YouVersion Logo
Search Icon

kykNET Lydenstydgids 2025: In die Skadu van GetsemaneSample

kykNET Lydenstydgids 2025: In die Skadu van Getsemane

DAY 9 OF 41

… volg Hom

Jesus het uit die stad gegaan na die Olyfberg, soos Hy gewoond was om te doen. En die dissipels het Hom gevolg.Lukas 22:39b

Jesus het die gewoonte gehad om eenkant te kom en Homself af te sonder. Hy nooi sy volgelinge om dieselfde te doen. Hy weet dat hulle dit nodig het, en daar is geen twyfel by Hom dat hulle dit sal kan doen nie. Hy sê: "Kom julle nou self eenkant toe na ’n stil plek en skep ’n bietjie asem.Markus 6:31.

Maar Jesus se uitnodiging dring nie tot hulle deur nie. Hulle fokus op alles wat gedoen moet word, almal wat gehelp moet word, alles wat in duie gaan stort as hulle nou onttrek om stil te word. Hulle geniet dit selfs om besig te wees, om die adrenalien te voel pomp, en hulle vertel vir Jesus van alles wat gebeur asof Hy nie reeds weet nie (Markus 6:30). Tot Jesus hulle later tot stilstand dwing.

Doen Jesus dit nie ook met ons nie? As ons nie tot stilstand kom nie word ons siek, of val ons lewens uitmekaar, tot ons uiteindelik tot stilstand gedwing word. Ons kan nie sonder afgesonderheid lewe nie.

Afgesonderheid – die plek van alleenwees, die verlate plek, die binnekamer, die berg, die woestyn – is ‘n plek waar jy alleen is met Hom. Die plek waar jy jouself afsny van alle uiterlike stimulasie – sosiale interaksie, televisie, telefoon, inligting, ens. Die stilword begin uiterlik om binne stilte te kan kry.

Die plek (van stilte) is soos ‘n houer wat ons help om tot stilstand te kom sodat die (innerlike) water van ons bewussyn tot bedaring kan kom. Dit is iets wat aangeleer moet word. Dawid sê dat hy geleer het om sy siel (sy innerlike wêreld) tot bedaring te bring (Psalm 131:2). ‘n Kerkvader het gesê: as die onstuimige modderwater van ons bewussyn stil word, sak die modder af en alles word vir ons duidelik. Jy sien jouself en die weerkaatsing van die hemel in die helder poel. Dit is al hoe ons in kontak met onsself kan kom, teenwoordig kan word en by Hom kan wees.

Oefening

  • Kry ‘n plek en los alles om net vir 10 minute alleen te wees. So goed as wat jy kan.
  • Dink na oor jou ervaring sonder om dit te beoordeel. Neem net waar wat in jou gebeur het.
  • Waarheen het jou gedagtes gegaan?
  • Waaroor het jy gedink? (Wat jy moet doen? Wat gebeur het?)
  • Wat is die aard van jou gedagtes? (Bekommernis? Beplanning? Dagdroom? Fantasie?)
  • Wat het jy probeer doen met die gedagtes? (Niks? Nie agterkom terwyl jy gedink het nie? Veg? Vervang?)

Deel nou met Hom wat jy oor jou ervaring dink en voel.

Gebed: Ek vra vir ‘n diep bewussyn van u liefde en werk in my lewe.

Scripture