YouVersion Logo
Search Icon

DIE ROOI TOU: 'n verhaal van redding en hoopSample

DIE ROOI TOU: 'n verhaal van redding en hoop

DAY 4 OF 40

Die Drie-eenheid soos gesien in Josua en Ragab se verhaal

In die verhaal van Josua se intog in Kanaän, en Ragab se rol met die rooi tou, word die merkwaardige teenwoordigheid van die Goddelike Drie-eenheid sigbaar. Ons sien hoe God die Vader, Seun en Heilige Gees saamwerk in die verlossingsplan.

Ragab se woorde in Josua 2:1 vertel van God se openbaring in haar lewe. God die Vader het reeds lank voor die tyd aan Abraham die belofte van Kanaän gemaak. Hy het Josua geroep om hierdie belofte uit te voer, hom versterk met sy Woord en ‘n uitgewerkte plan aan hom gegee.

In Josua 5:13-15 ontmoet Josua die aanvoerder van die Hemelse Leër, wat in alle waarskynlik Jesus self was. Hierdie aanname word versterk deurdat Hy aan Josua dieselfde opdrag gee wat God aan Moses by die brandende bos gegee het: om sy skoene uit te trek, want die plek waar hy staan, is heilig.

Die Ark van die Verbond, wat Israel deur die Jordaan rivier gelei het, simboliseer dan ook die teenwoordigheid van die Heilige Gees. Die Heilige Gees was werksaam in die bonatuurlike gebeure tydens die inval: Hy het die volk tot heiligheid opgeroep, God teenwoordig gemaak en die mure van Jerigo laat val.

In Ragab se geval sien ons die Drie-enige God ook duidelik. God die Vader in sy ewige raadsbesluit bewys genade aan Ragab en haar familie. Hy gebruik Ragab se geloof om haar en haar familie te verlos en ten volle deel van Israel se geskiedenis te maak. Ragab se rooi tou aan haar venster simboliseer Jesus se bloed, wat vloei tot redding. Die twee verspieders wat Ragab tot oortuiging bring van haar sonde en haar lei tot verlossing spreek van die Heilige Gees.

Die verhaal van Josua en Ragab herinner jou aan God se aktiewe betrokkenheid in jou lewe. Net soos destyds, het God ’n spesifieke plan vir jou lewe ten spyte van jou swakhede en tekortkominge. God die Vader het jou lewe met ’n definitiewe doel geskep en net soos Hy Josua geroep het om in die beloofde land in te gaan, roep Hy jou in sy liefde, met ʼn belofte.

Net soos Jesus se verlossing deur die rooi tou na Ragab en haar familie gekom het, kom sy verlossing ook na jou lewe toe. Net soos die Heilige Gees werksaam was in die bonatuurlike gebeure tydens die inval van Jerigo, so werk Hy vandag nog in jou lewe.

Hy lei jou na die ewige rus van God soos dit in die Nuwe Testament geopenbaar word, heilig jou, en gee jou die krag om die uitdagings van jou lewe te oorkom. Vertrou op die Drie-enige God – Hy is standvastig en betroubaar en werk moeiteloos om sy plan in jou lewe te vervul.

Gebed

Drie-enige God, dankie dat U ten volle in elke aspek van my lewe werksaam is. Dankie, Vader, vir u plan van genade; dankie, Jesus, dat U my Verlosser en Raadsman is; en bowenal dankie, Heilige Gees, dat U my lei, bewaar en krag gee. Help my om in geloof te wandel en my lewe aan U toe te wy. Amen.

About this Plan

DIE ROOI TOU: 'n verhaal van redding en hoop

Stap saam op 'n reis van 40 dae, waar die rooi draad van genade jou lei van Ragab se venster in Jerigo tot by die kruis op Golgota. Hierdie 40-dae plan onthul hoe God se genade geen grense het nie, en hoe geloof en gehoorsaamheid 'n hele nuwe bestemming kan skep.

More