YouVersion Logo
Search Icon

DIE ROOI TOU: 'n verhaal van redding en hoopSample

DIE ROOI TOU: 'n verhaal van redding en hoop

DAY 3 OF 40

Ragab se verhaal

Die verhaal van Ragab begin soos ‘n eeu-oue verhaal: Lank, lank gelede, sowat 3400 jaar terug, het daar in Jerigo, ‘n stad in Kanaän ‘n vrou gewoon. Haar naam was Ragab, met ‘n geskiedenis van sonde, gebrokenheid en verwerping. As jong dogtertjie, ongeveer tien jaar oud volgens die Midrash, het sy in prostitusie verval – heel moontlik as gevolg van armoede, ‘n gebrek aan beskerming of die kultuur van die tyd.

Sy was slegs ‘n middel tot ‘n doel, ‘n rolspeler in ‘n samelewing wat haar nie beskerm of gerespekteer het nie. Ragab word verder deur die Rabbi’s later beskryf as ’n buitengewone mooi vrou, een van die vier mooiste vroue (saam met Sarai, Abigajil en Ester) wat die wêreld ooit geken het.

Hoewel Ragab ‘n inwoner van Jerigo was, is sy nie deur haar gemeenskap aanvaar nie, want Ragab se huidige realiteit was die van ‘n Kanaäniet, prostituut en buitestaander. Vir Israel was sy ‘n Kanaäniet en buitestaander en vir Jerigo ‘n prostituut. Dit het van haar ‘n ongewenste persoon en uitgeworpene gemaak.

Volgens Flavius Josephus, die Joodse geskiedskrywer, het sy ook ‘n herberg bedryf deur kamers uit te verhuur. Haar huis, tussen die mure van Jerigo het haar posisie in die samelewing weerspieël. Sy was vasgevang tussen die "binnekring" en die "buitekring" van aanvaarding en verwerping, ‘n tussenin bestaan sonder vastigheid of werklike identiteit.

Sy was waarskynlik vir sommige ‘n buitestaander, verwerp en veroordeel weens haar lewenstyl en beroep. Die las van hierdie isolasie het waarskynlik diep in haar siel gesny. Dit is die soort pyn wat jou stem stil maak en jou laat voel asof jy geen bestaansreg het nie. Die gevoel dat jy naamloos deur die geskiedenis beweeg, soos ‘n verbygaande skaduwee, laat jou twyfel oor jou menswees en toekoms.

Net soos Ragab, het elkeen van ons, ons eie geskiedenis. Sommige se stories is bekend, ander bly verborge en in geheimenis gehul. Ons almal se lewens spreek van gebrokenheid, hartseer, trauma en geheime wat moeilik is om met ander te deel. Jou verlede kan soos ‘n meulsteen om jou nek word wat jou aftrek asof dit jou definieer en beperk. Tog leer Ragab se verhaal ons iets kragtig: Die pyn van ons verlede hoef nie die grenslyn van ons bestemming te word nie.

Moontlik het jy dalk ook ‘n verlede wat vol uitdagings is. Dalk is daar dinge waaroor jy skaam voel of selfs wonde wat nog nie heeltemal genees het nie, maar dit wat agter jou lê hoef nie jou toekoms te bepaal nie.

Wanneer jy jou vertroue in God plaas, kan Hy jou verlede wegneem hoe gebroke ook al en dit omskep in ‘n getuienis van sy genade en krag. God kyk nie na jou soos die mensdom na jou kyk nie; Hy sien jou potensiaal, nie jou mislukkings nie en jou toekoms, nie jou verlede nie. Ragab se verhaal wys dat God se genade ‘n nuwe betekenis aan jou lewe kan gee.

Gebed

Here, dankie dat U soveel groter as my geskiedenis is. Dankie dat U my in gebrokenheid ontmoet om iets pragtigs en betekenisvol daaruit te skep. Help my om nie vasgevang te word in die pyn van my verlede nie, maar my oë op U en u planne vir my toekoms te rig. Lei my om in u genade te leef en te glo dat U elke stukkende deel van my lewe tot u eer kan gebruik. Amen.

Scripture

About this Plan

DIE ROOI TOU: 'n verhaal van redding en hoop

Stap saam op 'n reis van 40 dae, waar die rooi draad van genade jou lei van Ragab se venster in Jerigo tot by die kruis op Golgota. Hierdie 40-dae plan onthul hoe God se genade geen grense het nie, en hoe geloof en gehoorsaamheid 'n hele nuwe bestemming kan skep.

More