YouVersion Logo
Search Icon

Wie Is God?Sample

Wie Is God?

DAY 308 OF 364

Laat u wil geskied

Dit is die eindstryd van die Curriebeker op Nuweland. WP teen Noord-Transvaal. Die telling is gelykop. Die losskakel lê aan vir ‘n skop na die pale. As dit oor is, wen WP. As dit mis is, is dit gelykop. Die eindfluitjie gaan blaas. Die losskakel kom vorentoe, die bal trek reguit pale toe … en toe op ‘n onverklaarbare manier verander die bal van trajek, en die skop is mis. Die beker word gedeel.

Die verhaal is vir my vertel van wat daardie dag gebeur het. Drie spelers het bymekaar gestaan en gebid. Twee het gebid: “Here, ons sien al hoe daardie bal deur die pale trek!” En die bal het reguit pale toe getrek … totdat die derde speler afgesluit het met: “laat u wil geskied,” en die bal se trajek verander het. Die een se kommentaar was: “Jy met jou wil van die Here! Kyk nou daar! Dit kos ons die wedstryd.”

Beide gebede is natuurlik verkeerd. Die gebed van selfvertroue. En die gebed van selfvertwyfeling. Hoekom? Want, nie een van die bidders weet presies wat God se wil is nie. Jy kan immers net sê laat u wil geskied, as jy weet wat God se wil is. En God se wil het boonop nie veel te doene met balle wat deur pale trek nie.

Ons moet versigtiger wees met wat ons vra

En ons sal goed doen as ons versigtiger word met wat ons vra, want onthou die verhaal van Hiskia wat gekry het wat hy gevra het, en dit het nie goed vir hom uitgedraai nie.

Die Here het aanvanklik moeite gedoen om Hiskia in te lig dat hy sal sterwe. Die profeet Jesaja is na hom toe gestuur (Jesaja 38; 2 Konings 20; 2 Kronieke 32). Die Here wou Hiskia op ‘n hoogtepunt na hom toe neem.

Hiskia het egter teëgestribbel, bitterlik gehuil, en gevra dat die Here sy besluit verander. Dat Hiskia se wil geskied, nie God se wil nie. En die Here het geluister. Hy het vir Hiskia 15 jaar ekstra gegee. Boonop begelei deur ‘n wonder om Hiskia te help om Hom te vertrou.

Daardie 15 jaar was egter die slegste jare van Hiskia se lewe. Hy het hoogmoedig geraak, gespog met alles wat God hom gegee het by sy vyande. Soveel so, dat hy bygedra het dat die Here die volk gestraf het met ballingskap.

Ons moet versigtig wees met wat ons vra.

God se wil is die hart van gebed

Wat ons moet leer verstaan — anders as wat ons die gebed meesal gebruik — is dat ‘n gebed soos: “laat u wil geskied” nie ‘n kwalifikasie is vir ons gebede nie. Dit is die hart van ons gebed. Dit is die kern van wat ons vra.

Wat beteken dat ‘n mens jou eie wil prysgee soos Jesus in Getsemane dit gebid het. Kom ons lees dit, want soos in alles, is Jesus ons beste voorbeeld:

Matteus 26:36-46 AFR53:

"36Toe kom Jesus met hulle in ’n plek met die naam van Getsémané, en Hy sê vir die dissipels: 'Sit hier onderwyl Ek daar gaan bid'. 37En Hy neem Petrus en die twee seuns van Sebedéüs saam en begin bedroef en benoud word. 38Toe sê Hy vir hulle: 'My siel is diep bedroef tot die dood toe; bly hier en waak saam met My'. 39En Hy het ’n bietjie verder gegaan en op sy aangesig geval en gebid en gesê: 'My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil'. 40En Hy kom by die dissipels en vind hulle aan die slaap, en Hy sê vir Petrus: 'So was julle dan nie in staat om een uur saam met My te waak nie? 41Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak'. 42Weer het Hy vir die tweede maal gaan bid en gesê: 'My Vader, as hierdie beker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat u wil geskied'. 43Toe kom Hy en vind hulle weer aan die slaap, want hulle oë was swaar. 44En Hy het hulle met rus gelaat en weer vir die derde maal gaan bid en dieselfde woorde gesê. 45Daarop kom Hy by sy dissipels en sê vir hulle: 'Slaap maar voort en rus. Kyk, die uur is naby, en die Seun van die mens word oorgelewer in die hande van sondaars. 46Staan op, laat ons gaan; kyk, hy is naby wat My verraai'" (Matteus 26:36-46 AFR53).

Jesus worstel in Getsemane

Die drie dissipels wat die ervaring op die berg van verheerliking gehad het, is dié keer saam met Jesus in Getsemane, maar kry dit nie reg om Hom by te staan in die geweldige worsteling wat Hy het om die beker van lyding wat vir Hom voorlê, te drink nie.

Ons moenie die diepte van hierdie worsteling onderskat nie. Jesus het bedroef en benoud geword. Sy siel was diep bedroef, tot die dood toe, sê Matteus. Lukas vertel vir ons dat:

“sy sweet het geword soos bloeddruppels wat op die grond val” (Lukas 22:44).

Waarmee worstel Jesus?

Met die beker wat Hy moet drink, die lydensbeker van die dood wat vir Hom wag. Hy weet presies wat Hy moet doen.

Jesus het immers vir sy dissipels gesê:

"My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en om sy werk te volbring" (Johannes 4:34 AFR53).

En daar was wonderlike kante van daardie wil, lewegewende dele:

"21Want soos die Vader die dode opwek en lewend maak, so maak ook die Seun lewend wie Hy wil" (Johannes 5:21) 39"En dit is die wil van die Vader wat My gestuur het, dat al wat Hy My gegee het, Ek daarvan nie sal verloor nie, maar dit opwek in die laaste dag" (Johannes 6:39) 40"En dit is die wil van Hom wat My gestuur het, dat elkeen wat die Seun aanskou en in Hom glo, die ewige lewe mag hê; en Ek sal hom opwek in die laaste dag" (Johannes 6:40).

Maar Hy het ook vir die dissipels uitgespel dat hierdie wil van sy Vader sal insluit dat Hy moet sterf:

14"En soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die mens verhoog word" (Johannes 3:14).

Daardie verhoging sou net een ding beteken – die dood aan die kruis. Net ‘n dag tevore het Jesus daarom nog verklaar:

27"Nou is my siel ontsteld, en wat sal Ek sê? 'Vader, red My uit hierdie uur?' Maar hierom het Ek in hierdie uur gekom. 28'Vader, verheerlik u Naam!' … 31Nou is dit die oordeel van hierdie wêreld, nou sal die owerste van hierdie wêreld buitentoe gedryf word. 32En Ek, as Ek van die aarde verhoog word, sal almal na My toe trek. 33En dit het Hy gesê om aan te dui hoedanige dood Hy sou sterwe" (Johannes 12:27-33 AFR53).

Jesus worstel dus met die selfverloëning wat hierdie kruisdood van Hom gaan vra.

“Laat u wil geskied”

Hierdie gebed van Jesus in Getsemane is daarom ‘n onderwerping aan God se wil, ‘n wil wat Hy ken, ‘n wil waarvoor Hy ja sê:

“nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil … laat u wil geskied.”

Jesus onderwerp Hom dus hier aan die wil van die Vader, ’n keuse wat Hy lank gelede reeds gemaak het, maar wat nou ’n realiteit word. Hy sê ja vir die bestemming wat God vir Hom het, die verlossing van die wêreld deur die dood aan die kruis.

Wat sê dit vir ons?

Wanneer ons die derde bede van die Ons Vader bid, sê ons:

"Laat u wil op die aarde geskied, soos in die hemel" (Matteus 7:9-10).

Ons wil juis hê dat God se wil sal geskied soos Hy self besluit het. Dit is hoe ‘n mens die derde bede van die Ons Vader bid.

Soos die Heidelbergse Kategismus 124 die derde bede uitlê. Wat vra ons met die derde bede? Ons vra:

  1. Gee dat ons en alle mense ons eie wil prysgee.” Jesus se opdrag tot selfverloëning word as voorbeeld aangehaal (Matteus 16:24). En Paulus se verduideliking van wat selfverloëning beteken, word aangehaal: “om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe” (Titus 2:11-12). Ons bid dus met die derde bede dat ons wil juis nie sal geskied nie; dat ons dit reg sal kry om ons self te verloën in ‘n wêreld met sy begeertes en verleiding.
  2. Dat ons: “aan u wil, wat alleen goed is, sonder enige teëpratery gehoorsaam sal wees.” Jesus se gebed in Getsemane word as voorbeeld aangehaal (Lukas 22:42). Sowel as Paulus se opdrag om agter te kom wat die Here se wil is (Efesiërs 5:10; Romeine 12:2).Ons bid dus dat ons nie net ons eie wil sal kan neerlê nie, maar al hoe meer sal begryp wat God se wil is, sodat ons dit kan doen. Soos Dawid sê: “Leer my om u welbehae te doen, want U is my God. Laat u goeie Gees my lei in ’n gelyk land” (Psalm 143:10 AFR53).
  3. Sodat elkeen sy amp en beroep kan beoefen en uitvoer.” Paulus se opdrag om bereid te wees om die Here te dien waar jy tot geloof kom, word hier aangehaal (1 Korintiërs 7:24).Ons bid dus dat ons tevrede sal wees met die plek en die lewensituasie waar ons is — dit is immers ook te wyte aan die Here se werk — sodat ons ons lig kan laat skyn waar ons is.
  4. Dat ons sy wil kan gehoorsaam: “net so gewillig en getrou soos die engele in die hemel.” Die engele word as voorbeelde voorgehou van skepsels wat absoluut gehoorsaam is aan die Woord van God. Hulle word saam met die hele hemelse leërskare — die divine council — “kragtige helde” genoem wat sy welbehae doen (Psalm 103:20-21). Ons bid dus dat ons absoluut gehoorsaam sal wees aan die Woord van God, soos al die hemelinge dit inderdaad doen.

As ons dus hierdie gebed bid — dat God se wil sal geskied, op aarde soos in die hemel — tree ons in vir God se wil, vir sy besluit, vir die uitvoering daarvan presies net soos Hy dit in die hemel besluit het (vgl die uitgebreide tekening hiervan in Openbaring 4-5).

Ons vra dat alle mense hulle sonder teëpratery aan God se wil sal onderwerp, want sy wil alleen is goed.

Ons vra dat ons dit sal regkry om ons eie wil neer te lê vir wat Hy oor ons en vir ons besluit.

Hou aan om te bid dat God se wil geskied

‘n Paar opmerkings om jou te help om hierdie week aan te hou bid dat God se wil geskied.

1. Soms sal dié wil van God duidelik wees

Ons sal presies weet wat God wil. En ons kan dit bid en doen.

“Want dit is die wil van God: julle heiligmaking” (1 Tessalonisense 4:3). Ons moet onreinheid en losbandigheid vermy.

Ek bewys liefde, reg en geregtigheid op die aarde, want dit is wat Ek wil hê, sê die Here” (Jeremia 9:24). Ons moet leef vir die liefde vir God en ons naaste, vir God se reg en sy geregtigheid om oral te geskied.

En ons moet bid:

“vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen, sodat ons ’n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid. So is dit goed en aanneemlik vir God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom” (1 Tim 2:2-4).

Dit is sommer net ‘n paar van die horde aanduidings in die Skrif van wat God se wil is.

2. Soms sal dié wil van God onduidelik wees

Daar is kere wat ons nie weet wat God se wil is nie. Dan moet ons die raad van Paulus volg:

“Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in ’n goddelose tyd. Moet daarom nie onverstandig optree nie, maar probeer te wete kom wat die Here wil dat julle moet doen” (Efesiërs 5:16-17).

Dit is iets wat Paulus deurlopend self gedoen het. Een van die gebede wat hy gebid het was om die Here te vra om dit vir hom moontlik te maak om die gemeente in Rome te besoek. Ons lees in Romeine 1:

10"Elke keer as ek bid, vra ek God of Hy dit nie uiteindelik vir my moontlik wil maak om julle te besoek nie" (Romeine 1:10).

En ons hoor aan die einde van die brief dat hy gedink het:

32"En as dit die wil van God is, sal ek vol blydskap na julle toe kom om ’n tydjie by julle te rus" (Romeine 15:32).

Maar, hy het nie toe geweet dat dit uiteindelik in boeie sou wees nie. Hy het nie daar gaan rus nie. Hy is daar in huisarres geplaas.

God het dus sy gebed beantwoord, maar lank ná hy daarvoor gevra het, en anders as wat hy gedink het dat dit sou gebeur.

3. Soms sal dié wil van God lyding inhou

Petrus herinner ons daaraan dat ons dit nie maklik in hierdie lewe sal hê nie. Ons lewe as burgers van die hemel. Ons is vreemdelinge in hierdie wêreld. Ons waardestelsel word deur God en sy Woord bepaal. Daarom luister die wêreld nie na ons nie. So:

17"As dit die wil van God mag wees dat julle moet ly wanneer julle goed doen, is dit beter só as om te ly wanneer julle kwaad doen” (1 Petrus 3:17).

En as dit gebeur, dat ons lyding ervaar omdat ons die Here wil dien, dan moet ons vir genade vra — soos Jesus dit in Getsemane dit gedoen het — dat ons onsself sal kan bly verloën.

En ons moet ons lewe aan God bly toevertrou en aanhou om goed te doen:

19"Daarom moet dié wat ly omdat God dit wil, hulle lewe toevertrou aan die getroue Skepper, en aanhou goed doen” (1 Petrus 4:19).

Jou gebed

Ek weet nie wat jy op die oomblik van die Here vra nie. Wat die behoefte is wat jy voor Hom bring nie.

Ek wil jou aanmoedig om te vra dat God se wil geskied.

  • Sommige dele van God se wil is reeds duidelik vir jou. Hou aan om te bid dat God se wil geskied en hou aan om God te gehoorsaam.
  • Sommige dele van God se wil is vir jou onduidelik. Hou ook aan om vir duidelikheid te bid en God se leiding, soos dit ontvou, te gehoorsaam.
  • Sommige dele van God se wil is vir jou onaangenaam. Doen wat Jesus gedoen het. Bid dat jy genade sal ontvang dat God se wil geskied. Doen wat Petrus aanbeveel. Vertrou jou lewe aan God toe en hou aan om goed te doen.

God se wil sal geskied soos in die hemel net so ook op die aarde.

About this Plan

Wie Is God?

Werk die volgende jaar deur antwoorde op 52 kernvrae oor God, Christus en die Gees. Elke week het sewe bydraes oor ‘n kernvraag. Dag 1: ‘n Antwoord uit die Bybel met besprekingsvrae. Dag 2-5: Vier verdere antwoorde uit die Bybel. Dag 6: Antwoorde uit die belydenisskrifte. Dag 7: 'n Boodskap. Die bydraes is gerig op gelowiges uit alle kerkverbande. Jy kan dit gebruik vir jou stiltetyd of in 'n kleingroep.

More