Lukas 15:11-30

Lukas 15:11-30 DB

Toe vertel Jesus nog ’n verhaal: “Eendag was daar ’n man met twee seuns. Die jongste seun kom toe op ’n dag by sy pa en sê vir hom: ‘Pa, ek wil nou dadelik my erfporsie hê. Ek wil nie wag tot Pa eers dood is nie.’ “Die pa het sy goed verdeel en vir elke seun sy erfporsie gegee. ’n Paar dae later het die jongste seun sy goed gevat en padgegee. Hy het in ’n ander land gaan bly. Daar het hy sy erfporsie uitgemors. Hy het die een wilde partytjie na die ander gehou en gedoen net wat sy hart begeer. Kort voor lank was al sy geld op. Toe breek daar ’n groot hongersnood in die land uit sodat die jongman niks gehad het om te eet nie. Hy het later gaan werk vir iemand wat in daardie land bly. Al werk wat hy vir die jongman gehad het, was om varke op te pas. Later was die arme man so honger dat hy selfs bereid was om die varke se kos te eet. Maar die eienaar het geweier. “Op ’n dag sit die jongman toe by homself en dink: ‘Wat vang ek aan met my lewe? Selfs my pa se slawe daar op sy plaas het ’n beter lewe as ek. Hulle het almal oorgenoeg kos om te eet, maar ek het nie eens ’n stukkie droë brood om my honger te stil nie. Hier sit ek en sterf van ellende! Vandag nog gaan ek terug na my pa se huis toe. Ek sal vir hom sê: Pa, ek het baie lelik met Pa gemaak. Ek het ook nie na God geluister nie. Ek verdien nie om langer Pa se seun te wees nie. Vat my asseblief terug as ’n doodgewone werker hier op Pa se plaas.’ “Die jongman het toe teruggegaan na sy pa se huis toe. Toe hy nog ’n hele ent van die huis af was, het sy pa hom herken. Hy was so bly dat hy dadelik na hom toe gehardloop het. Toe hy by sy seun kom, het hy hom omhels en hom gesoen van blydskap. “Toe sê die seun vir sy pa: ‘Pa, ek het baie lelik met Pa gemaak. Ek het ook nie na God geluister nie. Ek verdien nie om langer Pa se seun genoem te word nie.’ “Maar die pa het gou vir sy werkers gesê: ‘Gaan haal die beste stel klere in my kas en bring dit vir my seun. Vat ook ’n ring en ’n paar goeie skoene en gee dit vir hom. Ja, en gaan slag gou-gou daardie kalf wat ons lankal vetmaak vir ’n spesiale geleentheid. Vandag gaan daar feesgevier word. Ons gaan eet en lag en bly wees, want my seun is terug! Ek het gedink hy’s al dood, maar kyk, hy leef! Hy was weg, maar nou’s hy terug waar hy hoort: in sy pa se huis.’ “Die ouer broer het nie geweet sy broer is terug nie, want hy was buite in die veld. Toe hy naby die huis kom, sien hy dat daar ’n groot partytjie op die plaas aan die gang is. Van ver af kon hy die musiek hoor en al die mense wat feesvier en dans. Hy roep toe een van die werkers en vra: ‘Wat is aan die gang?’ “‘Jou broer is terug!’ antwoord hy. ‘Jou pa is so bly dat hy daardie vetgemaakte kalf geslag het om dit te vier dat jou broer lewend terug is.’ “Maar die oudste broer was so kwaad hieroor dat hy nie eens sy broer wou gaan groet nie. Toe sy pa daarvan hoor, was hy hartseer. Hy het na sy oudste seun toe gestap en vir hom gaan vra om saam met hulle te kom feesvier. “‘Vir wat?’ vra hy. ‘My lewe lank doen ek alles wat Pa wil hê. Nog nie een dag het ek geweier om te doen wat Pa sê nie. Tog het Pa nog nooit vir my ’n partytjie gehou nie. Pa het nog nie eens vir my gesê om ’n paar van my vriende oor te nooi om by my te kom kuier nie. Maar toe daardie ander seun van Pa uit die bloute hier opdaag na hy al Pa se besittings uitgemors het op ’n spul straatvroue en op dronkpartytjies, word die heel beste kalf op die plaas vir hom geslag. Ek kan dit nie glo nie!’
DB: Die Boodskap
Deel