Leesplan inligting

Vegter Leesplan Vir MansVoorbeeld

Fight Devotional For Men

DAG 2 VAN 11

Jaag die verkeerde dinge na




Simson was die sterkste man wat ooit gelewe het. Met "Incredible Hulk" se spiere, "Tony Stark" se mond en "Thor" se hare was hy basies soos drie "Avengers" in een.




Al het hy soveel krag gehad — en hy deur God uitgekies en met bonatuurlike krag geseën is — kon Simson net nie sy gebreke vryspring nie. Weer en weer het hy die verkeerde dinge nagejaag. Sy swakhede het hom gedurig ondergekry.




Soos jy vandag sal sien, was wellus een van daardie swakhede. In Rigters 14:1–2 het Simson opsetlik na die verkeerde plek gegaan. Timna was 'n vyandelike gebied, 'n Filistynse dorp. Hy het geen saak gehad om daar te wees nie. Dan wou hy boonop die verkeerde ding daar hê. Hy het vir sy ouers gesê hy hou baie van 'n Filistynse vrou wat hy daar gesien het, en hy wou met haar trou. God het egter spesifiek vir sy mense gesê om nie te ondertrou met ander volke wat Hom nie aanbid nie.




Wat van jou? Terwyl jy deur die kanale op televisie blaai, het jy al ooit opgehou — of selfs net ’n bietjie stadiger geblaai — toe jy een of ander warm, karig geklede vrou “toevallig raakgesien” het? Wat van op die internet? Het jy al ooit op een of ander skakel, een of ander blokkie, een of ander advertensie geklik wat jy geweet het jy waarskynlik nie moet nie? Simson het begin deur sy voete te laat dwaal. Sy oë was nie ver agter nie. Sy hart het voorspelbaar agterna gevolg.




“Ek gee nie om wat God sê nie. Ek gee nie om wat Ma en Pa sê nie. Ek gee nie om wat reg of verkeerd is nie. Ek is 'n man. Ek het begeertes. Ek het behoeftes. En boonop wil ek dit hê!”




Klink dit bekend? Natuurlik is sommige dinge wat ek en jy begeer nie eens seksueel is nie. Miskien is dit waarna jy smag, daardie bevordering, daardie verhoging, of net om by die werk te wen. Drome van geld en aansien begin jou verstand oorheers en jou siel oorweldig. Of dalk is dit iets materieel: daardie groot huis, daardie blink nuwe motor, daardie lieflike boot. Jy word wakker en dink daaraan, probeer die hele dag om uit te vind hoe jy dit kan kry, en slaap dan in die nag en droom daaroor.




Wat jy ook al begeer, beveg dit met elke greintjie selfbeheersing wat jy bymekaar kan skraap om jouself terug te hou om dit nie halsoorkop na te jaag nie. Hoekom? Want net soos Simson maak wellus selfs die sterkste man swak.




Kom in die gewoonte om jou voete weg te lei van versoeking af — en jou daarvan weg te draai. Waarom soek jy in elk geval moeilikheid? Moenie jouself in daardie posisie plaas nie. Beoefen gesonde verstand en goeie oordeel — anders as Simson. Ken jou swakhede. Versterk dan jou verdediging.


Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Fight Devotional For Men

Skrywer en pastoor Craig Groeschel help mans om te ontdek wie hulle regtig is — 'n kragtige man met 'n vegtershart. Hierdie 11-dag leesplan verken die lewe van Simson — 'n sterk man met ooglopende swakhede. Veg om te wor...

More

Ons wil graag Pastoor Craig Groeschel en Life.Church bedank vir die voorsiening van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek gerus http://craiggroeschel.com/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid