Lewe: Is Dit Al?Voorbeeld

Life: Is This It?

DAG 4 VAN 7

Die Vrou, Die Put en Ware Aanbidding

Niemand geniet dit as daar geen sitplek gedurende middagete in die kafeteria is nie. 

Om in die openbaar laaste vir 'n span gekies te word, kan pynlik en ongemaklik wees. 

Daar is min dinge wat slegter is as om uitgesluit te word.

Tog is uitsluiting presies wat die vrou in hierdie verhaal ondervind het. Het jy agtergekom dat die skrywer van die vertelling doelbewus noem dat sy in die middel van die dag by die put gaan water skep het? 

Waarom word die tyd van die dag genoem?

Die meeste vroue in die dorpie sou in die vroeë oggend gaan water skep het gedurende die koelste deel van die dag. Hierdie vrou was egter alleen by die put in die hitte van die middagson. 

Die evangelieskrywer gee vir ons 'n blik op haar diepgaande afsondering. 

Sy was seergemaak en alleen, maar sy was ook dors. Sy was dors, nie net vir water nie, maar ook vir die waarheid. Sy het verlang na ware lewe. 

Toe kom Jesus op die toneel.

Alhoewel Joodse mans (soos Jesus) nie normaalweg met Samaritaanse vroue sou assosieer nie (sien Johannes 4:9), het Jesus met hierdie eensame vrou begin praat en het Hy aan haar sy ware identiteit onthul. 

Nog meer, Hy het haar vertel hoe om die dors in haar siel te les. Hy het gesê: "maar wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie ..." (Johannes 4:14).

In die middel van hulle gesprek, verklaar Jesus dat God mense soek wat: "... Hom deur die Gees en in waarheid aanbid” (Johannes 4:24). 

Meer belangrik as die put en die water, is hierdie vrou se aanbidding. 

Of ons godsdienstig is of nie, almal is aanbidders. Aanbidding is om waarde te heg aan iemand of iets, en onsself daaraan toe te wy met ons tyd, energie en hulpbronne.

In ons huidige samelewing aanbid ons akteurs, popsterre, en mode-ikone. Ons aanbid die punte wat ons behaal, ons spesiale vriende en die goedkeuring van mense. 

Ons kan dit nie verhelp nie. Soos 'n haai gemaak is om in die see te wees, so is die mensdom gemaak met die behoefte aan aanbidding. 

As ons geld aanbid, word ons gulsig. As ons mense aanbid, word ons afhanklik. 

As ons punte aanbid, sal ons ons eiewaarde in ons akademiese prestasies vind. 'n Swak punt sal nie net ons werk etiketteer nie; dit sal ons waarde definieer. 

As ons die goedkeuring van mense aanbid, sal ons verslaaf raak aan hulle opinies, en hulle sienings sal ons siele in 'n ystergreep vashou. 

Gelukkig het Jesus gekom om ons almal te bevry! 

Jesus nooi ons om in gees en waarheid te aanbid. Om in die gees te aanbid betrek ons emosies wat aangevuur en gerig word deur God se Heilige Gees. Om in waarheid te aanbid is om God te aanbid soos Hy werklik is en om te weier om plaasvervangers te aanvaar wat nie bevredig nie. 

Aanbidding is nie 'n geleentheid wat ons bywoon nie. Dit is 'n leefstyl wat behels om God met ons tyd, energie, verhoudings en hulpbronne te eer. 

Ons is geskep om te aanbid. Wanneer ons God in gees en waarheid aanbid, word ons nie net meer soos God nie; ons kry 'n smakie van die ware lewe. 

Watter valse "gode" is daar in jou lewe wat jou in die versoeking stel om hulle te aanbid? 

Dink aan hoe gaaf Jesus was om 'n hand van vriendskap na 'n vrou uit te steek met wie niemand anders tyd wou bestee nie. Is daar enigiemand wat God in jou lewe geplaas het wat dalk eensaam en afgesonder mag voel en na wie jy in vriendskap kan uitreik? 

Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Life: Is This It?

Almal ondervind daardie dieper verlange in die lewe en dit maak nie saak met hoeveel dinge ons ons lewens probeer vul nie, ons wil altyd meer hê. Hoe baie ons daardie dinge ook al geniet, kan ons nie die gevoel afskud dat daar iets meer moet wees nie. Hierdie leesplan verken die vraag: "Is daar meer aan die lewe as dit?" en kyk na hoe God vir ons die lewe in oorvloed wil gee.

More

Hierdie leesplan is verskaf deur "Alpha and the Alpha Youth Series", 'n interaktiewe 13-deel reeks wat die lewe se grootste vraagstukke verken. Vir meer inligting besoek asseblief: http://alpha.org/youth