Leesplan inligting

Vegter Leesplan Vir MansVoorbeeld

Fight Devotional For Men

DAG 1 VAN 11

Die Reëls van Gevegklub




“Welkom by Gevegklub. Die eerste reël van Gevegklub is: jy PRAAT nie oor Gevegklub nie. Die tweede reël van Gevegklub is: jy praat NIE oor Gevegklub nie!”




— Tyler Durden, Gevegklub, 1999


Ek het nuus vir jou: jy is nou in 'n geveg gewikkel. Nou, op hierdie oomblik. Ons almal is.




Het jy al ooit opgemerk hoe moeilik dit soms is om God net te volg? Hoekom is die huwelik nie moeiteloos nie? Hoekom is dit so ... ingewikkeld om 'n gesin groot te maak? Moet daardie dinge nie maar vanself kom nie? Moet dit nie maklik wees nie? Nee, dit is nie.




Kom ons sê ons staan ​​op 'n leë rugbyveld, net ek en jy. Ons is op die 10 tree-stippellyn. Ek gooi vir jou die bal en sê: "Hardloop daarmee na die doellyn." In 'n japtrap pik jy die bal op en hardloop. Maklik, reg?




Ons was net twee ouens wat gespeel het, maar kom ons verander dit nou 'n bietjie. Kom ons voeg 60 000 skreeuende aanhangers op die pawiljoene en nog dertien ouens op die veld by (dalk 'n paar vriende by jou werk). En kom ons sê ons staan ​​voor ... die Currybeker kampioene. Die spel het verander, nie waar nie? Hierdie keer, as ek selfs die bal by die 10 tree-stippellyn by jou kan kry, sal jy gelukkig wees om weg te kom sonder enige beserings — wat nog te sê om eintlik die doellyn te bereik! Daar is sterk opposisie. Daar is altyd iemand wat jou probeer keer. 'n Groep groot rugbymanne.




Moenie 'n fout maak nie: Jy is in 'n geveg. Elke dag word jy deur jou vyand gekonfronteer. En sy missiestelling, sy enigste doel, kan in drie woorde opgesom word: Steel. Slag. UITROEI (Johannes 10:10).




1 Petrus 5:8 waarsku jou: “Wees versigtig, man! Jy het 'n bose vyand: die duiwel. Moenie hierdie ou onderskat nie. Hy is soos 'n leeu wat jou agtervolg. Hy wil jou vlees uitmekaar skeur, jou heeltemal verslind” (Craig se geparafraseerde weergawe).




Kry dit in jou kop: 'n Hondsdol leeu jag jou. Om jou op te vreet! O, jy is beslis in 'n stryd gewikkel.




Die volgende 10 dae is Gevegklub op sy ergste. Ons sal uit Simson se foute leer oor die hantering van sy fisieke vyand, die Filistyne, sodat ons dit kan vermy om daardie selfde foute met ons geestelike vyand, die duiwel, te maak.




Ons is drie punte agter. Ons is op die 10 tree-stippellyn. Die volgende oomblik kom die bal na jou toe. Wat gaan jy doen? Is jy gereed vir hierdie geveg?


Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Fight Devotional For Men

Skrywer en pastoor Craig Groeschel help mans om te ontdek wie hulle regtig is — 'n kragtige man met 'n vegtershart. Hierdie 11-dag leesplan verken die lewe van Simson — 'n sterk man met ooglopende swakhede. Veg om te wor...

More

Ons wil graag Pastoor Craig Groeschel en Life.Church bedank vir die voorsiening van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek gerus http://craiggroeschel.com/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid