Anderkant die DuisternisVoorbeeld

SIEN U MY?
“Van toe af het Hagar die Here wat met haar gepraat het, genoem ‘die God wat my sien’, want sy het gesê: ‘Ek het die Een gesien wat my gesien het!’” (Genesis 16:13, NLV)
Ná die verlies van ’n geliefde, wonder jy dalk of die mense rondom jou met “blindheid” getref is. Jy treur en dit voel of niemand jou raaksien nie. Jy sukkel om aan te pas by ’n lewe sonder jou geliefde en jy voel onsigbaar. Jy begin wonder of enigiemand regtig omgee, of jou smart jou dalk omhul het in ’n donker wolk van hartseer waardeur niemand kan sien nie.
Sara se slavin Hagar het geweet hoe dit voel om so onsigbaar te wees. Hagar het geleef in onderdanigheid aan ’n vrou wat haar mishandel het en siedend kwaad was oor haar vrugbaarheid (Genesis 16:6). Al het Abraham en Sara ’n belofte van God ontvang dat hulle ’n seun sou hê, het hulle die saak in eie hande geneem toe God nie aan húlle tydsberekening voldoen het nie. Hulle het Hagar gedwing om swanger te raak by Abraham en vir hom ’n erfgenaam in die lewe te bring (Genesis 16:1-2). Maar toe Hagar swanger raak, het Sara haar baie sleg behandel (Genesis 16:6). Hagar is gemarginaliseer, mishandel en verwerp. Dit was asof sy onsigbaar was.
Terwyl sy by ’n oase in die woestyn gesit en wag het, het Hagar egter ’n lewensveranderende besoek ontvang. ’n Engel van die Here het aan haar verskyn en vir haar gesê wat sy volgende moes doen (Genesis 16:9-10). Toe sy alle hoop in die lewe verloor het, het Hagar vir die eerste keer ontdek dat sy nie so onsigbaar was soos sy gevoel het nie. Daar was ’n God wat haar gesien het (Genesis 16:13).
Hagar staan in die Bybelse geskiedenis bekend as die eerste vrou wat ooit aan God ’n spesiale Naam gegee het, El Roi, “die God wat sien” (Genesis 16:13). En om deur God gesien te word, het alles vir Hagar laat verander. Later sluit haar lewe nog meer pyn in. Sy beland ’n tweede keer in die woestyn, hierdie keer saam met haar jong seun (Genesis 21:14). Maar wéér sien God vir Hagar in haar nood raak, besoek haar en hou haar aan die lewe (Genesis 21:17-19). Haar lewe vol smart word gekenmerk deur die kragtigste vertroosting ooit. Al het ander haar verwerp, het Hagar sonder twyfel geweet dat God nooit blind sou wees vir haar lot nie. God sien raak.
Voel jy vandag onsigbaar? Voel dit of die mense rondom jou blind is, dat hulle daarom nie kan sien hoe swaar jy kry en dat jy omgee-liefde nodig het nie? Gaan vandag na El Roi vir die troos en voorsiening wat jy nodig het. Dieselfde God wat vir Hagar in die woestyn ontmoet het, sal aan jou in jou woestyn verskyn. Jy word raakgesien, geken en liefgehê, nou en tot in ewigheid.
Aangaande hierdie leesplan

Jy kan rou smart nie soos ’n been spalk of salf daaraan smeer nie. God se genesende sorg is egter tot jou beskikking. Kom saam met Clarissa Moll op ’n reis deur jou hartseer – en ontdek die liefdevolle teenwoordigheid van Christus wat jou nooit verlaat nie. Hoewel hierdie leesplan nie jou diepste smart kan genees nie, sal die inhoud jou versterk en jou gefokus hou terwyl jy deur jou verlies werk.
More
Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: cumbooks.co.za/pages/about-us