YouVersion Logo
Search Icon

kykNET Lydenstydgids 2025: In die Skadu van GetsemaneSample

kykNET Lydenstydgids 2025: In die Skadu van Getsemane

DAY 13 OF 41

Die Beker van Eensaamheid

Vader, as U tog maar hierdie beker van My wil wegneem! Laat nogtans nie my wil nie, maar U wil geskied! En 'n engel uit die hemel het aan Hom verskyn en Hom versterk. En toe Hy in 'n sware stryd kom, het Hy met groter inspanning gebid, en sy sweet het geword soos bloeddruppels wat op die grond val. Lukas 22:42-44

Die beker wat Jesus moes drink is baie dinge, maar dit is eerstens oorhandiging van Jesus tot die donkerste plek van die menslike bestaan: verwerping, eensaamheid, vernedering en hulpeloosheid.

Een van my gunsteling geestelike skrywers, Henri Nouwen, skryf in een van sy boeke oor die verlies van sy ma. ‘n Vrou van geloof, liefde en deernis — sy het haar lewe lank met God gewandel. Hy skryf oor haar laaste oomblikke voor haar dood en die storie het my aangegryp.

Hy vertel hoe sy omring was deur vriende en familie, haar geliefdes, en met moderne medisyne moes sy, met ons begrip, sonder enige pyn of wroeging sterf. Maar hy skryf oor haar innerlike worsteling. ‘n Sielewroeging. Nie omdat sy pyn gehad het nie, maar omdat sy verlate gevoel het. Gevoel het asof die God aan wie sy haar lewe toegewy het, haar verlaat het.

Haar laaste oomblikke was gevul met twyfel, angs, hartseer, eensaamheid. Die vertroosting, hoop, liefde en vrede van God wat sy haar lewe lank geken het, het vir haar gevoel asof dit nie bestaan nie. In daardie oomblikke, toe sy God se teenwoordigheid die nodigste gehad het, het sy gevoel asof Hy nie bestaan nie. Nouwen het op ‘n plek gekom waar hy self vra: Hoekom, Here? Waar is U? Hoe kan U wegkruip vir iemand wat U so liefhet en nog altyd volg? Hoe kan U haar verlaat?

Die antwoord het later na hom gekom. Sy ma het gebid om soos Jesus te leef en soos Jesus te sterf. Maak dit dan nie sin dat sy, soos Jesus, die beker van eensaamheid moes drink nie?

In my gemors, eensaamheid, wegdraai van u
Kom ek met my gebroke bewustheid en keer terug
Eensame Jesus,
Deel my smart, verlatenheid, my stof.
Koos van der Merwe

Gebed: Ek vra vir ‘n diep bewussyn van u liefde en werk in my lewe.

Scripture