Wie Is God?Sample

Baie is immers geroep, maar min is uitgekies
Jesus se laaste week
Dit is die laaste week van Jesus se aardse lewe. Hy is besig — om voor te berei vir die grootste uitdaging van sy lewe, die kruis en opstanding uit die dood.
Met sy intog in Jerusalem op die Sondag het Hy die ontoereikendheid van die tempel en die kultus gedemonstreer met sy reiniging van die tempel (Matteus 21:12-17). Vroeg die volgende môre het Hy die vyeboom langs die pad vervloek, omdat dit nie vrug dra nie – ook simbolies van die afvalligheid van die Joodse leiers (Matteus 21:18-22).
Dit was 'n inleiding tot sy gesprek met die Joodse leiers wat gehandel het oor drie wesenlike sake:
- Jesus se gesag (Matteus 21:23-27);
- Die noodsaak van gehoorsaamheid aan die hand van die gelykenis van die twee kinders se werk in die wingerd (Matteus 21:28-32);
- Die noodsaak van geloof om die koninkryk te beërwe na aanleiding van die gelykenis van die huurders en die wingerd (Matteus 21:33-46).
Die gelykenis van die bruilofsfees
Jesus vervolg hierdie gesprek met die Fariseërs met ’n verdere gelykenis oor die reaksie van genooide gaste na ’n bruilofsfees met die implisiete betekenis dat die Fariseërs optree soos die eerste genooides wat die uitnodiging geweier het. Let op dat hierdie eerste genooides alreeds 'n uitnodiging ontvang het, en nou met die aanbreek van die bruilofsfees weer uitgenooi word.
Hulle weier egter die uitnodiging, sê die gelykenis. Daarmee onderstreep Jesus finaal hulle onbetroubaarheid en verlorenheid.
Die gelykenis van die bruilofsfees wentel om die feit dat die eerste genooides — die Fariseërs — die uitnodiging weier en dat die ander genooides — slegtes en goeies van oral oor — die uitnodiging aangeneem het as gaste by die bruilof.
Die betekenis hiervan lê op verskillende vlakke. Dit verklaar aan die een kant die uitverkiesing in narratiewe vorm. Dit verklaar aan die ander kant ook die Joodse en Christelike geskiedenis wat hom hierna sou voltrek:
1. Die opsommende sin aan die einde verklaar die gelykenis as ’n verklaring van hoe die uitverkiesing werk: "Baie is immers geroep, maar min is uitgekies" (Matteus 22:14).
Die verkiesing gaan hiervolgens soos om ’n uitnodiging te ontvang na ’n bruilofsfees. Almal is genooi, ook die Jode. Herhaaldelik. Dit sluit uiteindelik ook die slegtes en die goeies van oral oor in. Hulle enigste kwalifikasie is dat hulle genooi word.
Die werklikheid is egter: sommige neem die uitnodiging aan; ander weier dit. Sommige van dié wat dit weier, is traak-my-nie-agtig daaroor. Hulle steur hulle nie daaraan nie, weens ekonomiese en sosiale redes. Ander is egter openlik vyandig en maak die boodskappers dood.
Nou is dit belangrik om raak te sien dat die verkiesing in die aanvaarding en weiering van die uitnodiging verwerklik word. Die verkiesing gebeur in die aanvaarding of weiering van die uitnodiging.
Dit is hoe die misterie van die uitverkiesing prakties werk. Die uitverkiesing werk met die ontvanklikheid van die genooides — presies soos die gelykenis van die grond dit uitgespel het — nie daarsonder of ten spyte daarvan nie.
En daarin weet ons speel die Here die primêre rol en die grond die sekondêre rol. Sonder die Here is daar nie 'n uitverkiesing nie. Sonder die aanvaarding van die uitnodiging, word die uitverkiesing nie 'n werklikheid nie. Die geheim van die aanvaarding lê beide in God se werk as in die reaksie daarop in geloof.
2. Die gelykenis het effektief die geskiedenis beskryf wat hierna in Jerusalem voltrek sou word. Jesus is doodgemaak (soos al vier evangelies dit beskryf), soos ook talle van sy dissipels (soos Handelinge dit vir ons beskryf) en die stad Jerusalem is uiteindelik in 70 nC verower en afgebrand.
Die man sonder ‘n bruilofskleed
Maar, daar is ook die vreemde uitsluiting van die man sonder ’n bruilofskleed. Wat beteken dit?
Dit kan miskien verklaar word uit die moontlikheid dat die man nie respek getoon het vir die bruilof deur die regte klere aan te trek nie. Dit hou waarskynlik verband met die soortgelyke verhaal in Openbaring 19:8 waar by die bruilof van die Lam almal blink klere van suiwer, fyn linne aantrek, en dit as die “regverdige dade van die heiliges” verklaar word.
“7Laat ons bly wees en juig en aan Hom die eer gee, want die bruilof van die Lam het aangebreek, en sy bruid het haar daarvoor gereed gemaak. 8God het haar dit vergun om fyn, helder blink klere aan te trek. Hierdie fyn klere is die regverdige dade van die gelowiges" (Openbaring 19:7-8 AFR83).
Die gewoonte van konings om klere aan die gaste te verskaf, word waarskynlik verder veronderstel, omdat al hierdie gaste van die straat af geneem is, en kwalik self die klere kon verskaf het. Die man het die voorsiening egter nie benut nie, en is daarom uitgewerp.
Die man het dus die uitnodiging aanvaar, maar nie op die koning se voorwaardes nie. Hy wou sy eie klere behou, en nie dié wat die koning verskaf het, aantrek nie.
Die gevolgtrekking in terme van die betekenis vir die leer van die uitverkiesing is dat nie almal wat hulle identifiseer met die koninkryk van die hemele inderdaad ware lede is van die koninkryk van die hemele nie. En jy kan dit agterkom uit die bereidheid om volgens die koning se voorskrifte te lewe of nie. Om die "regverdige dade van die gelowiges" soos fyn, helder blink klere aan te trek of nie.
Die uitnodiging tot die bruilof is gratis en verniet. Maar die deelname vind volgens God se standaarde plaas. Hy behou die reg voor om mense wat hulle eie optrede probeer bepaal, uit te gooi. Die boodskap is, jy kan nie deel van God se koninkryk wees en jou eie lewenstyl handhaaf nie.
Laastens, die probleem het nie gelê by die uitnodiging nie, maar by die mense wat die uitnodiging óf geminag het óf verwerp het óf in opstand was om volgens die koning se voorskrifte op te tree. Die fout was die geroepenes s'n, nie die Een wat geroep het nie.
Scripture
About this Plan

Werk die volgende jaar deur antwoorde op 52 kernvrae oor God, Christus en die Gees. Elke week het sewe bydraes oor ‘n kernvraag. Dag 1: ‘n Antwoord uit die Bybel met besprekingsvrae. Dag 2-5: Vier verdere antwoorde uit die Bybel. Dag 6: Antwoorde uit die belydenisskrifte. Dag 7: 'n Boodskap. Die bydraes is gerig op gelowiges uit alle kerkverbande. Jy kan dit gebruik vir jou stiltetyd of in 'n kleingroep.
More
Related Plans

The Letter to the Philippians

How to Love Your Work and God

Lighting Up Our City Video 2: Avoiding Insider Language

Faith in Action: A Journey Through James

Life@Work - Sharing Your Faith in the Workplace

The Discipline of Study and Meditation

How to Love Like Jesus

How Is It With Your Soul?

My Problem With Prayer
