Daar Staan GeskryweVoorbeeld

It Is Written

DAG 28 VAN 31

Behou 'n Nederige Hart

deur Robert Morris

Gister het ons oor die gelykenis van die saaier gepraat en geleer dat die beste manier vir die Woord van God om in ons harte vrug te dra, is om op goeie grond te saai. Maar hoe presies doen ons dit?

Kom ons kyk na Matteus 13:10-15, wat volg op Jesus se vertelling van die gelykenis van die saaier. Die dissipels het vir Jesus kom vra: “Hoekom gebruik U gelykenisse as U met die mense praat?” Hy het hulle geantwoord: “Aan julle is dit gegee om die geheime van die koninkryk van die hemel te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie. … In hulle geval word die profesie van Jesaja vervul wat sê: 'Julle sal hoor en hoor en tog niks verstaan nie, en kyk en kyk en tog niks sien nie.' Die NLV vertaling druk dit as volg uit: "... die hart van hierdie volk het verhard, ..." Hulle het dalk nie so begin nie, maar hulle hart het mettertyd verhard. Wat beteken dit? Jesus verduidelik vir sy dissipels dat hulle nie sy gelykenisse verstaan nie omdat hulle nie hulle harte beskerm nie, maar dit toelaat om te verhard.

Een van die beste maniere om jou hart te beskerm, is om dit nederig te hou. Jesaja 57:15 sê: "So sê Hy wat hoog en verhewe is, Hy wat ewig leef en wie se Naam die Heilige is: Ek woon in 'n hoë en heilige plek en Ek is by hom wat verdruk en nederig is. Ek gee nuwe krag aan die nederiges, Ek gee nuwe krag aan die verdruktes." Verstaan jy wat hy hier sê? Hy sê dat as jy 'n nederige houding inslaan, jy nuwe krag sal kry. Solank jy jou hart nederig hou, sal Hy dit gesond hou.

Wat as ons nie ons harte nederig hou nie? Ons sal soos die Fariseërs word. Hulle kon niks leer nie, want hulle het gedink hulle weet alles oor God. Daar was trots in hulle harte in plaas van nederigheid.

In Daniël 10:12 is daar 'n perfekte voorbeeld van 'n nederige hart: "Hy sê toe vir my: 'Moenie bang wees nie, Daniël, want van die eerste oomblik af dat jy jou ingespan het om insig te kry en jou voor jou God verootmoedig het, is jou gebede verhoor.'" God het Daniël se gebed verhoor omdat hy 'n nederige hart gehad het. Die interessante ding oor God se koninkryk is dat jy eers moet neerbuig voordat jy verhoog word. Hoe meer jy jouself verootmoedig, hoe groter sal jy in die koninkryk wees. God sê dat Hy hulle sal verhoog wat nederig is en dat die Woord van God in 'n nederige hart sal vrug dra.

In watter toestand is jou hart vandag? Verootmoedig jouself voor die Here en vra Hom om enige trots wat in jou hart is te verwyder.

Gebed

Vader, dankie dat U vir ons 'n manier gee om u Woord te ontvang en te verstaan. Wys my watter dele van my hart nie nederig is nie en gee my genade sodat ek nederig kan bly. In die Naam van Jesus. Amen.

Geheuevers

"Hierdie wetboek moet die rigsnoer wees vir alles wat jy sê. Oordink dit dag en nag en sorg dat jy alles uitvoer wat daarin geskryf staan. Dan sal jy slaag in wat jy moet doen, jy sal voorspoedig wees" Josua 1:8.

Aangaande hierdie leesplan

It Is Written

Hierdie 31-dag oordenking, wat saamgestel is uit die onderrig van pastore Robert Morris en Marcus Breechen van Gateway Church, fokus op die belangrikheid om die Woord van God in jou alledaagse lewe te hê. Elke dag onthul wat die Woord is — asem, brood, water, 'n swaard en 'n lamp — en hoe om dit in jou lewe toe te pas. Terwyl jy lees, sal jy geïnspireer word om nader aan God te kom en sy Woord daagliks in jou hart te bêre.

More

Ons wil graag dankie sê vir Gateway Church wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting, besoek gerus: https://gatewaypeople.com