Ons Berei Ons Harte Voor Vir Paasfees: 'n Oordenking Tydens die VastydVoorbeeld

Preparing Our Hearts for Easter: A Lenten Devotional

DAG 7 VAN 40

Dag 7: Die Gebed

Daar is twee verhale in hierdie tien verse. Die eerste verhaal is Hanna s'n, 'n onvrugbare vrou wat begeer om 'n kind en 'n lewe met 'n doel te hê; 'n vrou wat van haarself gered is deur God se genade. Die tweede verhaal is dié van God se volk wat elke jaar na Silo toe reis om “te aanbid en aan die Here die Almagtige offers te bring.” Hierdie twee vertellings is vervleg in 1 Samuel 1 en in die middel van die twee weergawes vind ons wat bekend staan as “Hanna se Gebed.”

Daar is geen beter beeld van 'n gebroke wêreld as dié van die "onvrugbare" vrou nie (veral in antieke kulture). Die druk op 'n vrou om 'n erfgenaam voort te bring en so 'n erfenis vir Israel te verseker, was so geweldig, dat "onvrugbaarheid" beskryf kan word as 'n fisieke, sowel as 'n sosiale toestand. Na jare se lyding erken Hanna dat haar hartseer sonde is en haar rou 'n "ellende" geword het (1 Samuel 1:11). Sy het dus by Silo 'n offer aan die Here gebring van dit wat haar so lank 'n slaaf gemaak het. Nadat sy berou getoon het, het sy belowe dat, as die Here aan haar 'n seun sou gee, sy hom aan die Here sou wy in plaas daarvan om haar kind as bewys van haar menswaardigheid voor te hou aan dié wat haar veroordeel het. Sy het gou swanger geraak en het haar seun na die priester, Eli, geneem om in die tempel te dien. Hierdie seun was Samuel, die eerste van die groot Ou Testamentiese profete.

As enige ouer gedink het sy kind is kosbaar, was dit Hanna. Nogtans moes sy geweet het dat sy slegs vir 'n kort rukkie 'n rol in sy lewe sou speel. As ons sien hoe Hanna uit haar hart uit “jubel in die Here” en “sterk is” in Hom (1 Samuel 2:1), word sy versterk deur die een ding wat waar en permanent is in hierdie wêreld (vers 2). Hanna het verstaan dat die Here se krag aan die werk is agter elke toestand, hetsy liggaamlik of geestelik, en nie haar eie nie (verse 6-8). Sy het haar verheug in dié wete en is só vrygemaak.

Gebed

Hemelse Vader, alhoewel ons nie almal dieselfde dinge as Hanna begeer nie, ly ons ook daaraan dat ons probeer om die tydelike dinge in die lewe permanent te maak. Help ons om ons sonde te erken en te bely en dan ons krag te put uit die Rots, u Seun, Jesus Christus. In die Naam van Jesus. Amen.

Kopiereg (c) 2012 deur Redeemer Presbyterian Church.

Aangaande hierdie leesplan

Preparing Our Hearts for Easter: A Lenten Devotional

Wat is die Vastydperk? Dit is die tyd wanneer ons in afwagting is vir die oorwinning wat die lig en lewe van Christus oor die duisternis van sonde en dood gebring het. Soos ons die gebeure volg van Aswoensdag tot Paasfees, word ons herinner aan die werklikheid van ons swakheid en God se verlossende genade.

More

Hierdie oordenking is geskep deur die personeel van die Redeemer Presbyterian Church en is oorspronklik in 2012 op die webblad www.redeemer.com geplaas. Dit word met toestemming gebruik.