Anderkant die DuisternisVoorbeeld

LUISTER JY?
“Toe die donkie weer die engel van die Here sien staan, het dit onder Bileam gaan lê. Bileam was woedend. Hy het die donkie met ’n stok geslaan. Die Here het toe die donkie laat praat. ‘Wat het ek aan jou gedoen dat jy my nou al drie keer geslaan het?’” (Numeri 22:27-28, NLV)
“Volg maar net die Here jou God en eer Hom. Gehoorsaam sy gebooie, luister na sy stem en hou vas aan Hom.” (Deuteronomium 13:4, NLV)
God het diere só geskep dat hulle op ongelooflike maniere met mekaar kan kommunikeer. Walvisse gebruik klankintonasies om inligting aan mekaar oor te dra oor waar hulle is. Voëls fladder hulle vlerke in indrukwekkende hofmaakrituele om te sê: “Ek is hier! Sal jy met my uitgaan?” Maar nie een van ons sal ooit verwag dat ons geliefde hond of kat hulle bekke sal oopmaak en met ons sal begin praat nie.
Die profeet Bileam het dit ook nie verwag nie. Maar op pad na Moab het hy die grootste verrassing ooit gekry in Numeri 22. Bileam het ’n bitter moeilike opdrag ontvang: Hy moes die Israeliete se God gaan uitdaag en dié volk namens hulle vyande vervloek. Maar God het ander planne gehad. En wie sou God se boodskap beter kon oordra as Bileam se donkie?
Terwyl hy op die pad na Moab aangestap het, het Bileam se donkie drie keer baie vreemd opgetree (Numeri 22:23-27). Toe hy die engel van die Here in die pad voor hom sien staan – wat vir Bileam heeltemal onsigbaar was – hardloop hy sommer deur die veld. Bileam slaan hom totdat hy teruggaan pad toe. Om by die engel verby te kom, skuur die donkie toe styf teen ’n klipmuur verby en druk Bileam se voet teen die muur vas. Uiteindelik, toe al sy pogings om te keer dat Bileam verder op daardie pad reis, misluk het, maak die donkie sy bek oop en begin praat (Numeri 22:28). En skielik luister Bileam. Wat ’n vreemde en onverwagte wekroep!
Die dood van ’n geliefde skud ons ook wakker uit ons illusies. Ons stap deur die lewe met al ons voornemens en ons planne, totdat verlies ons in ons spore stuit. Soos Bileam, staan ons in die middel van die pad, verward en kwaad. Wat op aarde het nou gebeur? Die dood is soos Bileam se donkie; dit roep ons om aandag te gee. In ons seerkry en swaarkry het God belangrike dinge om vir ons te sê. As ons maar net sal gaan stilstaan en luister.
In plaas daarvan om jou ore toe te druk en jou oë styf toe te knyp, nooi jou verlies nader om God se waarheid aan jou te openbaar. Het jy ’n wekroep nodig om jou prioriteite te herrangskik? Het jy verhoudings afgeskeep wat jy nou weer kan opbou? Wat sien jy ná jou verlies op ’n ander manier? God kan op onverwagte maniere met ons praat. Hou vas aan Hom en vra Hom om jou oë, ore en hart oop te maak om sy boodskap vir jou vandag te ontvang (Deuteronomium 13:4).
Aangaande hierdie leesplan

Jy kan rou smart nie soos ’n been spalk of salf daaraan smeer nie. God se genesende sorg is egter tot jou beskikking. Kom saam met Clarissa Moll op ’n reis deur jou hartseer – en ontdek die liefdevolle teenwoordigheid van Christus wat jou nooit verlaat nie. Hoewel hierdie leesplan nie jou diepste smart kan genees nie, sal die inhoud jou versterk en jou gefokus hou terwyl jy deur jou verlies werk.
More
Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: cumbooks.co.za/pages/about-us