Die Verlosser wat Uitreik na Ons - 'n Studie oor die Nabyheid van God van die Krip tot die KruisVoorbeeld

Die Lyende Dienaar
Lees: Jesaja 53:1-12
SOAP: Jesaja 53:5-7
Oor óns oortredinge is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop, maar die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom. Hy is mishandel, maar hy het geduldig gebly, hy het nie gekla nie. Soos 'n lam wat na die slagplek toe gelei word en soos 'n skaap wat stil is as hy geskeer word, het hy nie gekla nie.
Oordenking
Lank voor Jesus in Betlehem gebore is, het die profeet Jesaja reeds vir ons ’n kykie gegee na die kruis. ’n Verlosser sou kom – nie as ’n triomfantlike krygsman nie, maar as ’n dienaar. ’n Man van smarte. Iemand wat vertroud is met lyding. Iemand wat die gewig van ons sondes op sy skouers sou dra.
Jesus het nie gekom om die wêreld se applous te wen nie. Hy het gekom om deurboor, verbrysel en gewond te word – vir óns.
Dit is moeilik om hierdie verse te lees sonder om die volle gewig daarvan te voel. Dit is nie net poëtiese taal nie. Dit is die harde werklikheid van wat Jesus vrywillig verduur het om vir ons genesing te bring. Hy het gely sodat ons met God versoen kon word.
Hy het stil gely.
Vrywillig.
Uit liefde.
Soos ’n lam wat na die slagplek gelei word, het Jesus Hom nie daarteen verset nie. Hy het nie weggehardloop nie. Hy het nie eers ’n woord ter verdediging gesê nie. Hy het die kruis gekies sodat ons Hom kon ken, en sy vergifnis, genesing en vrede kon ervaar.
Liewe vriend of vriendin, die kruis was nie ’n ongeluk nie. Dit was nie ’n tragiese einde nie. Dit was die vervulling van ’n plan wat van die begin van tyd af bestaan het – ’n plan om jou te red. ’n Plan om ’n pad terug na die Vader moontlik te maak. Verlossing is slegs moontlik deur geloof in Jesus.
Laat jou hart vandag hier stilstaan. Laat die gewig van sy offer jou siel deurdring. Deur sy wonde is jy genees. Deur sy lyding is jy vry.
Gebed
Jesus, dankie dat U my plek ingeneem en my sonde gedra het. Help my om nooit die prys van my verlossing te vergeet nie. Laat my hart altyd leef in dankbaarheid vir die prys wat U betaal het. Amen.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

Van die krip tot die kruis tot by die belofte van sy wederkoms, het Jesus nog altyd uitgereik na ons. Nie om te oordeel nie, maar om te red. Nie om te eis nie, maar om te gee. Nie om op ‘n afstand te bly nie, maar om by ons te woon. Hierdie Bybelstudie neem jou op ‘n reis deur sleutelgedeeltes in die Skrif wat die nabyheid van Christus openbaar.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.lovegodgreatly.com/Afrikaans









