagse lewe te hê. Elke dag onthul wat die Woord is — asem, brood, water, 'n swaard en 'n lamp — en hoe om dit in jou lewe toe te pas. Terwyl jy lees, sal jy geïnspireer word om nader aan God te kom en sy Woord daagliks in jou hart te bêre.
More