Vind Bevryding van Spanning

Oordenking

Hou op om spanning mag te gee.



"Ek is gespanne" is deesdae so 'n standaard manier van groet, amper soos: "Ek is besig". Om die waarheid te sê, ons is dikwels trots daarop. Dit laat ons belangrik voel as ons sê dat ons gespanne is, want al hou ons nie van die gevoel wat met spanning gepaard gaan nie, hou ons van die status wat ons daardeur verkry.



In ons samelewing se vinnige tempo, word spanning as die norm beskou. Dit het sy negatiewe betekenis verloor en word eerder met harde werk, ambisie en sukses geassosieer. Ons aanvaar dat suksesvolle mense ook spanning ervaar, dus probeer ons harder. 'n Gebrek aan spanning laat ons lui of ongemotiveerd voel.



Wat is die gevolg? Ons is gedurig besig om nog meer en meer te doen, wat — raai wat — ja, nog meer spanning bring. Ons het te veel hooie op ons vurk omdat ons nie kan "nee" sê nie; ons verkies oppervlakkige aanlyn vriendskappe in plaas van betekenisvolle gesprekke; en ons bou spanning in ons identiteit in.



'n Lewe vol spanning, of 'n té vol lewe, is nie wat God vir ons in gedagte gehad het nie. Jesus het gesê dat ons vyand kom om te steel, dood te maak en te vernietig. Dit klink dalk oordrewe, maar spanning kan van ons steel. Dit steel slaap. Dit steel geluk. Dit steel ons denkvermoë. Al die dinge wat ons so besig hou, kan ons spanning vererger en ons so van koers af dwing deur die klein dingetjies, dat ons die groot planne mis wat God vir ons het.



In teenstelling hiermee, het Jesus gekom om vir ons lewe en oorvloedige lewe te gee. Jesus het vrede en oorvloed gebring, en dit is die teenoorgestelde van 'n lewe vol spanning (of 'n styf getrekte) soort lewe.



Dis nou tyd om ons spanning te herevalueer. Kom ons hou op om spanning mag te gee. Kom ons hou op om daarmee te spog. Kom ons gebruik eerder 'n gebrek aan spanning as 'n geleentheid om uit te staan, om anders te wees en ons geloof te deel.



Wanneer die wêreld om ons in spanning verdrink, sal ons kies om kalm te bly, om stil te word en te onthou dat God God is. Wanneer ander gedurig met mekaar kompeteer en hulleself met mekaar vergelyk, sal ons vier wie ons is en ander aanmoedig. Wanneer ander mense oorweldig en hopeloos voel, sal ons mense met oorvloedige hoop wees, sodat ongelowiges na ons sal kyk en vra hoekom ons soveel hoop het.



Ons kan bevry word van ons spanning, as ons nie toelaat dat dit 'n houvas op ons kry nie, en ons eerder keer na die bron van alle krag: ons God. Kom ons hou dus op om met spanning saam te leef en eerder Jesus op sy woord te neem, deur voluit te leef.



Praat Daaroor



  • Wat sou jy sê is sommige van die kern redes vir jou spanning?

  • Wat dink jy: hoe sal jou lewe lyk as jy spanning heeltemal uitskakel?

  • Hoe kan jy keer dat spanning 'n houvas op jou lewe kry?