Ons Berei Ons Harte Voor Vir Paasfees: 'n Oordenking Tydens die VastydVoorbeeld

Preparing Our Hearts for Easter: A Lenten Devotional

DAG 2 VAN 40

Dag 2: Die Boog

Vastyd is histories 'n tyd van toegewyde nabetragting oor die mens se toestand. Aswoensdag herinner ons dat die menslike lewe broos is — uit stof is ons geskape en tot stof sal ons terugkeer. Ons leer egter vinnig dat die mens se toestand nie net gekenmerk word deur broosheid nie, maar ook deur verdorwenheid. In der waarheid het menslike korrupsie en geweld teen die tyd van Noag so algemeen geraak dat God hartseer en spyt ervaar het. Dat die Almagtige God spyt kon wees oor die skepping van die mens is 'n kragtige uitbeelding van die sondigheid van sonde.

Die Bybel verwys egter nie na die menslike hart op 'n abstrakte wyse nie. Nee, die Bybel meld spesifiek my eie hart, die sondigheid van my sonde en inderdaad die Goddelike spyt oor hoe ek my lewe geleef het.

Tog, te midde van die somberheid en in die nadraai van die storm van God se oordeel, is hoop sigbaar. Noag kyk op en sien teen die grou wolke die sprankelende glorie van die reënboog te voorskyn kom waar die son en die storm mekaar ontmoet. Daar, in die wolke, sien hy hoe die boog van God se toorn tersyde gestel word in die belofte van vrede.

Die groot belofte is dat God nie weer sy aangesig van ons sal afwend nie; al is ons sonde ook hoe groot. In plaas daarvan sal God eerder die boog van sy toorn rig na die hemel, op sy eie Seun, as om weer sy toorn op ons uit te haal. Aan die kruis, waar die son van God se liefde en die storm van sy toorn weereens bymekaarkom, sou Jesus in duisternis sterf, sodat die sprankel van God se glorieryke reddingsplan in ons harte te voorskyn sou kom. Dit alles sonder 'n sweem van Goddelike spyt.


Gebed

Here, help ons om u hartseer en verdriet oor ons sonde te deel. Skenk tydens hierdie vastyd aan ons die moed om ons eie sonde eerlik te beskou, sodat ons weer eens die glorie van u belofte en genade in Christus vir ons kan waardeer. In die Naam van Jesus. Amen.

Kopiereg (c) 2012 deur Redeemer Presbyterian Church.

Aangaande hierdie leesplan

Preparing Our Hearts for Easter: A Lenten Devotional

Wat is die Vastydperk? Dit is die tyd wanneer ons in afwagting is vir die oorwinning wat die lig en lewe van Christus oor die duisternis van sonde en dood gebring het. Soos ons die gebeure volg van Aswoensdag tot Paasfees, word ons herinner aan die werklikheid van ons swakheid en God se verlossende genade.

More

Hierdie oordenking is geskep deur die personeel van die Redeemer Presbyterian Church en is oorspronklik in 2012 op die webblad www.redeemer.com geplaas. Dit word met toestemming gebruik.