Daar Staan GeskryweVoorbeeld

Wat is Nadenke?
deur Robert Morris
'n Wonderwerk gebeur as jy oor die Woord van God nadink. Jy voel dalk geïntimideer as jy die woord "nadenke" lees. Jy mag dalk dink: Nadenke neem 'n lang tyd in beslag. Ek weet nie of ek vir 'n uur of twee op net een ding kan fokus of nadink nie. Het jy al gaan fliek? Indien wel, het jy twee ure lank op die storielyn gefokus wat die regisseur aan jou voorgehou het. Jou reaksie is dalk as volg: "Wel, 'n rolprent bied meer vermaak as die Woord van God." Dis 'n leuen van die vyand. Die beste boek wat ooit geskryf is, is definitief vol avontuur. Dink daaroor. Daar is drama, liefde, verraad, redding, misterie — al die elemente van 'n topverkoper. Jy moet dit maar net lees. Ek sê nou vir jou, iets bonatuurlik sal gebeur as jy net oor hierdie Boek sal nadink. Dis iets wat die Satan nie wil hê jy moet beleef nie.
Die woord "nadenke" word in die HAT woordeboek as volg beskryf: "In gedagte versink; ’n lang ruk doodstil/rustig sit om heeltemal te ontspan, of dit doen as deel van die beoefening van jou godsdiens; lank, diep en ernstig oor iets dink." Dit beteken dus dat jy doelbewus op iets fokus. Hoe doen 'n mens dit? Skryf in die oggend 'n Skrifgedeelte neer en dink heeldag daaroor na. Jy kan ook 'n skermskoot van die vers neem en dit as agtergrondfoto op jou selfoon gebruik. Tydens jou middagete kan jy tyd in die Woord deurbring terwyl jy eet. Onderwyl jy dit begin beoefen en deel van jou daaglikse roetine maak, sal jy 'n wonderwerk in jou lewe sien plaasvind.
Wat is dié wonderwerk? Kyk na vandag se vers in Josua 1:8. Dit sê, as jy oor die Woord van God nadink, "sal jy slaag in wat jy moet doen, jy sal voorspoedig wees." Hy praat van alle terreine van jou lewe — gesin, gesondheid, finansies, verhoudinge, ens. Hier is nog 'n voorbeeld: Psalm 1:2-3 sê: "... wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink. Hy is soos 'n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie. Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak." Wanneer jy die Woord lees, begin bonatuurlike dinge gebeur; dit maak jou voorspoedig. Ek belowe jou, iets wonderbaarlik en bonatuurlik sal gebeur as jy oor die Woord van God mediteer.
Gebed
Vader, dankie dat nadenke oor u Woord vir my voorspoed in my lewe bring. Help my om elke dag u Woord te memoriseer en daaroor na te dink en dit te laat insink. Laat ek soos 'n boom wees wat vrugte dra. In die Naam van Jesus. Amen.
Geheuevers
"Hierdie wetboek moet die rigsnoer wees vir alles wat jy sê. Oordink dit dag en nag en sorg dat jy alles uitvoer wat daarin geskryf staan. Dan sal jy slaag in wat jy moet doen, jy sal voorspoedig wees" Josua 1:8.
Aangaande hierdie leesplan

Hierdie 31-dag oordenking, wat saamgestel is uit die onderrig van pastore Robert Morris en Marcus Breechen van Gateway Church, fokus op die belangrikheid om die Woord van God in jou alledaagse lewe te hê. Elke dag onthul wat die Woord is — asem, brood, water, 'n swaard en 'n lamp — en hoe om dit in jou lewe toe te pas. Terwyl jy lees, sal jy geïnspireer word om nader aan God te kom en sy Woord daagliks in jou hart te bêre.
More