Werp Jou Bekommernis op HomVoorbeeld

Deur God Geroep en Toegerus
Ek het hom toegerus met my Gees sodat hy met vaardigheid, insig en verstand enige werk kan doen ... (Eksodus 31:3).
“Jou taak vir die internasionale boekekspo,” het my baas my ingelig, “is om ’n regstreekse radio-uitsending op die perseel te reël.” Ek het bang geword, want dit was onbekende terrein vir my. "Vader, ek het nog nooit so iets gedoen nie", het ek gebid. "Help my asseblief."
God het hulpbronne en mense voorsien om my te lei: ervare tegnici en uitsaaiers, asook herinnerings gedurende die ekspo van besonderhede wat ek oor die hoof gesien het. As ek terugkyk, weet ek die uitsending het goed verloop omdat Hy geweet het wat nodig is en my aangespoor het om die vaardighede wat Hy my reeds gegee het, te gebruik.
Wanneer God ’n taak aan ons toevertrou, rus Hy ons ook daarvoor toe. Toe Hy Besaleël aangestel het om aan die tabernakel te werk, was hy reeds ’n bekwame vakman. God het hom verder toegerus deur hom met sy Gees te vervul, asook met wysheid, insig, kennis en allerlei vaardighede (Eksodus 31:3). God het ook vir hom ’n assistent, Oholiab, gegee en ’n span bekwame werkers (vers 6). Met God se bemagtiging het die span die tent, sy toebehore en die priesterlike klere ontwerp en gemaak. Hierdie items was belangrik vir die Israeliete se volwaardige aanbidding van God (verse 7–11).
Besaleël beteken “in die skaduwee [beskerming] van God.” Die vakman het onder God se beskerming, krag en voorsiening aan die projek van ’n leeftyd gewerk. Laat ons met moed sy leiding gehoorsaam terwyl ons ’n taak tot voltooiing bring. Hy weet wat ons nodig het, en hoe en wanneer om dit te gee.
Karen Huang
Vader, dankie dat U my toerus met alles wat ek nodig het.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

Of jy God vir sy genade loof of met jou eie geloof worstel, kan jy seker wees God sal jou altyd met sy onveranderlike liefde, waarheid en krag ontmoet. Word deel van 'n gemeenskap van vroue wat toegewy is om nader aan God en mekaar te groei deur te vertrou Hy is en sal altyd genoeg wees.
More