Lewe: Is Dit Al?Voorbeeld

Die Ryk Jongman
Verbeel jou 'n persoon wat by die skool gewild is, wat deur sy tydgenote gerespekteer word, akademies uitblink, probeer om ander te help en selfs in God glo. Ten spyte van al hierdie lofbetuigings, voel so iemand steeds 'n leemte in sy of haar hart. Wanneer dit by liefde, vreugde of vrede kom, lyk dit of die persoon se lewenstenk leeg is. Soos 'n haai wat probeer asemhaal op die sand, kom dit voor of niks so iemand ten volle kan bevredig nie.
Dit was die geestelike toestand van die ryk jongman.
In sy verhaal het hierdie ryk, magtige, jongman Jesus met 'n diepgaande vraag genader: "... wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?" (Markus 10:17b). Eenvoudig gestel, is die ewige lewe 'n verhouding met God wat in hierdie lewe begin en vir ewig voortgaan. Dit is nie 'n maklike lewe nie, maar dit is 'n ryk, vol, betekenisvolle lewe wat met liefde, vreugde en vrede gevul is as ons God se doelwitte vir ons volg.
Jesus reageer op sy vraag deur na God se gebooie te verwys en hierdie jongman antwoord: “'Meneer,'” sê hy vir Hom, “'dit alles het ek van my kinderdae af nagekom'” (Markus 10:20). Nietmin het hy besef daar is 'n tekort in sy geestelike lewe.
Hy was gelukkig, want "Jesus het na hom gekyk en hom liefgekry ..." (Markus 10:21).
Jesus het hom nie liefgehad op 'n sentimentele manier wat hom verleë sou maak oor sy flouerige geestelike lewe en baie wanbegrippe nie. In plaas daarvan het Jesus hom op 'n reddende manier liefgehad wat hom uitgenooi het om sy ou lewe agter te laat.
Jesus het gesê: "... Net een ding kom jy kort. Gaan verkoop alles wat jy het ..." (Markus 10:21).
Wanneer Jesus met mense te doen het, beweeg hy altyd van die uiterlike optrede na die kern van die probleem. Die eerste van die tien gebooie gaan nie oor ons verhoudings met ander mense nie, maar oor ons verhouding met God; en hierdie man het 'n valse God van sy rykdom gemaak.
Jesus mag dalk nie dieselfde eis aan ons stel nie, maar Hy het geweet dat rykdom in die jongman se hart geheers het, 'n nagemaakte troon wat die koers van die man se lewe beheer en gerig het.
Ongelukkig het die ryk jongman verkies om weg te stap met vol hande en 'n leë siel. Hy was hartseer genoeg om dikmond te wees, maar nie gebroke genoeg om na Christus terug te draai nie.
Hierdie verhaal konfronteer elkeen van ons met 'n besluit soortgelyk aan dié van die ryk jongman.
Sal ons Jesus heelhartig volg na 'n lewe wat werklik lewe is, of nie?
Wanneer jy nou hierdie kort leesplan voltooi, wil ons jou met hierdie uitdaging laat. Moenie soos die ryk jongman wees nie en sê liewer ja om Jesus eerste in jou lewe te plaas. God sal ons nooit vra om iets agter te laat sonder om vir ons iets beters in die plek daarvan te gee nie; hoofsaaklik meer van sy teenwoordigheid en 'n dieper ondervinding van sy liefde en onderhoudende krag in ons lewens.
Die ware lewe wag vir jou. Dit word egter nie gevind in die goed wat ons koop, die status wat ons nastreef, die prestasies wat ons vier, of die geestelike reëls wat ons volg om ander mense te beïndruk nie.
In plaas daarvan word die ewige lewe ondervind deur Jesus te vertrou, en ons gee uitdrukking daaraan deur God en ander lief te hê. As ons God die liefste het, sal dit daarop uitloop dat ons ander meer liefhet, want ons sal verbind wees aan God self — die Bron van alle liefde en lewe.
Dit is ware lewe. Of, in die woorde van Jesus: "En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is" (Johannes 17:3).
Is daar enigiets in jou lewe wat jou daarvan terughou om Jesus te volg? Anders as die ryk jongman, sal jy gewillig wees om Jesus genoeg te vertrou om agter te laat wat jou ook al verhinder om sy roeping vir jou lewe na te streef?
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

Almal ondervind daardie dieper verlange in die lewe en dit maak nie saak met hoeveel dinge ons ons lewens probeer vul nie, ons wil altyd meer hê. Hoe baie ons daardie dinge ook al geniet, kan ons nie die gevoel afskud dat daar iets meer moet wees nie. Hierdie leesplan verken die vraag: "Is daar meer aan die lewe as dit?" en kyk na hoe God vir ons die lewe in oorvloed wil gee.
More