20/20: God se Visie Vir My LeweVoorbeeld

Jy Is Anders
Deur Brad Stahl
"As goeie bedienaars van die veelvoudige genade van God moet elkeen, namate hy 'n genadegawe ontvang het, die ander dien" 1 Petrus 4:10.
In sy eerste brief aan Christene wat oor Asië versprei was, het die apostel Petrus gelowiges aangespoor om Christus se voorbeeld as dienaar te volg. Hy het hulle opdrag gegee deur te sê: "As goeie bedienaars van die veelvoudige genade van God moet elkeen, namate hy 'n genadegawe ontvang het, die ander dien." Wanneer ons hierdie vers ontleed, ontdek ons drie kragtige punte oor bediening.
Die vers begin met "As goeie bedienaars ... " Dit toon individualiteit. Nie een persoon word weggelaat nie; elkeen van ons is uniek. Daar is 'n plek vir my en 'n plek vir jou. Die apostel Paulus verduidelik dit mooi aan die hand van die voorbeeld van die menslike liggaam:
"As die voet sou sê: 'Omdat ek nie 'n hand is nie, is ek nie 'n deel van die liggaam nie,' hou hy om dié rede tog nie op om deel van die liggaam te wees nie. En as die oor sou sê: 'Omdat ek nie 'n oog is nie, is ek nie deel van die liggaam nie,' hou hy om dié rede eweneens nie op om deel van die liggaam te wees nie. As die hele liggaam oog was, hoe sou hy kon hoor? En as die hele liggaam oor was, hoe sou hy ruik? Maar nou het God die lede, elkeen van hulle afsonderlik, in die liggaam gevoeg soos Hy dit wou hê. As almal saam net een lid was, hoe sou daar 'n liggaam kon wees?" (1 Korintiërs 12:15–19)
Het jy al ooit gevoel dat jou andersheid jou daarvan weerhou om te behoort? Jy moenie so voel nie. Onthou dat 1 Petrus 4:10 begin met: "As goeie bedienaars ..." Dit beteken jy! God het elkeen van ons vir 'n rede anders gemaak en Hy het ons, na sy goeddunke, met verskillende gawes en vaardighede in die "liggaam" geplaas.
Die middelste gedeelte van die vers sê verder: "Jy moet die gawe gebruik wat jy ontvang het." God het spesiale vermoëns en gawes aan elkeen gegee. Dit beteken dat jy oor 'n spesiale gawe beskik! Het jy al ontdek wat dit is? Dit kan die ding wees wat jy sonder inspanning doen — die ding wat jy spontaan kan doen. Dit kan iets wees wat aan jou tevredenheid en opwinding bied.
In die rolprent Chariots of Fire, het die hoofkarakter — Eric Liddell (wat 'n Olimpiese atleet was) — gesê: "Ek glo dat God my vir 'n doel vinnig gemaak het. Wanneer ek hardloop, voel ek sy genot.” Liddell het 'n gevoel van diepe bevrediging ervaar toe hy die unieke vermoë om goed te kan hardloop, 'n gawe van God, kon gebruik het. Op dieselfde manier is God bly as jy die gawes wat Hy jou gegee het, gebruik om ander te dien.
God gee aan elkeen van ons verskillende gawes, en dit kan op baie verskillende maniere uitgedruk word. Jou gawe kan 'n vaardigheid wees soos loodgieterswerk, skilderkuns, om musiek te maak of strategiese beplanning. Dit kan 'n uitdrukking van goedhartigheid wees soos om gasvryheid te betoon, om vir bejaardes te sorg, om uit te reik na dié wat seer het of om in ander se behoeftes te voorsien. Jou gawe kan iets mondelings wees soos om mense te bemoedig, leiding te neem, om die Woord van God met ongelowiges te deel of om onderrig te gee.
Wat dit ook al is, God het aan jou gawes gegee, en Hy wil saam met jou werk terwyl jy die gawes gebruik om sy koninkryk uit te bou. Nadat Eric Liddell die 400 meter vir mans tydens die Olimpiese Spele gewen het, het hy sy vermoë om te hardloop as sy platform gebruik om die evangelie te verkondig.
Die laaste gedeelte van 1 Petrus 4:10 noem die doel waarvoor "elkeen van julle elke gawe moet gebruik wat jy ontvang het". Dit is "om ander te dien". Net soos ons gawes op verskillende maniere uitgedruk word, is die ontvangers van ons diens ook verskillend. Twee mense het miskien dieselfde gawe om te onderrig, maar die een wil kinders bedien en die ander wil diegene help wat finansiële probleme het. Vra jouself af wie jy graag wil dien. Voel jy beswaard oor 'n spesifieke groep mense of 'n saak? Is daar 'n probleem wat opgelos moet word waarmee jy hulp kan verleen?
Elke keer as jy ander dien, volg jy Jesus se voorbeeld. Hy het vir sy dissipels gesê:
"Julle weet dat dit by die nasies so is dat die regeerders oor hulle baaspeel, en dat die groot manne die mag oor hulle misbruik. Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees: en elkeen wat onder julle die eerste wil wees, moet julle slaaf wees. So is dit ook met die Seun van die mens: Hy het nie gekom om gedien te word nie maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense" (Matteus 20: 25–28).
Die vierde hoofstuk van Efesiërs vertel ons dat dit die kerk opbou en versterk wanneer die lidmate bemagtig is om hul gawes te gebruik. Wanneer jy weer in die kerk is, kyk 'n oomblik na al die mense om jou. Elkeen is daar geplaas met 'n besondere vermoë om mense te dien. Jy is vir 'n spesiale rede daar geplaas. God roep jou om die kerk sterker te maak deur te dien. Soek dus 'n rede, 'n probleem of 'n groep mense, en gebruik jou gawe om te dien.
Ons word die mag gegee, nie om ons eie doelwitte te bevorder nie, ook nie om 'n groot skouspel aan die wêreld voor te lê nie, of om naam vir onsself te maak nie. Daar is net een rede waarvoor jy mag en aansien mag gebruik, en dit is om mense te dien. Vader, help ons om dit te onthou.
~ George W. Bush
Memoriseervers
"As goeie bedienaars van die veelvoudige genade van God moet elkeen, namate hy 'n genadegawe ontvang het, die ander dien" 1 Petrus 4:10.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

God wil hê dat elkeen van ons gered, genees, vrygemaak, 'n dissipel, toegerus, bemagtig en dienende moet wees. Kom saam met ons op 'n sewe weke toewydingsreis wat jou sal help om hierdie gebiede in jou eie lewe uit te leef. Ons hoop is dat jy die volle omvang van God se visie vir jou lewe sal ontdek en vervul.
More