YouVersion Logo
Search Icon

kykNET Lydenstydgids 2025: In die Skadu van GetsemaneSample

kykNET Lydenstydgids 2025: In die Skadu van Getsemane

DAY 12 OF 41

Drink die Beker

Kan jy die beker drink?
Drink, nie aanskou of ontleed nie,
oordink of ondersoek –
vanaf 'n afstand.
Maar drink – insluk, inneem,
sodat dit 'n deel van jou innerlike self word.
En nie versigtige klein slukkies
wat skaars jou lippe natmaak nie,
maar met oordadige teue
wat by jou ken afdrup tot op jou bors.
(Vergeet ordentlikheid – dit sal aanstoot gee.)

Kan jy die beker drink?
Die beker van verwerping en teenstand,
verraad en spyt.
Soos asyn en gal,
onwelriekend en suur,
wat jou laat ril en terugdeins.
Maar nie net dit nie – want die beker is bedrieglik diep –
hoop en vreugde is ook daarin,
soos opwindende sjampanje met borrels
wat jou neus kielie om Oujaarsaand,
en verbygaande oomblikke van amper– amper – pure ekstase
wat so lank aanhou soos 'n oogknip, of 'n sjampanjeborrel,
maar geheimsinnig bevredig en versterk.

Kan jy die beker drink?
Ja, jy — met jou gebrek aan selfvertroue,
sigbaar en onsigbaar.
Jy met die twyfel wat aan jou knaag
en dié wat jou met een groot hap verorber.
Jy met jou voortvarende begin en jeugdige uitbarstings van liefde en toewyding.
Jy wat te gou moed opgee – of te laat – en te krities is oor jouself.
Jy met jou "Ja, maars" en "Ek is jammers" – al weer.
Ja, jy – maar met MY genade.

Kan jy die beker drink?

KAN ek die beker drink?

Ja.

Scott Surrency, O.F.M. Cap. (2015)

(Vrye vertaling na Afrikaans)

Die beker

“Toe die ete klaar was, het Jesus opgestaan en oudergewoonte weer na die Olyfberg toe gestap. So ook sy dissipels. Daar aangekom, sê Hy vir hulle: “Julle moet ernstig bid dat julle nie in die versoeking beland en teen God sondig nie.” Jesus het toe ’n ent van hulle af weggestap, omtrent so ver as wat ’n mens met ’n klip kan gooi. Daar het Hy op sy knieë neergeval en begin bid: “My Vader, kan U nie asseblief u planne verander sodat Ek nie meer die pad wat vir My voorlê, hoef te loop nie? Is daar nie dalk ’n ander uitweg nie? Maar Ek probeer nie nou self allerhande planne maak nie. Maak U die planne! Ek val daarby in.” Terwyl Jesus nog bid, het ’n engel daar na Hom toe gekom om Hom krag te gee vir alles wat op Hom gewag het. Jesus was nou in ’n geweldige stryd gewikkel. Hy het so ernstig gebid dat Hy later papnat van die sweet was. Dit het soos bloeddruppels van Hom afgeloop en op die grond geval. Toe Jesus klaar gebid het, het Hy opgestaan en teruggestap na sy dissipels toe. Hulle almal was vas aan die slaap. ’n Paar van hulle het ’n rukkie vantevore met trane in die oë aan die slaap geraak toe hulle sien hoe swaar Jesus kry. Hy sê toe vir hulle: “Word wakker! Dis nie nou die tyd om te lê en slaap nie. Julle moet nou bid dat julle nie voor die sonde swig nie.” Lukas 22:39-46(Die Boodskap)

Voltooi die volgende sin: “Die lewe is vir my soos …”

Soos wat? Soos 'n stryd, 'n oorlog, ‘n geveg, 'n reis, 'n riller … soos wat is dit vir jou? Ons het almal simbole, beelde, metafore, waarmee ons leef.

Is jy bewus van wat die beelde is waarmee jy leef? Dit is baie belangrik om daarmee in kontak te kom want dit gee ons woorde vir hoe ons die lewe ervaar, ‘n bril waardeur ons na die lewe kyk. As jy sê: “Die lewe is ‘n stryd,” gaan jy alles wat met jou gebeur interpreteer as ervaringe van stryd.

Jesus het geweet wat die simbole is waarmee Hy leef en Hy deel dit met ons. Een van die simbole is 'n beker. Die metafoor is dat die lewe soos 'n beker is wat aan jou gegee is. Daardie beker is gevul en moet gedrink word.

Hierdie week reis ons met die Jesus wat kyk na die beker van sy eie lewe. Hy neem daardie beker van sy lewe en Hy drink dit. Hy nooi ons om Hom te volg en saam met Hom te kyk na die beker, dit te neem en te drink. Nie net sy beker nie, maar ook die beker van ons eie lewe.

Gebed: Ek vra vir ‘n diep bewussyn van u liefde en werk in my lewe.

Scripture