Anderkant die DuisternisVoorbeeld

Anderkant die Duisternis

DAG 4 VAN 7

VREEMDE GENESING

“Die Here het vir Moses gesê: ‘Maak vir jou ’n afbeelding van ’n giftige slang en sit dit bo-op ’n paal. Elkeen wat gepik is en daarna kyk, sal bly leef.’” (Numeri 21:8, NLV)
“Here, U alleen kan my gesond maak. U alleen kan my red.” (Jeremia 17:14, NLV)

Een somermiddag het my seuns in ’n vriendin se agterplaas gespeel. Skielik het my een seun by die huis ingehardloop gekom en sy een hand met die ander hand vasgehou. “’n By het my gesteek!” het hy hard aangekondig terwyl hy sy rooi hand styf vasgeklem het. Oombliklik het my vriendin opgespring, ’n kombuislaai oopgetrek en daarin rondgegrawe totdat sy gevind het wat sy gesoek het: ’n botteltjie suiwer laventelolie.

Ek het nog nooit voorheen besef oor watter genesingskrag dié suiwer olie beskik nie. Daardie blommetjies, wat die bye aanlok en tuine so pragtig laat lyk, kan ook die brandsteek van ’n by verlig. Wat ’n ongelooflike en onverwagte genesing!

In Numeri 21 lees ons dat die volk Israel teen Moses in opstand gekom het terwyl hulle deur die woestyn geswerf het. As straf op hulle ongehoorsaamheid het die Here giftige slange gestuur om hulle te pik (Numeri 21:6). Toe die Israeliete besef dat hulle verkeerd opgetree het, het God hulle berou raakgesien en hulle op ’n baie vreemde manier genees. ’n Bronsslang op ’n paal sou die volk aan God se genesende vergifnis herinner. Al wat hulle moes doen, was om op te kyk en hulle sou genees word (Numeri 21:8).

Wat ’n ongewone genesing het God vir sy volk aangebied! God het nie die slange weggeneem nie, maar Hy het iets beters vir sy volk aangebied as bloot liggaamlike genesing. God het aan die Israeliete gegee wat hulle werklik nodig gehad het: ’n kans om hulle verhouding met God te herstel. Hulle genesing het geheel en al afgehang van hulle verhouding met die Groot Geneesheer, die enigste Een wat hulle kon genees van hulle sonde, hulle seerste wond.

Wanneer mense oor rou praat, gebruik hulle dikwels die woord genesing as oplossing vir die pyn. Maar smart genees nie soos ’n gebreekte arm of ’n bysteek nie. Jy kan rou smart nie soos ’n been spalk, salf daaraan smeer of dit soos ’n wond ontsmet nie. Om ná ’n verlies weer volkome te kan leef moet ons hierdie werklikheid aanvaar. Dit beteken egter glad nie jy kan nie God se verlossende en genesende sorg vandag in jou lewe ervaar nie (Jeremia 17:14).

Totdat Jesus terugkeer, sal jou verlies bly seermaak. Maar terwyl jy op daardie dag wag, bied God die onverwagte genesingskrag van sy teenwoordigheid in jou pyn vir jou aan. Al wat jy moet doen, is om jou oë op Hom te rig. Hoe sal God se genesingskrag in jou lewe lyk? Soos laventelolie op ’n bysteek, kan dit dalk ’n rukkie kos om te werk. Jy sal sy lewegewende opstandingswaarheid sonder ophou aan jou hart moet smeer. God se genesingskrag sal ook nie al jou pyn vandag wegneem nie, maar die soet geur van sy teenwoordigheid sal jou herinner dat hartseer en vreugde langs mekaar kan bestaan. Terwyl jy wag vir Christus om weer te kom, bied God aan jou ’n ander soort genesing. Nie die “kom oor jou hartseer en gaan aan met jou lewe”-raad wat die wêreld aan jou probeer verkoop nie, maar eerder ’n stille vertroue wat jou stukkende hart met deernis heelmaak en aan jou nuwe genade vir elke dag gee.

Aangaande hierdie leesplan

Anderkant die Duisternis

Jy kan rou smart nie soos ’n been spalk of salf daaraan smeer nie. God se genesende sorg is egter tot jou beskikking. Kom saam met Clarissa Moll op ’n reis deur jou hartseer – en ontdek die liefdevolle teenwoordigheid van Christus wat jou nooit verlaat nie. Hoewel hierdie leesplan nie jou diepste smart kan genees nie, sal die inhoud jou versterk en jou gefokus hou terwyl jy deur jou verlies werk.

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: cumbooks.co.za/pages/about-us