YouVersion Logo
Search Icon

kykNET Lydenstydgids 2025: In die Skadu van GetsemaneSample

kykNET Lydenstydgids 2025: In die Skadu van Getsemane

DAY 14 OF 41

Die Beker van die Dood

Vader, as U tog maar hierdie beker van My wil wegneem! Laat nogtans nie my wil nie, maar U wil geskied! En 'n engel uit die hemel het aan Hom verskyn en Hom versterk. En toe Hy in 'n sware stryd kom, het Hy met groter inspanning gebid, en sy sweet het geword soos bloeddruppels wat op die grond val. Lukas 22:42-44

Wanneer Jesus bloed sweet in die tuin en sy Vader smeek om hom te spaar daarvan om “die beker te drink”, het Hy ‘n keuse. Die keuse is nie om goddelike krag aan te roep om sy lewe te spaar nie. Die keuse is eerder: “Hoe sal ek sterf?”

Natuurlik weet ons watter besluit Jesus geneem het en op watter manier Hy gesterf het. In die aangesig van die dood het Hy die pad van vergifnis, liefde en genade gekies. Hy gee ‘n voorbeeld van die besluit wat ons elkeen sal neem aan die einde van ons lewe.

Ons kultuur staar selde die realiteit van die dood in die gesig. Ons distansieer ons eerder. Ten spyte van al die dood en geweld rondom ons, het min van ons al iemand se dood aanskou of 'n dooie liggaam aangeraak om die "leweloosheid" van die dood te ervaar. Mense sterf selde by die huis en begrafnisondernemings neem die liggaam van 'n geliefde redelik vinnig en balsem dit, sit grimering op die gesig en hande, trek dit aan en lê die lyk uit asof die persoon net slaap. Dit maak dit vir ons moeiliker om die beker van die dood vas te hou en daarvan te drink.

Ignatius het ‘n oefening voorgestel om in kontak te kom met die kortstondigheid van die lewe: As jy vanaf jou sterfbed sou terugkyk op hierdie huidige oomblik van jou lewe, wat wens jy het jy anders gedoen? Wat maak vir jou saak op die langtermyn? Hoe sou jy anders wou leef?

Gebed: Ek vra vir ‘n diep bewussyn van u liefde en werk in my lewe.

Scripture