Die Verlosser wat Uitreik na Ons - 'n Studie oor die Nabyheid van God van die Krip tot die KruisVoorbeeld

Toe Ons Nog Sondaars Was
Lees: Romeine 5:1-11
SOAP: Romeine 5:6-8
Toe ons nog magteloos was, het Christus immers reeds op die bestemde tyd vir goddeloses gesterwe. 'n Mens gee tog nie sommer jou lewe prys nie, selfs nie vir 'n regverdige nie. Ja, tog, vir 'n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe. Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.
Oordenking
Daar is soveel troos vir ons in hierdie woorde: "Op die bestemde tyd." Voordat ons gebore is en voordat ons enige iets kon doen om op een of ander manier God se liefde te verdien of onsself waardig te bewys, het Christus vir ons gesterf.
Dink daaroor na.
Die inisiatief om ons lief te hê en te red behoort volkome aan God. Ons verdien dit nie en ons kan niks doen om dit te ontvang nie. Die waarheid is dat ons ongoddelike sondaars is wat sy liefde verwerp, ongehoorsaam is aan sy Woord en wat ons eie weg volg. En nog steeds het God ons liefgehad. Jesus het geweet van elke sonde wat jy ooit sou pleeg en Hy het jou steeds so liefgehad dat Hy na die kruis gegaan het vir jou, jou sonde op Hom geneem het en in jou plek gesterf het.
Dit is hoe God sy liefde vir ons wys. Om hierdie waarheid te onthou en gereeld daaroor na te dink sal ons help groei in ons begrip van God se diepe liefde vir ons.
Die volgende keer wat jy ongeliefd en nie waardig voel nie, onthou die volgende: Jesus het vir jou gekom terwyl jy nog op jou slegste was. Hy het nie gewag dat jy 'n beter persoon moes wees voordat Hy vir jou gesterf het nie. Hy het sy lewe gegee terwyl jy steeds in sonde was, sodat jy nou sy geliefde kan wees. Vra Hom vandag vir 'n hernude en bewustelike uitstorting van sy liefde in jou hart.
Gebed
Here, dankie dat U my liefhet en vir my gesterf het toe ek niks gehad het om aan U te bied in ruil daarvoor nie. Help my om te onthou dat u liefde nie gebaseer is op wat ek doen nie, maar op u volmaakte offer. Amen.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

Van die krip tot die kruis tot by die belofte van sy wederkoms, het Jesus nog altyd uitgereik na ons. Nie om te oordeel nie, maar om te red. Nie om te eis nie, maar om te gee. Nie om op ‘n afstand te bly nie, maar om by ons te woon. Hierdie Bybelstudie neem jou op ‘n reis deur sleutelgedeeltes in die Skrif wat die nabyheid van Christus openbaar.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.lovegodgreatly.com/Afrikaans









