20/20: God se Visie Vir My LeweVoorbeeld

'n Beker Koue Water
Deur Sarah Wronko
"Wie aan een van hierdie geringstes net 'n beker koue water gee omdat hy my dissipel is, sál sy beloning kry. Dit verseker Ek julle. " (Matteus 10:42)
Dit was 'n koue nag, en die eerste sneeu van die winter het stilweg op die bevrore aarde kom rus. Ek was 17 jaar oud en op die punt om die vrou te ontmoet wat my lewe vir altyd sou verander. 'n Week vantevore het 'n familievriend my gevra of ek sou belangstel in 'n werk as 'n oppasser vir 'n baie eensame, bejaarde weduwee. My verantwoordelikhede sou alles insluit van wasgoed doen, maaltye voorberei en haar kombuis opruim tot net 'n vriendelike teenwoordigheid vir haar te wees.
Aanvanklik het die gedagte my bang gemaak. Ek het nie veel ervaring gehad om met bejaardes te werk nie, en het gevoel dat ek lomp sou wees omdat ek nie geweet het hoe om op te tree of wat om te sê nie. Ek het egter God se teenwoordigheid in hierdie versoek aangevoel, en ek het geweet dit is iets wat Hy wou hê ek moes doen.
Daardie aand, toe Margaret haar deur oopmaak en my versigtig in die oë kyk, het ek geweet dat God iets wonderliks vir ons albei in gedagte gehad het. Oor 'n koppie warm tee het sy my vertel van die dinge wat sy gedoen wou hê. Terwyl sy gepraat het, het God met my begin praat oor sy begeertes vir Margaret — sy begeerte dat sy geliefd en versorg moet voel en sy begeerte dat ek tot haar diens moet wees.
In die loop van die volgende jaar het ek God se liefde met Margaret gedeel wanneer ek haar 'n manikuur gegee het of terwyl ons kaart gespeel het. Sy het my gevra om die seën by elke ete te vra terwyl sy rustig met trane in haar oë sit. Kerstyd het Margaret vir my gevra om grondboontjie-tameletjie vir al haar vriende te maak, en daarna het ons die "vrieskas" (yskas) vir die agtiende keer reggepak.
Margaret was baie lief om by restaurante te gaan eet, maar wou nie alleen gaan nie. Wanneer ek saam met haar gegaan het, het dit vir haar soveel beteken om bloot 'n vriendin te hê wat saam met haar middagete kon geniet. Met een van ons middagetes het Margaret my oor my geloof begin uitvra en waar my vreugde vandaan kom. Haar hart het teenoor my versag namate ek haar met die woord bedien het en sy wou al meer oor my geloof weet.
Op daardie dag kon ek God se liefde met haar deel en hoe Jesus vir ons sondes gesterf het. Met trane in haar oë het sy vir my gesê sy wil Jesus as haar Heer en Verlosser aanneem. Ek sal nooit vergeet toe Margaret gebid en Jesus gevra het om die Here van haar lewe te wees nie. Haar lewe is vir altyd verander … en myne ook.
Jesus het eenkeer gesê: "Wie aan een van hierdie geringstes net 'n beker koue water gee omdat hy my dissipel is, sál sy beloning kry. Dit verseker Ek julle" (Matteus 10:42). Die Here het my gebruik om 'n beker koue water vir Margaret te bring deur haar op die eenvoudigste manier te dien en die liefde van Jesus met haar te deel. Vir 89 jaar het sy geleef sonder om ooit God se liefde te ken, maar deur eenvoudige dade van liefde — is Margaret se hart versag. Sy het 'n dogter van die Koning geword en ek het geleer dat om in God se koninkryk te dien, so eenvoudig kan wees soos om 'n maaltyd te maak of om 'n manikuur aan 'n eensame bejaarde weduwee te gee.
Wanneer ons ander dien, word die liefde van God deur ons vrygestel. God plaas hoë waarde aan die rol van dienskneg. Om die waarheid te sê, Jesus het self die voorbeeld gestel om te dien. Hy het sy liefde aan ander betoon deur hulle te dien. Jesus het vir sy dissipels gesê: "Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees; en elkeen wat onder julle die eerste wil wees, moet julle slaaf wees. So is dit ook met die Seun van die mens: Hy het nie gekom om gedien te word nie maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense" (Matteus 20: 26–28). Vir Jesus het alles nie oor Homself gegaan nie; dit was vir Hom belangrik om alles volgens die wil van sy Vader te doen.
Wat wonderlik is daarvan om ander te dien, is dat dit jou in staat stel om jou liefde in dade uit te druk. God se opdrag aan ons om ander lief te hê, kan dikwels abstrak voorkom en moeilik wees om in konteks te plaas. Wanneer ons iemand egter dien, word ons liefde prakties uitgedruk en … uiteindelik kom sy liefde op elke gebied van ons lewens na vore. God het oral om ons mense geplaas wat ons kan dien. Deur hulle te dien, bewys ons die liefde van God aan hulle. Wanneer mense God se liefde deur ons diens ervaar, versag hulle harte sodat Hy in hul lewens kan werk.
Daar is soveel maniere waarop ons diegene om ons kan dien en liefhê. Wanneer ons die mense wat God op ons pad plaas dien en liefhet, is ons eintlik besig om ons Here en Verlosser Jesus Christus te dien en lief te hê. Vra die Here deur die loop van jou dag hoe Hy wil hê dat jy Hom moet dien en liefhê deur diegene om jou te dien en lief te hê. God kan jou lei om op 'n sendingreis te gaan of iets so eenvoudig te doen as om 'n maaltyd vir 'n gesin of 'n weduwee in nood voor te berei. Vra die Here om jou oë oop te maak en jou te wys hoe jy "'n beker koue water" na iemand kan bring en 'n lewe vir altyd verander.
Kom ons raak die sterwendes, die armes, die eensames en die ongewenstes aan volgens die genade wat ons ontvang het, en laat ons nie skaam of traag wees om 'n nederige werkie te doen nie … dit is nie hoeveel ons doen nie, maar hoeveel liefde ons daarin plaas.
~ Moeder Theresa
Memoriseervers
"As goeie bedienaars van die veelvoudige genade van God moet elkeen, namate hy 'n genadegawe ontvang het, die ander dien" 1 Petrus 4:10.
Aangaande hierdie leesplan

God wil hê dat elkeen van ons gered, genees, vrygemaak, 'n dissipel, toegerus, bemagtig en dienende moet wees. Kom saam met ons op 'n sewe weke toewydingsreis wat jou sal help om hierdie gebiede in jou eie lewe uit te leef. Ons hoop is dat jy die volle omvang van God se visie vir jou lewe sal ontdek en vervul.
More