Anderkant die DuisternisVoorbeeld

Anderkant die Duisternis

DAG 7 VAN 7

GROOT PROBLEME, GROTER GOD

“Die Here wat my uit die kloue van die leeu en die beer gered het, sal my ook red van hierdie Filistyn!” (1 Samuel 17:37, NLV)

Dinge neem altyd meer tyd as wat jy verwag het dit sou. Dit is ’n waarheid wat in groot, vet swart letters op elke instruksiehandleiding vir enige doen-dit-self-projek gedruk moet word.

Iets wat soos ’n klein herstelwerkie lyk, neem dikwels langer om te voltooi as wat jy gedink het dit sou, want opknappingsprojekte ontbloot dikwels groter probleme wat nog die hele tyd weggesteek was. Klein probleme kan binne ’n oogwink in groot probleme verander.

Toe Dawid in 1 Samuel 17 by die Israeliete se kamp opdaag om vir sy broers hulle kos te gee, het hy nie verwag om ’n kryger vir sy volk te word nie. Hy was maar ’n jong seun wat net sy plig nagekom het om kos af te lewer. Honger mae was dalk die onmiddellike probleem, maar terwyl Dawid deur die kamp geloop het, het hy besef die ware probleem was baie groter as hongerte. Die regte probleem was die Filistyne se reusagtige en kragtige soldaat, Goliat, wat met die Israeliete en hulle God gespot het.

Wanneer jy jou huis wil opknap en jy kom ’n krisis teë, het jy twee opsies: Maak die probleem reg, of vergeet daarvan. Terwyl Dawid na Goliat se uittarting geluister het, het hy besef hy moet presies dieselfde besluit neem. Maar, soos ’n huiseienaar wat staan in ’n badkamer wat oorstroom het, het Dawid goed verstaan dat die probleem wat hom in die gesig staar, groter is as enigiets wat hy alleen kon hanteer. Ja, die probleem moes opgelos word, en tog was dit die grootste uitdaging wat Dawid nog ooit moes aanpak. Hoe op aarde sou hy ’n reus kon aandurf?

Jy het jou eie reuse in jou lewe ná jou verlies, probleme wat te groot lyk om alleen op te los. Daar is finansiële struikelblokke, spanning in vriendskappe en liggaamlike uitdagings. Jou toekoms lyk onseker, en jou verlede is, wel, iets van die verlede. Jy is gespanne omdat dit langer duur as wat jy verwag het om weer veilig, gelukkig of gesond te voel. Soos in Dawid se geval, het jou smart dalk groter probleme oopgevlek. En nou weet jy nie hoe om dit te hanteer nie.

Laat Dawid se getuienis jou vandag lei terwyl jy voor jou eie reuse gaan staan. Toe hy gereed gemaak het om teen Goliat te gaan veg, het Dawid gedink aan al God se magtige dade in sy lewe. Net soos God in die verlede namens hom geveg het, sou God ook nou namens hom veg.

God sal ook vandag vir jou veg. Jou probleme is groot, groter as wat jy ooit verwag het dit sou wees. Maar God is ook groot. En Hy is groter as wat jy dalk nog ooit gedink het Hy is. Sit vandag al jou probleme in sy hande neer. Dit kan dalk langer duur om al hierdie probleme op te los as wat jy gehoop het dit sou, maar jy kan op God se vakmanskap vertrou. Hy is die heel beste lewensopknapper.

Hierdie oordenkings is geneem uit ANDERKANT DIE DUISTERNIS deur Clarissa Moll © Christelike Uitgewersmaatskappy. Besoek gerus www.cumbooks.co.za.

Aangaande hierdie leesplan

Anderkant die Duisternis

Jy kan rou smart nie soos ’n been spalk of salf daaraan smeer nie. God se genesende sorg is egter tot jou beskikking. Kom saam met Clarissa Moll op ’n reis deur jou hartseer – en ontdek die liefdevolle teenwoordigheid van Christus wat jou nooit verlaat nie. Hoewel hierdie leesplan nie jou diepste smart kan genees nie, sal die inhoud jou versterk en jou gefokus hou terwyl jy deur jou verlies werk.

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: cumbooks.co.za/pages/about-us