Reis Saam Met Jesus — 40 Dae Lydenstyd OordenkingVoorbeeld

Journeying With Jesus - 40 Days Lent Devotional

DAG 8 VAN 40

Vandag lees ons net een vers. Tog is daardie paar woorde gelaai met emosie. Jesus is alleen in die tuin van Getsemane, en roep benoud uit na sy Vader. 

In rou emosie roep Jesus uit: "My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan."

Hy is doodsbenoud. Ons sien sy menslikheid. Hy is op die punt om erge fisieke marteling te verduur. Maar nog erger as dit, het Hy geweet dat Hy eensaamheid soos nog nooit tevore sou ervaar — wanneer sy Vader sy gesig sou wegdraai toe Jesus die verdorwenheid en sonde van die wêreld op Hom sou neem. 

Dan bid Hy verder: "Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil."

Dit was 'n oomblik toe menslikheid en goddelikheid saamkom, in een van die grootste dade van liefde en gehoorsaamheid. 

Hy wat geen sonde geken het nie, sou 'n sondaar word sodat ons deur God vrygespreek kon word. Onbeperkte genade. Onverdiende guns. 

Ek hoef geen veroordeling te vrees nie. Jesus en alles wat Hy is, is myne. 

Oordink

Wat is my reaksie op Jesus se gehoorsaamheid aan God die Vader? Wat is my reaksie op sy angs in die tuin? Val ek op my knieë in aanbidding voor God, wat geweet het dat 'n uitmergelende reis voorlê en tog daarmee voortgegaan het? Laat ek toe dat dit 'n persoonlike openbaring vir my lewe word?

Gebed

Here Jesus, ek kan nie begin om daardie oomblik in die tuin van Getsemane te verstaan nie. U was daardie nag alleen in die donker. Dit was egter niks in vergelyking met die afsondering wat U aan die kruis sou ervaar nie. Tog het U gekies om gehoorsaam te wees. U het u liefde bewys aan 'n gebroke mensdom deur net te sê: "maar soos U wil." Ek buig in verwondering. Amen.

Aangaande hierdie leesplan

Journeying With Jesus - 40 Days Lent Devotional

"Reis Saam Met Jesus" is 'n leesplan om ons te help om saam met Jesus deur die laaste twee hoofstukke van Matteus te stap. Ons staan stil om op Jesus se laaste dae op hierdie aarde te fokus en wat dit vir ons beteken. Hoe verander dit vandag wie ek is en aan Wie ek behoort? Ons sal tydsaam deur die Skrifgedeeltes gaan en dit laat insink met vrae wat ons sal laat nadink oor waar ons onsself bevind in hierdie reis om Jesus te leer ken.   

More

Baie dankie aan Susan Narjala wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting besoek asseblief: http://www.susannarjala.com