Anderkant die DuisternisVoorbeeld

WAAR ALLES BEGIN HET
“Ook dit was vir God goed.” (Genesis 1:10, NLV)
“Waarlik, u goedheid en trou vergesel my al die dae van my lewe.” (Psalm 23:6, NLV)
Op my foon bêre ek ’n foto van my familie voordat die dood aan ons deur kom klop het. Dit is geneem 24 uur voor my man, Rob, se noodlottige ongeluk. Op die foto sit ons almal en kyk na ’n kragmeting tussen mense en trekkers by die plaaslike landbouskou.
Wanneer ek ook al na daardie foto kyk, kan ek nie help om te dink aan alles wat ons daardie aand nié geweet het nie. Ons het nie geweet die dood sou so vinnig in ons lewe instap nie. Ons het nie geweet ons sou nooit weer kon sê nie: “Ek is lief vir jou.” Ons het nie geweet ons kinders sou sonder ’n pa grootword en dat sy afwesigheid ’n groot litteken op hulle lewe sou laat nie. Al wat ons geweet het, was dat die kos heerlik was, dat die toorkunstenaar se vertoning onoortuigend maar vermaaklik was, en dat die kinders wat die trekkers probeer trek het verbasend sterk was.
Jy het jou eie “onthou jy toe”-stories. Voor die kankerdiagnose. Voor die Alzheimersiekte al erger geraak het. Voor die ongeluk of die telefoonoproep. Of jy jou geliefde onlangs of dekades gelede verloor het, om terug te kyk op daardie oomblikke bring hartseer en ’n kloppende pyn wat tot diep in jou beendere neersink. Dit herinner jou dat daar ’n tyd was toe die lewe so goed was.
Ongelukkig laat die pyn en die herinneringe aan ’n hospies, die begrafnispolisse en eindelose trane, die einde-van-die-lewe-besluite en die groot hartseer ons herinneringe verdof. Die duisternis van verlies maak dit vir ons moeilik om God se goedheid in ons hede raak te sien. Daarom help dit soms om eers terug te kyk voordat ons vorentoe beweeg.
Ons begin ons reis juis hier, by die skepping, waar alles begin het (Genesis 1:1). Toe God die wêreld uit sy onverganklike liefde geskep het, het Hy alles wat Hy gemaak het goed genoem: die berge, die avokadopere, die flaminke, die swaardvisse. Met deernisvolle sorg het Hy man en vrou na sy beeld gemaak, ’n intieme weerspieëling van die Drie-eenheid. Voordat sonde God se volmaakte wêreld geskend het, voordat die dood gekom het om te steel en te vernietig, was die lewe altyd goed, vir almal en alles.
Vandag voel jou “onthou jy toe”-stories dalk ’n leeftyd ver. Ek dink wanneer God na hierdie wêreld kyk, voel Hy ongetwyfeld dieselfde oor sy stories. Die sonde het alles gebreek; die dood het sy dag gekry. Nietemin, terwyl jy deur hierdie dag stap, hou vas aan die hoop wat daardie gelukkige herinneringe steeds vir jou kan bring. Ons God bly steeds dieselfde, gister, vandag en vir altyd (Hebreërs 13:8). Hy is nie klaar met hierdie wêreld nie; ook nie met jou nie.
Dieselfde deernisvolle omgee-liefde wat die sterrestelsels gevorm het, sorg vandag nog vir jou, my dierbare, treurende vriend. Dieselfde krag wat daardie planete in hulle bane geplaas het, hou jou regop in jou swakheid. Dieselfde troos wat Dawid in Psalm 23 geskryf het, is ook daar vir jou. Ja, jou lewe was altyd so goed en, deur God se verstommende krag, kan dit wéér so goed wees.
Aangaande hierdie leesplan

Jy kan rou smart nie soos ’n been spalk of salf daaraan smeer nie. God se genesende sorg is egter tot jou beskikking. Kom saam met Clarissa Moll op ’n reis deur jou hartseer – en ontdek die liefdevolle teenwoordigheid van Christus wat jou nooit verlaat nie. Hoewel hierdie leesplan nie jou diepste smart kan genees nie, sal die inhoud jou versterk en jou gefokus hou terwyl jy deur jou verlies werk.
More
Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: cumbooks.co.za/pages/about-us