Anderkant die DuisternisVoorbeeld

EK SAL HIER WEES
“Josua het ook twaalf klippe in die middel van die Jordaan opmekaar laat stapel, daar waar die priesters wat die ark van die verbond gedra het, gestaan het. Daardie klippe is vandag nog daar.” (Josua 4:9, NLV)
In al die dorpies in New England, Amerika, se rustige groen parke staan daar monumente in herinnering aan soldate wat gesterf het. Lank gelede het klipkappers die name van plaaslike jong manne wat in oorloë gaan veg het en nie weer huis toe gekom het nie in hierdie klein gedenktekens van graniet uitgekerf: soldate wat gaan veg het in die Amerikaanse Revolusie, die Amerikaanse burgeroorlog en die twee wêreldoorloë. Hierdie monumente staan as ’n stille getuienis terwyl die kinders in die parke sokker speel en families saam piekniek hou.
Deur die hele Ou Testament heen het God se volk altare gebou en gedenktekens opgerig op plekke waar God hulle ontmoet en versorg het. Daarom verras dit ons nie dat Josua die Israeliete ook hier, toe hulle die Jordaan na hulle nuwe tuiste in Kanaän sou oorsteek, ’n gedenkteken laat oprig het om die oomblik te herdenk nie (Josua 4:9). Dié gebeurtenis moes gevier en onthou word. Elke keer wanneer die volk by die Jordaan gekom het om hulle beeste te laat water drink of hulle klere te was, sou hulle die klippilaar sien en God se sorg onthou.
Al het dit op daardie oomblik sin gemaak om ’n klippilaar te bou, maak die skrywer van die boek Josua ’n interessante opmerking, wat hy elders in die boek herhaal: “Daardie klippe is vandag nog daar” (4:9, NLV). Jare ná God se wonderdade het hierdie gedenkteken steeds daar gestaan. Geslagte later het die getuienis van God se teenwoordigheid en voorsiening steeds die mense opgeroep tot verwondering en lof. Die gedenktekens was nie daar om die Israeliete se oorwinnings te onthou nie, maar om God se oorwinning te vier.
Om deur rou smart te werk vra ook om gedenktekens op te rig. Ons onthou ons geliefde en bou klippilare – sigbaar en onsigbaar – om ons geliefde vir ewig in ons harte en herinneringe in te graveer. Ons is bang ons vergeet hulle; daarom hou ons hulle klere en maak fotoalbums en begin nie-winsgewende organisasies. Maar, soos met alle menslike inspanning, sal hierdie mini-herdenkings mettertyd vervaag en verkrummel.
Ons leesgedeelte van vandag bied egter vir ons ’n hoopvolle teenstelling. Die getuienis van God se getrouheid sal vir altyd bly staan. Soos die klippilare wat Josua in die Beloofde Land laat oprig het, sal die altare tot eer van God wat ons in ons smart bou nooit vergaan nie. Terwyl jy oor jou geliefde rou, dink na oor die altare en gedenktekens wat jy vandag oprig. Wie se werk vier jy? Laat jou hartseer ’n weerspieëling wees van jou aanbidding van jou onveranderlike, almagtige God.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

Jy kan rou smart nie soos ’n been spalk of salf daaraan smeer nie. God se genesende sorg is egter tot jou beskikking. Kom saam met Clarissa Moll op ’n reis deur jou hartseer – en ontdek die liefdevolle teenwoordigheid van Christus wat jou nooit verlaat nie. Hoewel hierdie leesplan nie jou diepste smart kan genees nie, sal die inhoud jou versterk en jou gefokus hou terwyl jy deur jou verlies werk.
More
Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: cumbooks.co.za/pages/about-us