Die Einde Van Myself Deur Kyle IdlemanVoorbeeld

Liewe Ek
Liewe Ek,
ek ken jou so lank as wat ek kan onthou. Ek het eenkeer gehoor daar is "'n vriend wat nader as 'n broer is," en ja, dit is hoe ons is. Ek twyfel nogtans of dit is waarvan die spreekwoord gepraat het. Ek het 'n hegte verhouding met baie mense gehad, maar ek en jy? Ons het nogal 'n spesiale band.
As ek terugkyk, is dit geregverdig om te sê ek het jou redelik goed behandel. Trouens, meer kere as wat ek kan tel, het ek jou eerste voor enigiets en alles anders gestel. Stem jy saam?
Terwyl ons grootgeword het, het ek probeer seker maak jy is altyd voor in die ry. Ek het gesorg dat jy die grootste koekie op die bord kry, die beste parkeerplek, die gemaklikste stoel in enige vertrek wat ons binnegegaan het.
Op skool het ek die klein goedjies opgemerk waarvan jy hou, en ek het op hulle gefokus. Jy was altyd lief vir aandag, so ek het alles in my vermoë gedoen om te sien dat jy dit kry. Jy hou steeds van die kollig, so ek sorg dat jy in sy glans bly. Noudat ons die internet het, het ek meer middele. Ek plaas net die heel beste foto's van jou. Enigiemand sou dink jy leef 'n suksesvolle lewe. Het jy die opmerkings gesien wat mense oor jou skryf? Wanneer jy gesukkel het of 'n moeilike tyd deurgegaan het, het ek my bes gedoen om dit ons geheim te hou. Ek het probeer om jou gelukkig te maak.
Dit was 'n bietjie makliker om jou gelukkig te hou toe jy 'n oulike kind was. 'n Eenvoudige woede-aanval het die werk gedoen. Toe, namate ons ouer geword het, moes ek 'n bietjie meer oordeelkundig wees. Jy wou aanhou wen en jou sin kry — maar tog die hele tyd nederig en beskeie lyk. Dit raak moeilik! Om nie eens te praat van vermoeiend nie.
Trouens, dit lyk asof jy nooit omgee vir vervelige goed soos rekeninge en gevolge en wat môre gebeur nie. Ek het meer as 'n paar harde woorde namens jou vir sekere mense gesê, en jy het my nooit oor die gevolge gewaarsku nie. Jy het nooit vir my gesê ek kan nie ongedaan maak wat ek gesê het nie.
Ek is lief vir jou, Ek. Ek kan egter nie aanhou om vir jou te lewe nie. Jy het altyd daarop aangedring dat, as ek jóú net gelukkig sou hou, ék gelukkig sou wees — so eenvoudig soos dit. Weet jy wat? Dit is nie so eenvoudig soos dit nie. Dit was nog nooit nie.
Ek, ek het jou die beheer gegee en in die bestuurdersitplek laat sit, maar dit is duidelik dat jy nie vertrou kan word nie. Jy hou vol dat jy weet hoe ons moet voortgaan, maar dit lyk altyd of dit 'n doodloopstraat is. Ek het 'n paar ander opsies ondersoek, en ek het besluit om 'n reis op 'n ander pad te begin. Dit is eng en moeilik en nie baie mense kies dit nie, maar dit lei tot werklike en oorvloedige lewe. Daar is egter geen maklike manier om dit te sê nie; ek kan nie hierdie pad volg as ek jou saamneem nie.
Dus, Ek, dit is die einde van jou.
Vriendelike groete,
Ek
Aangaande hierdie leesplan

Geneem uit Kyle Idleman se opvolg van "Not A Fan", word jy uitgenooi om aan die einde van jouself te kom — want alleenlik dan kan jy die andersoortige metodes van Jesus omhels.
More