Maak oop jou geskenkVoorbeeld

Maak oop jou geskenk

DAG 7 VAN 7

DAG 7

"Dit maak nie saak wat gebeur nie, julle moet altyd bid. Praat met God en vra Hom wat julle wil weet. Die Heilige Gees sal julle daarmee help. Onthou dit en moenie julle onkant laat vang nie. Moet ook nie vergeet om gedurig vir julle mede-Christene te bid nie" –Efesiërs 6:18 DB.

Vriende, ons vier Kersfees. Mag Kersfees vir jou as gelowige oorweldig met die wonderlike wete: God het ons so lief, dat Hy sy enigste Seun aarde toe gestuur het om vir die hele wêreld se sondes te kom sterf (Johannes 3:16). Wat ‘n wonderlike geskenk is dit tog nie! Hierdie geskenk kan nie opraak, wegraak, of te duur wees om te kry nie. Al wat nodig is, is dat ek hierdie geskenk moet vat en as’t ware oopmaak. Ek hoef net te sê: “Ja Here Jesus, kom woon in my hart. Ek kies vandag om U en U alleen te dien met my hele lewe.”

God se goedheid hou ook nie daar op nie. As jy Jesus in jou hart het, gee God vir jou sy Heilige Gees om binne-in jou te woon. Begin sommer vandag om ‘n ware verhouding met Hom te hê. Leer Hom ken sodat jy sy stem sal herken wanneer Hy jou verseker van sy liefde, wanneer Hy jou waarsku, aanmoedig of herinner van iets. Lees jou Bybel. Bid, ja praat gedurig met Hom; of jy sit, of staan, op pad is of gaan slaap (Deuteronomium 6:5-9).

Maak oop jou geskenk! Jesus Christus is gebore sodat ek en jy wat Hom kies, kan weet dat ons alreeds op hierdie aarde kan leef soos mense wat:

  • HOOP het – want Jesus het alreeds die vyand verslaan;
  • VREDE in ons harte kan hê wat alle verstand te bowe gaan;
  • VREUGDE kan ervaar al gaan dit swaar met ons;
  • Jesus se LIG binne in ons het, omdat Jesus self gesê het Hy is die lig van die wêreld. As jy Hom volg, sal jy nooit in die duisternis lewe nie, maar sal jy die lig hê wat lewe gee. Daarom sal jy ook ‘n lig vir ander kan wees (Johannes 8:12).
  • Jesus se LIEFDE in jou hart het; daarom kan ek ander net so lief te hê as wat ek myself lief het.

GEBED:

O, my Vader, my hart loop oor van dankbaarheid! Ek het U ingenooi. Dankie vir u liefde vir my. Ek wil nou aan U ‘n lofoffer bring, want u goedheid oorweldig my. Amen.

Aangaande hierdie leesplan

Maak oop jou geskenk

Om waarlik Kersfees te kan vier, moet ek en jy verstaan dat Jesus Christus ons grootste geskenk ooit is. As ons hierdie geskenk wat God so onverdiend vir ons gee, vat en oopmaak, sal ons nie anders kan as om dit ook aan ander uit te deel nie. Maak oop jou geskenk. Jy sal nooit spyt wees nie

More

Ons wil graag Sonja Goldberg bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.sonjagoldberg.co.za