Daar Staan GeskryweVoorbeeld

It Is Written

DAG 26 VAN 31

Hoe Om 'n Woord Te Vind

deur Robert Morris

Ek was een van die leraars by 'n kerk toe ek 30 jaar oud was. Namate nuwe gemeentes gestig is, het die hoofleraar my gevra om as leier vir een op te tree. Ek het gedink: "Ek is maar net 30 jaar oud en nog nie gereed om so iets aan te pak nie." Ek moes God eers vra of ek so 'n groot verantwoordelikheid moes aanvaar op so 'n jong ouderdom. Ek het dus 'n paar dae weggegaan en tyd met die Here deurgebring in aanbidding en gebed en dinge neergeskryf. Die Here het gesê ek moet Lukas 3 lees. Ek het soontoe geblaai en in vers 23 gelees: "Toe Jesus met sy werk begin het, was Hy omtrent dertig jaar oud." Daardie woord van God het aan my bevestig dat ek veronderstel was om die nuwe rol te aanvaar.

Jy sien, die Woord van God is vir ewig. As Hy dit 3 000 jaar gelede gesê het, is dit vandag nog steeds waar. Jy kan maklik 'n duidelike woord van God kry as jy sy Woord lees. Eers moet jy in sy teenwoordigheid kom. Psalm 100:4 sê ons kan dit doen deur Hom te prys. Wanneer jy sy teenwoordigheid aanvoel, kan jy begin bid. Die wonderlike ding omtrent daardie vers is, dat God ons nooi om ons versoeke aan Hom bekend te maak. As jy wil praat oor jou gesin, huwelik, watter werk jy moet doen of watter skool jou kinders moet bywoon, is God daar om jou versoeke aan te hoor. As jy niks uit vandag se oordenking put nie, onthou dan net dít: Jy het 'n persoonlike verhouding met God en Hy wil met jou praat.

Nadat jy Hom 'n rukkie geprys het en aanbid het, kan jy jou Bybel oopmaak. Baie kere as ek 'n woord van God nodig het, vra ek vir Hom waar ek moet lees. As jy aan 'n Bybelverhaal dink terwyl jy tyd met God deurbring, lees dit. As jy 'n finansiële probleem het, lees Bybelverse oor finansies en rentmeesterskap. As jy 'n gesondheidsprobleem het, lees verse oor gesondheid en genesing. Dit help om jou gebede neer te skryf en dit wat God vir jou sê.

Ek moedig jou aan om dit elke dag te doen en 30 minute daarvoor opsy te sit. Dit sal jou lewe verander as jy 30 minute gebruik om God te prys, te bid en Hom te vra om sy Woord vir jou lewend te maak. Moet jy 'n belangrike besluit neem? Wil jy uitvind watter rigting jou lewe moet inneem? Lees die Woord en bring jou versoeke na God.

Gebed

Vader, dankie dat ek my versoeke aan U bekend kan maak. Dankie dat u Woord vandag lewend is en met my kan praat en my lei. Laat toe dat u Woord my lewe verander. In die Naam van Jesus. Amen.

Geheuevers

"Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend" Filippense 4:6.

Aangaande hierdie leesplan

It Is Written

Hierdie 31-dag oordenking, wat saamgestel is uit die onderrig van pastore Robert Morris en Marcus Breechen van Gateway Church, fokus op die belangrikheid om die Woord van God in jou alledaagse lewe te hê. Elke dag onthul wat die Woord is — asem, brood, water, 'n swaard en 'n lamp — en hoe om dit in jou lewe toe te pas. Terwyl jy lees, sal jy geïnspireer word om nader aan God te kom en sy Woord daagliks in jou hart te bêre.

More

Ons wil graag dankie sê vir Gateway Church wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting, besoek gerus: https://gatewaypeople.com