Leesplan inligting

Oordenkings vir die Lydenstyd geneem uit "Holy Bible: Mosaic"Voorbeeld

Devotions for Lent from Holy Bible: Mosaic

DAG 8 VAN 46

Leë Opoffering (Eileen Button)



Net soos baie ander Katolieke kinders het ek niks lekkers geëet vir die 40 dae van die Lydenstyd voor Paasfees nie. Ek onthou hoe ek die oggend van Paasfees saggies met die trappe afgeklim het, met die hoop om 'n sjokolade paashasie te kry. Na die uitmergelende periode van opoffering, kon ek skaars wag om die hasie se ore te hap.



Ek was somtyds teleurgesteld om 'n sjokolade kruis in my mandjie te kry in plaas van 'n hasie. 'n Sjokolade weergawe van my Redder se kruis het regop gestaan in plastiek gras, omring met gekleurde lekkertjies. In plaas van Jesus se gebreekte liggaam, was daar 'n pienk en geel versuikerde blom aan die kruis. Ek kon dit nie eet nie. Dit het vir my soos godslastering gevoel. Die lang dae van die Lydenstyd sonder lekkers was amper onuithoudbaar. Daardie sjokolade kruis op Paassondag, het my met 'n skok laat besef hoe nietig my "offer" was. Selfs 'n kind worstel met die werklikheid van Christus se volmaakte offer.



Die Lydenstyd voor Paasfees is vir baie mense verwarrend. In ons kultuur van ek-wil-dit-nou-hê, voel hierdie opoffering ten opsigte van lekkers of gewoontes, outyds. Die Lydenstyd is soos 'n crescendo wat lei na 'n deurmekaar geraas van Goeie Vrydag en die uitsonderlike aria van Paassondag. Hierdie seisoen gaan gepaard met 'n doelbewuste besluit.



Dikwels is ons 'n struikelblok vir ons eie beste bedoelings. Wanneer ons vas van kos of tegnologie (of wat ons ook al op besluit wat belangriker as God vir ons geword het) kan ons dalk trots of arrogant voel oor ons opoffering. Die einste ding wat ons opgee, is dikwels die behoefte wat ons voel bevredig moet word. Ons fokus kan juis op die ding wees wat ons gewillig is om op te offer, in plaas daarvan om op Jesus Christus te wees.



Ten spyte van al hierdie gevoelens, kan die Lydenstyd 'n waardevolle oefening wees. Ons besef nie altyd wat die aanhoudende gevoel van eienaarskap aan ons liggaam en siel doen nie. Ons kultuur aanbid aan die voete van genot en buig laag voor al sy genotvolle offerandes. Ons sensitiwiteit vir die werklike honger in ons lewens, kom nie na vore nie. Tydens die Lydenstyd word ons gekonfronteer met die werklike redes vir ons behoefte na genot. Wanneer ons die een ding opoffer wat ons nie regtig vrede kan gee nie, word ons met 'n paar moeilike vrae gekonfronteer. Glo ons dat wat Jesus in Matteus 4.4 (NLV) sê, waar is?: "n Mens het meer as brood nodig om van te lewe. Wat jy eintlik nodig het, is om te leef van elke woord uit God se mond." Hoe kan ons plek maak vir Jesus in ons vol en gejaagde lewe? Kan ons werklik verstaan waaroor Goeie Vrydag gaan?



Die Lydenstyd daag ons uit om eerlike antwoorde op al hierdie vrae te vind. Die tydperk nooi ons uit om tyd te maak in ons gejaagde lewe, om die opofferings te maak van dinge wat nie eintlik saak maak nie. Dit is 'n manier om 'n ruskans te kry in ons dolle lewe.



Net soos baie ander gelowiges onderhou ek die Lydenstyd en offer iets op. Ek koester hierdie tyd van weerhouding, soeke en openbaring. Ek leer elke jaar iets nuuts.



Dalk was ek — en is ek nog steeds — vererg deur die sjokolade kruis, omdat dit iets simboliseer wat dikwels waar is in ons geestelike lewe: Die buitekant lyk mooi, maar die binnekant is leeg. Partykeer besef ons waaroor Jesus Christus se offer regtig gegaan het en ervaar ons sy liefde in ons hart. Hierdie besef is soos 'n klomp yswater wat in ons gesig gegooi word. Die leë binnekant van ons harte kan gevul word.
Dag 7Dag 9

Aangaande hierdie leesplan

Devotions for Lent from Holy Bible: Mosaic

Hierdie daaglikse oordenking van 46 dae tydens die Lydenstyd voor Paasfees, is aangepas uit "Holy Bible: Mosaic". Dit bevat aanhalings, leesstukke en Skrifgedeeltes om jou te help om jou gedagtes op Christus te fokus. Di...

More

Ons sê baie dankie vir "Tyndale House" Uitgewers wat so gaaf was om hierdie leesplan vir die Lydenstyd uit "Holy Bible: Mosaic" te verskaf. Om meer te wete te kom oor "Holy Bible: Mosaic", besoek: www.tyndale.com/p/holy-bible-mosaic-nlt/9781414322056

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid