YouVersion Logo
Search Icon

kykNET Lydenstydgids 2025: In die Skadu van GetsemaneSample

kykNET Lydenstydgids 2025: In die Skadu van Getsemane

DAY 30 OF 41

Ons eie hande

Toe dié wat saam met Jesus was, sien wat gaan gebeur, vra hulle: “Here, moet ons hulle met die swaard aanval?” Een van hulle slaan toe na die slaaf van die hoëpriester en kap sy regteroor af. Maar Jesus sê: “Hou op daarmee!” Daarna het Hy die oor aangeraak en hom genees. Lukas 22:49-51

Hulle vra of hulle met die swaard moet aanval. Óf Jesus het nie geantwoord nie óf Hy het gesê, nee! Maar nogtans pluk een die swaard en kap die wag se oor af. Jesus sê: “Hou op daarmee!” Daarna het Hy die oor aangeraak en hom genees.

Is dit nie so dat ons soms vir die Here vra wat ons moet doen en dan steeds ons lewe en omstandighede in ons eie hande neem nie? Ons dink dikwels ons weet beter vir ons lewe en neem ons eie lewe in ons hande met die hoop dat alles tog sal uitwerk.

In die woorde van C.S. Lewis – “Gee jouself oor, dan sal jy jou ware self vind. As jy jou lewe verloor, sal jy dit red. Onderwerp jouself daagliks aan die dood van jou ambisies en wense en uiteindelik die dood van jou hele liggaam: onderwerp jouself met elke deeltjie van jou wese en jy sal die ewige lewe vind. Hou niks terug nie. Niks wat jy nie weggegee het, sal ooit regtig joune wees nie. Niks in jou wat nie gesterf het, sal ooit lewend gemaak word nie. As jy na jouself kyk, sal jy net mettertyd haat, eensaamheid, wanhoop, woede, vernietiging en verval sien. Wanneer jy egter na Christus kyk, sal jy Hom vind en alles wat daarmee gepaard gaan.”

Ons wil dikwels ons lewens en besluite in ons eie hande neem en net nou en dan die Here raadpleeg as ons bietjie vashaak. Die uitnodiging is juis om ons lewe in sy hande te plaas sodat ons binne sy lewe, ons lewe kan ontdek. Paulus sê: "Ek het my lewe afgelê om die lewe saam met Christus te leef."

Oefening

  • Vra Hom om jou bewus te maak van dit wat jy in jou eie hande neem en jou te help om sy wil te sien.
  • Wat is die drome en ideale wat jy vir jouself het?
  • Hoe pas dit in die Here se wil?

Gebed: Ek vra vir ‘n diep bewussyn van u liefde en werk in my lewe.

Scripture