YouVersion Logo
Search Icon

DIE ROOI TOU: 'n verhaal van redding en hoopSample

DIE ROOI TOU: 'n verhaal van redding en hoop

DAY 2 OF 40

God se doel met die intog in Kanaän

Die verhaal van Josua en die val van Jerigo is nie net nog ‘n historiese verslag van ‘n groot oorwinning nie, maar ‘n sleutelelement in God se groter plan vir sy volk. Dit is die vervulling van ‘n belofte wat Hy eeue tevore aan Abraham bekend gemaak het – dat sy nageslag die land Kanaän sou besit.

Hierdie intog was meer as ‘n militêre oorwinning; dit was die begin van ‘n nuwe seisoen waarin God sy verbond met Israel bevestig en sy almag aan die nasies demonstreer. Die Kanaäniete, die inwoners van hierdie land, was berug vir hul afgodery en immorele praktyke.

Hul kulturele en godsdienstige gebruike, soos die offer van kinders asook tempelprostitusie, was ‘n direkte veragting van die heiligheid van God. Deur die Israeliete opdrag te gee om Kanaän binne te gaan, het God nie net sy volk gelei om die Beloofde Land in besit te neem nie, maar ook sy regverdige oordeel oor hierdie nasies gebring.

Die eerste vesting wat Israel moes inneem was Jerigo, 'n stad geleë aan die hedendaagse Wesbank. Argeologiese opgrawings bevestig Jerigo se lang geskiedenis as een van die vroegste nedersettings ter wêreld, wat dateer reeds eeue v.C. Die val van Jerigo was ‘n wonderwerk wat God se krag en grootsheid beklemtoon het. Die reuse stadsmure het ineengestort toe die Israeliete, volgens God se opdrag, sewe dae lank rondom die stad getrek en die ramshorings geblaas het.

Dit was ‘n oorwinning deur geloof, vertroue en gehoorsaamheid en nie deur menslike strategie of krag nie. God nooi elkeen van ons uit om ons eie lewens onvoorwaardelik aan sy plan te onderwerp net soos Josua die inname van Jerigo aan God oorgegee het.

Soms lyk die struikelblokke in ons lewens soos oorweldigende stadsmure, maar die verhaal van Jerigo laat ons weereens besef dat God, wanneer ons op Hom vertrou, mure kan laat val en ‘n pad vorentoe kan gelykmaak.

God se groot plan is nie net tot die Israeliete beperk nie, maar dit sluit jou ook in. Wanneer jy, soos Ragab, kies om jou vertroue volkome op Hom te plaas, word jy deel van God se groter verhaal. Al lyk jou omstandighede ook hoe onmoontlik, God is getrou om sy beloftes na te kom. Jy moet net gehoorsaam wees en sy stem volg, al verstaan jy nie altyd die verloop of eindbestemming daarvan nie.

Gebed

Here, U is die een wat mure kan afbreek en beloftes vervul. Dankie dat U my uitnooi om deel van u groot plan te wees. Help my om, soos Josua en die Israeliete, gehoorsaam aan u opdragte te wees en met volle vertroue vooruit te leef, selfs wanneer ons struikelblokke in die gesig staar. Laat my lewe u grootsheid weerspieël en mag u wil in my en deur my geskied. Amen.

About this Plan

DIE ROOI TOU: 'n verhaal van redding en hoop

Stap saam op 'n reis van 40 dae, waar die rooi draad van genade jou lei van Ragab se venster in Jerigo tot by die kruis op Golgota. Hierdie 40-dae plan onthul hoe God se genade geen grense het nie, en hoe geloof en gehoorsaamheid 'n hele nuwe bestemming kan skep.

More