Die Onbegryplikheid van God se OneindigheidVoorbeeld

Om God se oneindigheid te “definieer”
Hoe beskryf ’n mens God se oneindigheid? Dit is nie maklik nie. Tog het ons sekere woorde en begrippe wat ons ’n idee gee van wat dit beteken dat God oneindig is. Die Bybel verduidelik op verskeie plekke wat dit beteken.
Jesaja 40:28 (AFR83) sê: “Sy insig is ondeurgrondelik.” Ons kan nooit die volkomenheid, die oneindigheid, die volmaaktheid en onveranderlikheid van sy werke en natuur sien nie. Daar kom ’n punt in ons bestudering van God waar dit te groot is om ondersoek te word, verhewe bo dit wat ons kan verstaan. Die Amplified Bible beskryf God as “onuitputlik en grensloos.”
Wanneer die Skrif sê: “Van ewigheid tot ewigheid is U God” (Psalm 90:2; AFR83), beteken dit dat Hy geen begin en geen einde het nie. God word nooit moeg of afgemat nie (Jesaja 40:28). Hy het geen beperking nie; daarom kan Hy doen wat Hy wil (Psalm 115:3). Hoe beskryf 'n mens iemand wat presies kan doen wat hy wil, geen beperkings het nie en nie moeg word nie.
Ons leef in ’n wêreld wat voortdurend verander, maar God verander nie. Hy is gister, vandag en tot in ewigheid dieselfde (Hebreërs 13:8). In Job 36:26 (AFR83) lees ons: “Sy jare kan nie bereken word nie.” Dit is nie moontlik om dit wetenskaplik te bereken nie.
God is onnaspeurlik: “Kan jy begryp wie God werklik is? Kan jy die Almagtige ten volle verstaan? Dit is kennis wat hoër is as die hemele. Hoe kan jý daarby uitkom? Dit is kennis wat dieper is as die doderyk. Hoe kan jy dit bereik? Dit strek verder as die aarde, wyer as die see” (Job 11:7-9; AFR83).
Romeine 11:33 (AFR83) sê: “Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë!” Let op die woorde ondeurgrondelik en onnaspeurlik.
God se oneindigheid is nie bloot ’n teologiese konsep nie, maar ’n werklikheid wat ons denke, gebede en lewens moet vorm. Ons hele lewensbeskouing moet geanker wees in die oneindigheid van God.
Jesaja 46:10 (AFR83) sê: “Ek kondig vantevore aan wat later sal kom, lank tevore al wat nog nie gebeur het nie. Ek sê wat Ek besluit het en dit gebeur, wat Ek wil, doen Ek.”
In rekenaarprogrammering praat mense soms van die “back-end” van ’n program — die versteekte deel waar die programmering plaasvind. Slegs die programmeerder weet wat daar aangaan. So is dit met God: daar is ’n “back-end” wat ons nie ken nie.
Sy oneindigheid word onder andere verwoord in dié woorde: ewige, absolute, alomvattende teenwoordigheid van God — en dit kan inderdaad ontsagwekkend wees. Geen “time-out” nie. Geen privaat gedagtes nie.
Aangaande hierdie leesplan

Die oneindigheid van God is een van die eienskappe van God wat moeilik is om te verstaan. Eintlik is dit onmoontlik, want hoe kan dit wat "eindigend" is, die oneindige verstaan. En tog het die Bybel heelwat daaroor te sê. 'n Studie van God se oneindighed sal jou geestelike lewe verdiep en jou dieper in God anker.
More
Ons wil graag Disciple4 bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: disciple4.com







