20/20: God se Visie Vir My LeweVoorbeeld

20/20: God's Vision For My Life

DAG 32 VAN 35

Wees Lief vir God. Wees Lief vir Mense.

Deur Kevin Grove

"Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is verheerlik. Matteus 5:16 

Ek het die grootste gedeelte van my kinderjare in Japan gewoon, maar net voor my eerste jaar op hoërskool, het my gesin teruggekeer na die Verenigde State. Ons het van die buitewyke van Tokio af na die klein dorpie Utopia — 'n pragtige gemeenskap van ongeveer 350 mense in die hartjie van die Texas Hill landstreek — verhuis. Wat 'n kontras van kulture — van oos na wes, groot stad in Asië tot klein dorpie in die VSA, massa vervoer na 4X4 bakkies, sushi na gebraaide hoender, groepsafhanklikheid tot strenge individualisme, sumo-stoei tot sokker … verstaan jy?

Op my eerste skooldag het die feit dat ek 'n heeltemal ander kultuur betree het, nog duideliker geword. Oral waar ek kyk, sien ek kinders in "Wrangler-jeans" en "cowboy" stewels. Ek kan nog die een kleuterskool kind onthou — 'n miniatuur "cowboy" — wat gereeld deur die busbestuurder berispe is om sy koutjie tabak uit te spoeg voordat hy op die skoolbus klim.

Sedert my onvergeetlike hoërskooldae het ek die geleentheid gehad om die verstommende kulture van mense in meer as 35 lande in Asië, Europa, die Midde-Ooste, Afrika en Latyns-Amerika te ervaar. Oral waar ek gaan, is daar so 'n verskeidenheid en skoonheid … 'n ingewikkelde mosaïek van God se skepping. Tog, in elke uithoek van die wêreld, van Tokio tot Utopia, sien ek ook die vlek en pyn van sonde — hopeloosheid, eensaamheid, verlatenheid, mishandeling, vrees, afguns, hebsug, haat, twis, godsdienstige skynheiligheid, siekte en armoede. Geen plek of persoon is immuun nie.

Gedurende 'n vlug vanuit die Afrika-land, Burkina Faso, het ek oor die hierdie vraag nagedink: "Wat as ek in Tokio, Teheran, Darfoer of Ouagadougou gebore is? Of wat as ek onder ander omstandighede in Amerika gebore is? Wat sou my prentjie van Christus wees? Hoe sou die Christendom vir my lyk?”

In baie kulture het mense 'n hoë agting vir die historiese Jesus en sy leerstellings, maar min agting vir die Christendom en die Christene. Wat 'n jammerte! Oral het mense 'n verteenwoordiger van Jesus nodig; 'n lewende voorbeeld van die onvoorwaardelike, herskeppende liefde van Jesus Christus.

Wanneer ons 'n verhouding met God begin, verander dit alles. Dit herskep ons verhoudings met ander — hoe ons hulle sien, van waarde ag en dien — want om God én ander lief te hê, is onafskeidbaar. Jesus het gesê: "Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik" (Matteus 5:16). In Matteus 25, maak Jesus dit duidelik dat deur ander te dien, dien ons Hom. Jakobus gee aan ons opdrag dat ware geloof nie bloot op kennis gebaseer is nie; dit is lewend en aktief — 'n geloof wat goeie werke voortbring. Om ander te dien is 'n wesenlike eienskap van ware geloof.

Ek neem graag ingewikkelde idees en breek hulle af tot hul eenvoudigste vorms. Hier is dus die kern van wat God van ons verwag: wees lief vir God. Wees lief vir mense. Gaan maak dissipels van ander wat ook op hulle beurt dieselfde sal doen. Dit is so eenvoudig. Alles gaan oor verhoudings — 'n verhouding met God en 'n verhouding met ander.

"'n Dief kom net steel en slag en uitroei, Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed" (Johannes 10:10). Ek is oortuig daarvan dat baie Christene nooit 'n oorvloedige lewe ervaar nie, want hulle pogings in hierdie lewe is meestal om hul eie belange te bevorder. Wil jy God se passie en plesier ervaar? Dien Hom deur ander te dien. Maak plek in jou lewe om armes, behoeftiges, die wat seer het of weggestoot is, te dien. 

Maak plek in jou lewe om ander aan te moedig en hulle te help om hul doel te vind en God se roeping te vervul. Bring tyd deur om ander te help leer, groei en te slaag. Staan ook die tyd af om vir mense te bid en jou geloof te deel. Huil saam met die wat huil. Wees bly saam met die wat bly is. Ek en jy is geskep om te dien!

Ek hou van die verhaal van die barmhartige Samaritaan. In hierdie verhaal het die mees onwaarskynlike karakter — die Samaritaan — God se hart openbaar vir 'n man wat beroof, geslaan en vir dood agtergelaat is. Hy het eenvoudig 'n behoefte gesien en die man gedien met alles wat hy gehad het.

Van Tokio tot Utopia kan mense verskil, maar ons behoeftes is baie dieselfde. Mense het 'n behoefte om binne die konteks van opregte verhoudings, gewaardeer en geliefd te voel. Hulle het nie Christelike diens of getuienis nodig wat met 'n agenda gepaardgaan nie. Ons dien nie om te bekeer nie; ons dien omdat ons bekeerd is, en daarom het ons lief en waardeer ons dit wat God liefhet en waardeer — mense.

Skep dus ruimte in jou lewe om ander te dien. Vra die Here om jou oë en hart oop te maak vir die wêreld om jou en jou te help om onvoorwaardelik lief te hê, onbaatsugtig te dien en mildelik te gee.

Span jou boog, laat die liefde uit. Skiet reguit vir die hart. Met alle mag; stel jou teiken in; mik van die begin af. Om God lief te hê, moet jy mense liefhê … dit is die merk waarheen jy skiet.
~ Mark Harris

Vers

"As goeie bedienaars van die veelvoudige genade van God moet elkeen, namate hy 'n genadegawe ontvang het, die ander dien" 1 Petrus 4:10.

Aangaande hierdie leesplan

20/20: God's Vision For My Life

God wil hê dat elkeen van ons gered, genees, vrygemaak, 'n dissipel, toegerus, bemagtig en dienende moet wees. Kom saam met ons op 'n sewe weke toewydingsreis wat jou sal help om hierdie gebiede in jou eie lewe uit te leef. Ons hoop is dat jy die volle omvang van God se visie vir jou lewe sal ontdek en vervul.

More

Ons wil graag dankie sê vir Gateway Church wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting, besoek gerus: https://gatewaypeople.com