Leesplan inligting

Oordenking: Bid vir lande regoor die wêreldVoorbeeld

Around the World Prayer Devotional

DAG 26 VAN 30

Niks sal die Werk van die Here Verhinder nie 


Op 'n normale Dinsdag in Januarie, minute voor 'n geskeduleerde telefoonoproep, het die nuus gekom dat daar 'n potensiële terroriste-aanval in 'n kompleks in Nairobi was, wat 'n hotel, banke en kantore van 'n belangrike organisasie gehuisves het. Ek het die oproep beantwoord, maar het 'n voorgevoel gehad en die oproep gou beëindig. 


Ek het by ons kerkpersoneel aangesluit en gebede opgestuur vir die betrokkenes en die stad, al het ons nie al die inligting gehad nie. Ure later het ons uitgevind dat die gesinne van sommige van ons naaste vriende en vennote in die bediening, in die aanval vasgevang was. Sommige het oorleef. Ongelukkig het die kinders en eggenote van ander goeie vriende nooit huis toe gekom nie. 


Sedert hierdie gebeurtenis het ek begin nadink oor die lewe, deur die lens van die ewigheid en gedink hoe een oomblik sulke drastiese gevolge in ons lewens kan hê. My vriende was gewone mense wat 'n normale lewe gelei het totdat hulle lewens ontwrig is. Binne een oomblik het die lewe soos hulle dit geken het, dramaties verander.


Die gesinne wat deur die aanval geraak is, het herhaaldelik twee moeilike maar belangrike vrae gevra terwyl ons hulle ondersteun het:


· 1. Hoekom? Hoekom het dit gebeur? Hoekom ek?


Daar was 'n jong dame wie se lewe gespaar is omdat ses manlike kollegas haar met hulle liggame van die aanvallers se koeëls beskerm het. Net sy het bly leef om vir die wêreld van hulle heldedaad te vertel. 


· 2. Wat as …?


'n Vriend van my het 'n paar minute voor die aanval met sy vrou gepraat. Sy was veronderstel om haar kantoor te verlaat vir 'n doktersafspraak, maar sy het 'n bietjie langer gedraai. Wat sou gebeur het as sy vroeër haar kantoor verlaat het soos haar plan was? 


Twee Skrifgedeeltes het my gehelp om hierdie vrae te beantwoord en ek het dit met gesinne en vriende gedeel wat besig was om die traumatiese ervaring te verwerk. Die eerste een is 2 Kronieke 20:1–9. Koning Josafat het gehoor dat sy vyande 'n groot weermag bymekaar gemaak het om sy volk aan te val. Hy was verskrik en bang. Ons kan egter 'n les uit sy reaksie leer. Die Bybel sê hy het besluit om hulp te soek by die Here. Hy was bewus van God se grootheid en het besef dat alle krag en mag in sy hande was! Alhoewel die vyand se weermag vreesaanjaend was, het Josafat geweet dat God 'n hart het en sy geroep sou hoor en sy mense red!


Wanneer ons lewens onderbreek word, moet ons na ons groot en magtige God kyk (2 Kronieke 20:12). Ek glo dat as ons na die Here kyk, word God se krag vrygestel om deur ons te werk. Ons weet dalk nie hoekom ons aangeval word nie, maar ons weet wie in staat is om ons te red en na ons belofte te lei! 


Die tweede Skrifgedeelte is Johannes 11:1–43, die bekende verhaal waar Jesus vir Lasarus uit die dood opwek. Marta sê vir die Here: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie” (vers 21). Jy sien, in die lewe en in die bediening gaan ons deur moeilike omstandighede. Toe Marta deur so 'n tydperk gegaan het, het sy haar diepste teleurstelling teenoor Jesus uitgespreek. As Jesus maar net vroeër gekom het. Of soos ek van ouers gehoor het na die terroriste aanval in Nairobi; as hulle kinders net nie in daardie gebou gewerk het nie. 


“As ...” situasies kom dikwels na vore, maar ons weet nie wat binne die volgende minuut gaan gebeur of waarheen die lewe ons gaan lei nie. Toe Maria haar twyfel, verwardheid en droefheid teenoor Jesus uitgespreek het, het Hy gereageer deur vir haar te sê dat Lasarus weer sal lewe en op daardie manier vir haar hoop gegee. Hy het egter ook haar aandag gevestig op wie Hy is, deur te sê: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?” (verse 25 en 26). Marta het geantwoord: “Ja, Here” (vers 27). Hierdeur het sy bevestig sy glo dat Jesus presies was wie Hy beweer het en dat Hy kon doen wat Hy gesê het Hy sou doen, ongeag die omstandighede.


Soos Marta, het ek myself nou op die plek bevind waar ek glo dat Jesus die opstanding en die lewe is! Dit het my fokus verskuif en dié van my vriende en kollegas wat dieselfde doen. 'n Dienskneg van God fokus slegs op Hom! Hy is magtig in die stryd. Hy is kragtig genoeg om ons te lei. Hy is die opstanding en die lewe, in staat om lewe en hoop te bring, selfs in die moeilikste omstandighede.


Vriende, skep moed. Niks sal die werk van die Here verhinder nie! (Matteus 16:18).


Gebedsversoeke

· Bid vir 'n vars uitstorting van die Gees van God sodat die kerk versterk en verkwik sal word en hernude energie sal kry om die nasie met die evangelie te bereik. 

· Bid dat God sal voortgaan om sy koninkryk in Kenia te bou en deur middel van die liggaam van Christus te doen wat ons nooit op ons eie sal kan doen nie.
Dag 25Dag 27

Aangaande hierdie leesplan

Around the World Prayer Devotional

Welkom by jou groot avontuur! Deur middel van hierdie oordenkings gaan ons deur die wêreld reis en waarhede in die Woord van God ontgin. Ons toergidse is vriende van die uiteenlopende netwerk van "OneHope" se wêreldwye v...

More

Ons wil graag vir OneHope bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://onehope.net/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid