20/20: God se Visie Vir My LeweVoorbeeld

Eenvoudig
Deur Cheri Cochran
“Dit verseker Ek julle: As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie. Wie homself gering ag soos hierdie kindjie, hy is die belangrikste in die koninkryk van die hemel.” Matteus 18:3–4
Ek het geen idee gehad wat hy doen nie, maar dit het beslis na 'n deurmekaarspul gelyk. Dit was die dag na Kersfees 2004 en my sesjarige seun, Drew, was besig om al sy opgestopte diere wat hy besit het netjies op die vloer te rangskik. Ons het die TV-dekking van die tsunami in Thailand en die absolute verwoestende beelde dopgehou toe Drew skielik na sy kamer toe gegaan het. Hy het al sy sagte speelgoed versamel en dit op die mat uitgepak.
“Drew, wat doen jy?”
“Sien jy daardie mense op TV, Mamma? Baie van daardie kinders het nie meer 'n mamma of pappa nie en ek gaan al my diere vir hulle stuur sodat hulle beter kan voel.” My hart het amper ontplof van trots.
Minder as 'n jaar later het ons na ander beelde van verwoesting gekyk en die verskrikking van die orkaan Katrina aan die Golfkus gadegeslaan. Alhoewel hulle net 'n fraksie van die nuusdekking gesien het, was dit genoeg vir Drew, nou sewe jaar oud, en ons vyfjarige dogter, Lindsay, om tot aksie oor te gaan. Hulle het 'n plan beraam om koekies te bak en aan ons bure te verkoop om geld in te samel vir die Katrina-slagoffers wat in Atlanta skuiling gekry het. Ons het dit ook gedoen.
Drew en Lindsay se denkproses was slegs om "die mense wat seer het, te help.”
Eenvoudig. Ongekompliseerd. Kinderlik.
Ek het 'n les by my kinders geleer. Oor 'n tydperk het ek toegelaat dat my diensbaarheid aan God, deur ander te dien, baie gekompliseerd geraak het. Volwassenes het 'n geneigdheid om dit te doen, nie waar nie? 'n Vriendin het eenmaal opgemerk dat sy die vermoë het om die "eenvoudige te kompliseer". Dit klink snaaks maar, jammer om te sê, dis waar van die meeste mense. Die mens se geskiedenis weerspieël dat die meeste idees, projekte, produkte en programme wat eenvoudig begin, mettertyd baie ingewikkelder word.
Dit was ook waar in Jesus se tyd. Die Fariseërs het 'n gekompliseerde stelsel van aanbidding ontwikkel met ontelbare reëls en voorskrifte vir “geregtigheid”. In Matteus 18 het Jesus alles teruggebring na die fundamentele toe met 'n eenvoudige voorbeeld: ons moet soos klein kindertjies word om die koninkryk van die hemel te kan binnegaan. Verlossing is daarop gegrond om 'n eenvoudige geloof in Jesus te hê en met 'n nederige hart — soos 'n kind — te glo en vertrou dat Hy sal doen wat ons nie kan nie. Hierdie soort geloof behaag God.
God wil hê dat ons Hom moet dien deur ander te help met dieselfde nederige, genade-gebaseerde en ongekompliseerde geloof — die soort wat my kinders gehad het. My kinders was nie bekommerd oor die “onbeduidendheid” van hul diens in die lig van die oorweldigende nood nie. Hulle het nie hul hulpbronne gemeet teen ander s'n nie. Dit het nooit eens by hulle opgekom dat dit nie hul "talente" is of dat hulle geen ondervinding het om ander te help nie. Hulle het nie hulle pogings met ander s'n vergelyk nie. Skuld het hulle ook nie gemotiveer nie. Dit was ware medelye wat hulle tot aksie laat oorgaan het. Nederig. Ongekompliseerd. Eenvoudig.
Die verhaal waar Jesus die 5 000 mans plus vroue en kinders gevoed het, is opgeneem in die sesde hoofstuk van Johannes. Dit was nie 'n tsunami of 'n orkaan nie, maar daar was baie honger mense met geen kafee of deur-ry kitskoswinkel daar naby nie. Ten spyte van die ooglopende nood het een seun — 'n kind — vorentoe gekom met die bietjie wat hy gehad het.
Toe die dissipel, Andreas, die kind gesien het, het hy sy twyfel uitgespreek oor die waarde van die aanbod en gesê: “Hier is 'n seun met vyf broodjies en twee klein vissies. Hoeveel van die menigte sal ons tog hiermee kan voed?” Jesus het egter die seun se eenvoudige daad van diens gebruik om wonderbaarlik vir die skare mense te voorsien.
Daardie kind kon tog nie die enigste in die skare met kos by hom gewees het nie. Daardie dag was daar baie moeders — en mammas het tog altyd 'n peuselhappie byderhand — maar hulle het dit nie aangebied nie. Miskien het die seun se ouers hom ook probeer ontmoedig en gedink hy sal soos 'n dwaas lyk deur die klein offer te bring vir die enorme probleem. Die seun se kinderlike geloof, sy eenvoudige onskuld in die tyd van nood, het hom vorentoe gedwing om ander te dien met wat hy gehad het. Jesus het met hierdie gawe gedoen wat niemand anders daarmee kon doen nie. Hy het die onmoontlike gedoen en die skare van duisende gevoed met 'n nederige maaltyd van vyf broodjies en twee vissies.
Hoe dikwels het ek myself nie uit diens uitgepraat omdat die nood groot was en my tyd beperk, my hulpbronne te min en my ondervinding minimaal was nie? Hoe dikwels het ek en jy nie al wat God deur ons wou doen, onderskat omdat “iemand anders dit beter kan doen” nie? Omdat dit wat ons gehad het nie na baie gelyk het om aan te bied nie?
1 Petrus 4:10 moedig ons elkeen aan “om met watter genadegawe jy ook al het, ander te dien as betroubare diensknegte van God se veelvoudige genade.” God se genade werk deur ons wanneer ons ander liefhet en gewillig is om hulle te help met "watter genadegawe" ons ook al het. God se genade werk wanneer ons tyd, gawes en hulpbronne beskikbaar stel met 'n kinderlike geloof en Hom vertrou met dit wat ons nie kan doen nie. Eenvoudige geloof, eenvoudige offer, eenvoudige diens.
Wat beweeg jou hart tot medelye? Wat kan jy doen om ander te help? 'n Tuisgemaakte maaltyd? 'n Skouer om op te huil? Kan jy mense wat by die kerkdeur aankom hartlik verwelkom? 'n Klas lei? 'n Kleingroepie? Iemand dokter toe vat? 'n Briefie van bemoediging skryf? Wat kan jy doen om mense te help wat seer het?
Deur die medelydende diens van my kinders het ek God se genade sien werk. Kinderlike diens … dit is so eenvoudig.
Gee wat jy het … iemand anders mag dit meer op prys stel as wat jy dink.
~ Henry Wadsworth Longfellow
Memoriseervers
"As goeie bedienaars van die veelvoudige genade van God moet elkeen, namate hy 'n genadegawe ontvang het, die ander dien." 1 Petrus 4:10
Aangaande hierdie leesplan

God wil hê dat elkeen van ons gered, genees, vrygemaak, 'n dissipel, toegerus, bemagtig en dienende moet wees. Kom saam met ons op 'n sewe weke toewydingsreis wat jou sal help om hierdie gebiede in jou eie lewe uit te leef. Ons hoop is dat jy die volle omvang van God se visie vir jou lewe sal ontdek en vervul.
More