Die Onbegryplikheid van God se OneindigheidVoorbeeld

Die onbegryplikheid van God se oneindigheid
(Die Engelse ekwivalent vir die woord oneindigheid is infinity.)
Wanneer jy begin om God te probeer verstaan, sal dit nie lank duur voordat jy besef dat dit wat jy probeer doen, te groot is — dat dit eintlik onmoontlik is nie. Jy is reg. Die een ding wat enige studie van God ingewikkeld maak, is sy oneindigheid.
Tog is die bestudering van God se oneindigheid uiters belangrik. Dit gee, uiteindelik, praktiese antwoorde op baie vrae waarmee mense worstel. Wanneer jy werklik begin worstel met God se oneindigheid — dat Hy geen perke, geen grense, geen begin en geen einde het nie — word jou begrip van Hom bevry van menslike kategorieë. Jy hou op om ’n “hanteerbare God” te aanbid en begin in ontsag staan voor die Een wat bo begrip verhewe is.
Wanneer ons God se oneindigheid bestudeer en dit prakties op ons daaglikse lewe toepas, sal ons geestelik begin groei op maniere wat ons nog nooit ervaar het nie.
Moenie God se oneindigheid bestudeer as ’n blote akademiese onderwerp nie. Bid en besin daaroor totdat dit jou emosies raak, jou verhouding met Hom verdiep, en jou help om nader aan Hom te groei.
Ons as mense kan slegs ’n beperkte begrip hê van God se oneindigheid. Die rede is eenvoudig: ons is eindig, en wat eindig is, kan nie die oneindige begryp nie. Dieselfde geld vir die engele wat al miljoene jare in God se teenwoordigheid staan. Engele is geskape wesens — daarom is hulle eindig. Hulle weet nie alles nie; hulle is beperk.
As ons egter God bestudeer soos Hy Homself in die Skrif openbaar en iets begin verstaan van sy oneindigheid, lei dit ons in ’n baie dieper verhouding met Hom — ’n plek van intenser aanbidding, verwondering, bewondering, vertroue en oorgawe.
Ek glo een van die redes waarom ons so dikwels nie genoeg woorde het om uitdrukking te gee aan ons verhouding met God, ons kennis van Hom of ons teologiese oortuigings nie, is juis die oneindigheid van God. Ons het eenvoudig nie genoeg woorde, emosies, insig of kennis om sy grootheid, grensloosheid en oneindigheid te beskryf nie.
Aangaande hierdie leesplan

Die oneindigheid van God is een van die eienskappe van God wat moeilik is om te verstaan. Eintlik is dit onmoontlik, want hoe kan dit wat "eindigend" is, die oneindige verstaan. En tog het die Bybel heelwat daaroor te sê. 'n Studie van God se oneindighed sal jou geestelike lewe verdiep en jou dieper in God anker.
More
Ons wil graag Disciple4 bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: disciple4.com







