Delf dieper deur OpenbaringVoorbeeld

Delf dieper deur Openbaring

DAG 12 VAN 28

Die eerste ses seëls van God se verlossende oordeel – Openbaring 6

Die sewe seëls van God se oordeel oor die mensdom word in Openbaring 6-7 en die eerste vyf verse van Openbaring 8 geopenbaar, wat ook ongekende lyding en vervolging vir gelowiges inhou. God belowe egter beskerming (die merk op hulle voorkop – Openb. 7:3) en uiteindelike oorwinning.

Die eerste ses seëls laat telkens ’n ander aspek van God se oordeel ontvou. Dit is ’n proses wat tussen Christus se verlossende opstanding, hemelvaart en troonbestyging aan die een kant en die wederkoms aan die ander kant plaasvind. Die oordeel is dus iets wat deurlopend in die geskiedenis gebeur, soos dit ook waar is van God se verlossing.

Die temas wat in dié oordele aangeraak word – ook later dié van die trompette en die bakke – toon groot ooreenkomste met die onderskeie profetiese oordele van Jesus in die evangelies – Matteus 24; Markus 13; Lukas 21. Ook met soortgelyke gedeeltes in die Ou Testament – Jesaja 24-27; 33-35; 40-66; Esegiël 38-39; Joël 2-3; Daniël 7-12; Sagaria 12-14.

Die oordele sluit onderdrukking, oorloë, tweedrag en twis, hongersnood, aardbewings, vervolging, kosmiese ontwrigting sowel as verlossing en bevryding in, hoewel laasgenoemde deur groot ontberings gebeur.

Die eerste vier seëls word deur die Lam oopgemaak en opeenvolgend deur ’n ander een van die vier lewende wesens aangekondig met “Kom!” Omdat hulle met die hele skepping verbind word, beteken dit waarskynlik dat die breek van die seëls regdeur die skepping ’n impak gaan hê – om die waarheid te sê, ’n vernietigende effek soos ’n mens uit die beskrywings kan agter kom.

Die eerste seël

Die eerste seël is dié van ’n wit perd met ’n boogdraende ruiter wat ’n oorwinningskroon dra, ‘n simbool van politieke mag en uittrek as oorwinnaar en om te oorwin. Omdat dié ruiter baie soos die Messias op die wit perd in Openbaring 19 lyk, maar hier as deel van die seëls van oordeel beskryf word, kan ’n mens die wit perd en sy ruiter in Openbaring 6 as ’n vals messias of selfs as die antichris sien. Die wit perd staan dus waarskynlik vir ’n vals messias wat die skyn van oorwinning dra, maar eintlik ander wil onderdruk (vgl. Mrk. 13:5-6 waar Jesus teen misleiers waarsku).

Die tweede seël

Die tweede seël is dié van ’n vuurrooi perd waarvan die ruiter ’n groot swaard dra en die vrede van die aarde wegneem sodat mense mekaar kan doodmaak. Die vuurrooi perd staan dus vir die bloed van moord en oorlog.

Die derde seël

Die derde seël is dié van ’n swart perd waarvan die ruiter met ’n weegskaal koring en gars in rantsoene afmeet en ’n stem tussen die vier lewende wesens (waarskynlik Christus) die buitensporige pryse van dié stapelvoedsel, koring en gars, aankondig en beveel dat die duurder en luukser items, olie en die wyn, nie beskadig moet word nie, omdat dit so waardevol geword het. Die swart perd staan dus vir die skaarste van hongersnood en die gepaardgaande swaar ekonomiese tye wat die meeste mense tref, hoewel die rykes skotvry daarvan afkom.

Die vierde seël

Die vierde seël is dié van ’n vaalgroen perd (die kleur van ’n lyk) wie se ruiter Die Dood is en ’n kwart van die aarde doodmaak. Die vaal perd staan dus uiteraard vir die dood.

Hierdie vier perde en ruiters wis ‘n kwart van die aarde se mense uit deur die swaard, hongersnood, pessiektes en wilde diere.

Die perspektief wat dié vier seëls en vier perde vir ons gee van wat die afgelope twee millennia in die wêreld gebeur – en nog meer so die afgelope paar dekades – is regtig onrusbarend akkuraat.

‘n Mens kan aspekte van soveel vernietigende oorloë regdeur die eeue en regoor die wêreld hieraan verbind. Nie net die grotes soos die twee Wêreldoorloë van die 20ste eeu nie, maar ook die talle kleiner oorloë waardeur miljoene mense steeds in die 21ste eeu onderdruk, ontwortel en in vlugtelinge verander word.

Die inhoud van die vier seëls kan ook met die dodelike ellende verbind word wat toenemend deur opeenvolgende pandemies regoor alle grense in die wêreld veroorsaak word (Voëlgriep, M.I.V./Vigs, TB, Ebola, Koronavirus).

Die ooreenkoms tussen ons onlangse ervaring van COVID-19 en die boodskap van verydeling en vernietiging van die vier seëls, laat ‘n mens besef dat hierdie dinge nie maar net aan die natuurlike verloop van sake te wyte is nie, maar dat dit ook iets is wat deel is van God se oordeel oor ’n mensdom wat Hom nie wil dien nie.

Daarby kom nog dinge soos wydverspreide hongersnood en armoede wat die lewens van miljoene bedreig. Saam met die geweld wat baie mense se lewens op ‘n daaglikse basis bedreig.

Die vyfde seël

Die vyfde seël word dan deur die Lam oopgemaak en dit open Johannes se visie op die siele van dié wat doodgemaak is vanweë die woord van God en die getuienis wat hulle gelewer het. Hulle het hulle lewens as’t ware op die altaar geplaas en dít is waar hulle nou ná hulle dood is, onder die hemelse altaar.

Op hulle roepende smekende vraag hoe lank die Here nog gaan wag met die voltrekking van sy oordeel om hulle bloed op die aardbewoners te wreek, antwoord iemand dat hulle nog ’n kort rukkie moet rus totdat hulle getal voltallig is. Hulle word solank met wit oorwinningsklere beklee.

Let op dat die martelare nie vir wraak as sodanig vra nie, maar vir regstelling en regverdigheid. En hulle vra en verwag dit van die regte Wese, van God.

Die sesde seël

Die sesde seël wat die Lam oopmaak, bring ’n groot aardbewing wat kosmiese ontwrigting veroorsaak – son, maan, sterre – wat al die aardbewoners weens angs vir die toorn van God en die Lam laat wegkruip. Dit is die teken dat die einde naby is, dat alles dreig om te vergaan. Dit bevat ook ‘n eerste visioen van die wederkoms van die Here Jesus deur sy troon en sy toorn.

Let op hoe almal getref word hierdeur, die politieke leiers, die burokrate, die militêre leiers, die rykes, die invloedrykes, elke slaaf en elke vry man (Openb. 6:15). En hulle kruip uiteindelik weg weens die invloed van hierdie ses seëls van die toorn van God op die troon en die Lam.

Hierdie sesde seël se oordeelsvoltrekking is ten dele ’n antwoord op die gebede van die heiliges, iets wat nog duideliker in Openbaring 8 genoem sal word – waar die sewe trompette ’n direkte gevolg is van die gebede – en ten dele ’n voorbereiding vir die koms van die nuwe hemel en aarde wat met Jesus se wederkoms geassosieer word.

Boodskap en betekenis

Die eerste ses seëls is 'n progressiewe ontvouing van God se oordeel oor die wêreld, 'n proses wat plaasvind tussen Christus se hemelvaart en sy wederkoms. Dit beklemtoon ook dat oordeel en verlossing gelyktydig plaasvind, met die martelare wat vir geregtigheid wag.

Dit bevestig God se soewereine beheer oor die geskiedenis deur sy Seun, die Lam. Niemand kan sy regverdige oordeel ontduik nie, behalwe dié wat aan Hom behoort, selfs al het hulle in die proses die hoogste prys vir hulle lojaliteit betaal. Hulle word deur God na sy troon geneem en in sy teenwoordigheid versorg.

Dag 11Dag 13

Aangaande hierdie leesplan

Delf dieper deur Openbaring

Delf dieper deur Jesus se Openbaring aan Johannes. Elke dag bied opeenvolgende gedeeltes uit Openbaring met insiggewende kommentaar op hierdie kragtige visioene wat steeds relevant is vir vandag. Jesus se boodskap is duidelik: “Ek kom gou!” Die seëls is gebreek, die trompette blaas, en die bakke van God se verlossende oordeel word uitgegiet. Openbaring trek die gordyn oop vir ’n geestelike werklikheid waarin gelowiges geroep word om getrou te volhard as koninkryk van priesters vir God, ten spyte van die bose aanslag op hulle lojaliteit.

More

Ons wil graag Bybelskool.com bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.bybelskool.com