Geborge in Christus - 'n Studie van EfesiërsVoorbeeld

Week 1 / Gekies en Verlos
Die Krag van die Evangelie
Lees: Efesiërs 1:1-2; Handelinge 9:1-9; Handelinge 9:17-18
SOAP: Efesiërs 1:1
Van Paulus, ‘n apostel van Christus deur die wil van God. Aan almal in Efese wat aan God behoort en in Christus Jesus glo. AFR83
Oordenking
Die boek Efesiërs is een van Paulus se briewe aan die gemeente in Efese. Efese was 'n welvarende stad in die hedendaagse Turkye. Dit was bekend vir sy rykdom en afgodery. Toe Paulus egter vir twee jaar in Efese kom woon het, het hy die evangelie met vrymoedigheid verkondig en beide die mense en die stad het verander (Handelinge 19). Paulus skryf later hierdie brief tydens sy gevangenskap in Rome om die mense aan te moedig tot volwassenheid in hul geloof.
Die feit dat Paulus homself 'n apostel kan noem, is een van die sleutelpunte van die boek Efesiërs. Dit is slegs deur God se genade en die verlossing in Jesus Christus dat enigeen in staat is om nuut gemaak te word en 'n nuwe lewe te hê.
Voordat Paulus ’n apostel van Jesus geword het, was hy ’n goddelose man wat Christene vervolg en baie laat vermoor het (Handelinge 8:1-3). God het egter ander planne vir hom gehad. Terwyl hy op pad na Damaskus was, is Paulus wonderbaarlik deur Jesus ontmoet, en sy lewe is radikaal verander. Paulus het sy bose weë verlaat en sy lewe aan die verkondiging van die evangelie toegewy.
Dit is ook ons verhaal, vir diegene wat hul geloof in Jesus geplaas het. Ons was ook op die pad na alles wat met onsself te doen het en ons het ver van God af weggedwaal. Maar toe het Jesus ons in sy goedertierenheid ontmoet en ons deur sy genade verander.
Dit is deur hierdie genade en deur die wil van God dat ons heiliges genoem kan word, 'n nuwe identiteit kan hê en in die vrede van Christus leef. Wat 'n ongelooflike God wat ons dien!
Gebed
Jesus, dankie dat U alles nuut maak. Dankie dat U vir my ‘n nuwe lewe gegee het soos U met Paulus gedoen het. Mag ek daagliks herinner word aan die genade en vrede wat slegs in U gevind word. Amen.
Aangaande hierdie leesplan

Die wêreld vertel ons dikwels dat ons ander mense se liefde moet verdien of dat ons daaraan moet werk om ander se liefde te wen. Christenskap draai egter hierdie idee op sy kop. In hierdie studie gaan jy vir ses weke lank reis deur die boek Efesiërs, waar jy sal sien dat ‘n lewe wat gebou word op die liefde, genade, vryheid, en vergifnis van die Evangelie, alles verander.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.lovegodgreatly.com/Afrikaans