Daar Staan GeskryweVoorbeeld

It Is Written

DAG 9 VAN 31

Wysheid en Insig

deur Robert Morris

Kort nadat ek en Debbie getroud is, het ons gaan kamp. Ek is 'n gesertifiseerde skubaduiker en het besluit ek sou haar leer om te skubaduik. Ek het gedog 'n paar minute se instruksies sou genoeg wees en het haar 'n kort les gegee. Terwyl ons afduik, het sy besluit sy hou nie daarvan nie en het na die oppervlak begin beweeg. Om een of ander rede het sy haar masker afgehaal, haar paddavoete uitgeskop en haar mondstuk uitgespoeg. Sy het dadelik begin sink. Ek het haar na bo begin stoot en probeer om die mondstuk in haar mond te sit. Sy het paniekerig geraak en gedink ek was besig om haar ondertoe te trek. Sy het my begin skop en slaan. Uiteindelik het sy besef dat ek besig was om haar te help en sy het ophou teëstribbel. Dit was ons eerste bakleiery as 'n getroude paartjie en sy het nooit weer gaan duik nie.

Wat het daar gebeur? Spanning het in die prentjie gekom. Sy het paniekerig geraak toe sy nie kon asemhaal nie, sy het bang geword en nie verstaan wat aan die gebeur was nie. Dit gebeur met baie gelowiges wat nie die Woord van God lees nie.

Job 32:8 sê die gees van die Almagtige gee vir die mens insig. Hoeveel kere sê ons nie die volgende nie: "As ek net kon verstaan waardeur ek nou gaan" of "Ek weet nie wat God nou vir my probeer leer nie, maar ek weet Hy wil vir my iets leer." Met ander woorde, ons verstaan nie. Alleenlik die Woord van God kan ons help om te verstaan wat in ons lewe aan die gebeur is.

As Christene wend ons ons soms na die Woord om insig te kry, maar voel oorweldig of verward. Toe die dissipels nie Jesus se opstanding kon verstaan nie, het Hy hulle herinner dat die Woord vervul is. In Lukas 24:45 lees ons: "Toe open Hy hulle verstand om die Skrif te verstaan." Die Here wil nie net vir ons 'n woord gee nie, maar Hy wil ook hê dat ons dit moet verstaan. Dis goeie nuus, want hoe meer jy lees, hoe meer sal jy verstaan wat in jou omstandighede aan die gang is.

Om die Woord van God te lees is soos om die handleiding van die vervaardiger te lees. Kom ek vertel jou: God het jou kinders, gade, ouers en baas geskape. Slegs deur die Bybel te lees gaan ons onsself, ander mense en ons situasies verstaan. God wil vir ons wysheid en insig gee en sy Woord is die plek waar ons dit gaan vind.

Is dit nodig dat God lig werp op 'n sekere situasie in jou lewe? Staan vandag 'n tydjie af en vra Hom om jou te lei terwyl jy sy Woord lees.

Gebed

Vader, dankie vir u asem in my lewe. Gee my asseblief meer insig terwyl ek u Woord lees, sodat ek U in elke situasie in my lewe kan vertrou as ek spanning ervaar. In die Naam van Jesus. Amen.

Geheuevers

"Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry en verkeerdhede reg te stel" 2 Timoteus 3:16.

Aangaande hierdie leesplan

It Is Written

Hierdie 31-dag oordenking, wat saamgestel is uit die onderrig van pastore Robert Morris en Marcus Breechen van Gateway Church, fokus op die belangrikheid om die Woord van God in jou alledaagse lewe te hê. Elke dag onthul wat die Woord is — asem, brood, water, 'n swaard en 'n lamp — en hoe om dit in jou lewe toe te pas. Terwyl jy lees, sal jy geïnspireer word om nader aan God te kom en sy Woord daagliks in jou hart te bêre.

More

Ons wil graag dankie sê vir Gateway Church wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting, besoek gerus: https://gatewaypeople.com