Ons Berei Ons Harte Voor Vir Paasfees: 'n Oordenking Tydens die VastydVoorbeeld

Preparing Our Hearts for Easter: A Lenten Devotional

DAG 4 VAN 40

Dag 4: Die Toets

Hierdie is een van die bekendste sowel as moeilikste gedeeltes in die Bybel. Abraham word in Genesis 12 bekendgestel as die een deur wie “al die volke van die aarde” geseën sal wees (Genesis 12:1-3). Die verhaal wat begin het by God se opdrag aan Abraham om sy tuiste te verlaat, bereik nou in dié gedeelte 'n dramatiese hoogtepunt. God toets nou Abraham se geloof en sy bereidwilligheid om die grootste offer te bring — om sy eie seun te offer. Die pyn en hartseer van hierdie oomblik word verskerp deur die feit dat Abraham en sy vrou, Sara, lank gevat het om God se belofte van 'n seun te sien waar word. God se belofte van 'n nasie wat deur hulle familie tot stand sou kom, het onmoontlik gelyk vir Abraham en Sara, siende dat hulle al te oud was om kinders te hê.

Noudat hulle gebed verhoor is, vra God vir Abraham om iets te doen wat baie wreed en irrasioneel voorkom. Hoe kan God 'n volk tot stand bring deur die offer van Abraham se enigste erfgenaam? Hoe kan hierdie dood lei tot die seëninge wat in Genesis 12 beloof word? Die antwoord kom as ons van die gebeure in Abraham se lewe aanbeweeg na die gebeure in die lewe van Jesus.

Terwyl jy hierdie verhaal van geloof en opoffering oordink in voorbereiding vir Paasfees, neem tyd om na te dink oor hoe dit 'n voorafskadu is van Jesus se geloof en opoffering. Abraham se verklaring dat God self die offerlam sal voorsien (Genesis 22:8), herinner ons aan God se geskenk van die Lam wat die wêreld sou verlos (Markus 10:45; Johannes 1:29, 36). God se voorsiening van die ram op die berg Moria is 'n voorafskadu van die offer van sy enigste seun, Jesus Christus — die ware Lam sonder sonde wat in ons plek aan die kruis gesterf het. Net soos Isak, is Christus die lam wat geslag is, maar anders as Isak, het Jesus nie sy mond oopgemaak nie. Net soos Isak die hout gedra het vir sy eie altaar, het Jesus sy eie houtkruis gedra (Johannes 19:17). Gaan lees weer die gedeelte en vestig jou oog op Jesus, die Begin en Voleinder van jou geloof (Hebreërs 12:2).

Gebed

Heilige Vader, ek dank en prys U dat U u enigste Seun na die wêreld gestuur het. Gee my geestelike oë om die skoonheid en volmaaktheid van Jesus te sien, die vlekkelose Lam wat Homself gewillig opgeoffer het, sodat ek vergifnis en 'n nuwe lewe kan ontvang. En mag ek, in lig van u genade, 'n lewe lei van geloof en vertroue in u goedheid en help my om my lewe te offer in diens aan ander. In die Naam van Jesus. Amen.

Kopiereg (c) 2012 deur Redeemer Presbyterian Church.

Aangaande hierdie leesplan

Preparing Our Hearts for Easter: A Lenten Devotional

Wat is die Vastydperk? Dit is die tyd wanneer ons in afwagting is vir die oorwinning wat die lig en lewe van Christus oor die duisternis van sonde en dood gebring het. Soos ons die gebeure volg van Aswoensdag tot Paasfees, word ons herinner aan die werklikheid van ons swakheid en God se verlossende genade.

More

Hierdie oordenking is geskep deur die personeel van die Redeemer Presbyterian Church en is oorspronklik in 2012 op die webblad www.redeemer.com geplaas. Dit word met toestemming gebruik.