Ons Berei Ons Harte Voor Vir Paasfees: 'n Oordenking Tydens die VastydVoorbeeld

Preparing Our Hearts for Easter: A Lenten Devotional

DAG 11 VAN 40

Dag 11: Die Seun

Die vastyd skep 'n geleentheid om berou te toon en nederigheid te openbaar, 'n tyd waarin ons ons sondige menswees en gebrokenheid moet oordink in die lig van God, ons Koning, se perfeksie en prag. Psalm 2 is die eerste van die sogenaamde “koninklike Psalms,” wat op God se koninklike karakter fokus. Die Psalm begin met 'n vraag wat homself beantwoord. Dit spreek ook van konings en nasies wat in opstand kom en wat God, die ware koning, se juk wil afgooi. God, “Hy wat in die hemel woon”, se reaksie is dat Hy hulle uitlag en met hulle die spot dryf.

Die reaksie is nie net 'n gespot nie, maar 'n werklike daad. Die Here verwys na sy Seun, die waaragtige koning, wat sal kom en alles vervul wat oorspronklik van Dawid en sy nageslag verwag is. Alles behoort aan Hom en Hy heers oor al die valse konings en nasies. Die slegte houding van dié wat teen Hom in opstand kom, is dom en gevaarlik. Die poëtiese beeld van die “pottebakker” (Jesaja 45:9) verwys na hoe Hy hulle lewens sal verwoes soos potskerwe wat onder mense se voete vertrap word.

Hierdie Psalm is ontnugterend in sy uitspraak, maar dit bied ook hoop. Dit verwys na die Goddelike Seun wat sou kom om die finale en enigste, ware, regverdige koning te wees. Die een wat aan sy Vader gehoorsaam was en die juk van die sonde gebreek het sodat ons vry kan wees. Omdat Christus hierdie taak op aarde kon vervul, kan Hy met reg sê: “Aan my is alle mag gegee in die hemel en op die aarde” (Matteus 28:18). Hy is die een waarvan die Skrif praat: “Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand” (Hebreërs 1:3).


Gebed

Ons Koning en Vader, waar U is, is daar majesteit en perfeksie. Dankie dat U aan ons u Seun gegee het, die een wat u glorie weerspieël en vir ons intree, ons Advokaat is, en die Heilige Gees stuur om ons in alle waarheid te lei. In die Naam van Jesus. Amen.

Kopiereg (c) 2012 deur Redeemer Presbyterian Church.

Aangaande hierdie leesplan

Preparing Our Hearts for Easter: A Lenten Devotional

Wat is die Vastydperk? Dit is die tyd wanneer ons in afwagting is vir die oorwinning wat die lig en lewe van Christus oor die duisternis van sonde en dood gebring het. Soos ons die gebeure volg van Aswoensdag tot Paasfees, word ons herinner aan die werklikheid van ons swakheid en God se verlossende genade.

More

Hierdie oordenking is geskep deur die personeel van die Redeemer Presbyterian Church en is oorspronklik in 2012 op die webblad www.redeemer.com geplaas. Dit word met toestemming gebruik.