Anderkant die DuisternisVoorbeeld

Anderkant die Duisternis

DAG 2 VAN 7

SKUILPLEK TEEN DIE STORM

“Die Here was spyt dat Hy die mens op die aarde gemaak het. Dit het Hom diep bedroef” (Genesis 6:6, NLV).
“Die Here is naby dié wat hartseer is. Hy help hulle wat geestelik stukkend is” (Psalm 34:19, NLV).
“God is ons toevlug en ons krag; in nood is Hy gereed om te help. Daarom sal ons nie bang wees nie, al bewe die aarde, al verskuif die berge diep in die see; al bruis en skuim die waters, al skud die berge as die waters styg!” (Psalm 46:2-4, NLV).

Onthou jy die oomblik toe jy besef het jy het jou heel eerste beste vriend ontmoet? Die seun wat tydens pouse oorkant jou gesit het en wat, net soos jy, bofbalkaartjies versamel het. Die groep meisies wat op die klimraam rondgeklouter en jou genooi het om saam met hulle onderstebo te kom hang. Jou stil laboratoriummaat op universiteit wat ingedagte die woorde van ’n liedjie gesing het terwyl julle met julle dissekteringsprojek besig was. En jy het net geweet daar het nou ’n hegte band gevorm.

Ons is so bly wanneer ons vriende ontdek wat soos ons dink en dieselfde dinge geniet wat ons geniet. Hierdie verhoudings, gewortel in gemeenskaplike belangstellings en waardes, dra ons deur die lewe se talle veranderinge. Maar baie van ons sukkel ná die dood van ’n geliefde om hierdie verhoudings in stand te hou. Verlies skep ’n skeiding wat sommige verhoudings skynbaar net nie kan oorbrug nie. Vriende wat eens so naby aan mekaar was, dryf mettertyd van mekaar af weg. En ons bly agter en wonder of enigiemand ooit sal verstaan hoe dit voel om, soos ons, elke dag saam met smart te leef. Ons smag na diep begrip, onvoorwaardelike eensgesindheid en deernisvolle omgee.

Wat ’n verrassende troos vind ons in Genesis 6 wanneer ons lees hoe God kyk na die wêreld wat Hy geskep het. God se geliefde volk volg hulle eie begeertes en sê met woord en daad vir hulle Maker: “U is nie meer ons beste vriend nie.” Hierdie mense wat God in liefde geskep het, het Hom verwerp en sy hart gebreek. En God het getreur (Genesis 6:6). As jy al ooit gewonder het of jy ’n vriend sal kan vind wat jou hartseer in al sy kompleksiteit sal verstaan, ook jou gespanne verhoudings met vriende ná jou verlies, sal jy Hom in God vind (Psalm 34:19).

Genesis 6 bied vir jou selfs nog meer troos. Noag was ’n regverdige man wie se hart in pas met God se hart was, en God het hierdie vriendskap bewaar (Genesis 6:8). Veilig in die ark, vaar Noag vir 40 dae en 40 nagte bokant die dood en die verwoesting na ’n nuwe lewe. God steek hom weg en beskerm hom. God openbaar aan Noag, en aan ons, sy eensgesindheid met ons in ons smart en gee aan ons sy krag in ons tyd van verlies. God is ons skuilplek teen die storm.

Net soos vir Noag, nooi God jou na die skuilplek wat sy teenwoordigheid vir jou bied. Soos Noag se drywende boot, is God vandag jou ark. Hy bewaar jou sodat die smart van die lewe jou nie sal wegspoel nie. Hardloop vandag na God toe, na jou ark toe. Vind skuiling in sy liefde en vertroosting in die wete dat Hy jou werklik verstaan (Psalm 46:2-4, 8).

Aangaande hierdie leesplan

Anderkant die Duisternis

Jy kan rou smart nie soos ’n been spalk of salf daaraan smeer nie. God se genesende sorg is egter tot jou beskikking. Kom saam met Clarissa Moll op ’n reis deur jou hartseer – en ontdek die liefdevolle teenwoordigheid van Christus wat jou nooit verlaat nie. Hoewel hierdie leesplan nie jou diepste smart kan genees nie, sal die inhoud jou versterk en jou gefokus hou terwyl jy deur jou verlies werk.

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: cumbooks.co.za/pages/about-us